News

Middelburg se Khanya Venter gekroon – Bruid van die Jaar 2025

Spieëltjie spieëtjie aan die wand, wie is die mooiste bruid in die land?

Dié plat-op-die-aarde bruidjie het behoorlik die Bosveld en buitelug van Botswana benut tydens hulle huweliksbevestiging in April 2025.

Khanya en Heino Venter het op 12 April 2025 onder die goudgeel son van Botswana getrou.

Foto: Mighty Fine.

Kort daarna het sy vir Bruidsgids se Bruid van die Jaar 2025 ingeskryf en pas die nuus ontvang dat hulle die gesogte titel gewen het!

Met haar sprankelende persoonlikheid en lekker lagsessies kan selfs ‘n blindemol sien waarom Heino op haar verlief geraak het.

Foto: Mighty Fine.

Khanya het in 2025 vanaf die Vaaldriehoek na Middelburg verhuis. Sy is nie net beeldskoon nie, maar het ‘n brein vir syfers. Sy het haar (CA)(SA) graad as Geoktrooieerde Rekenmeester by die Noordwes-universiteit in Potchefstroom behaal en voltooi tans haar klerkskap by Deloitte.

Heino is ook ‘n gebore en getoë oud-Vaaldriehoeker en werk deesdae as metallurgiese ingenieur by Columbus Stainless.

Die bekende Bruidsgids & Wedding Guide: Bruid van die Jaar, 2025 is op 9 April 2026 aangekondig. Dit is Suid-Afrika se ‘go-to’ bruidsgids, waarvoor honderde bruide jaarliks inskryf.

Foto: Mighty Fine.

Die prentjiemooi troue het by Palala Boutique Game Lodge en Spa, op die grens van Suid-Afrika en Botswana soos ‘n luukse Afrika-droom afgespeel.

“Botswana was sommer net ‘n klippie-gooi ver!” vertel sy.

Foto: Mighty Fine.

Die kerk se magiese ystervenster het op ‘n 60-jarige Kremetartboom oopgemaak. ‘n Eiland in die middel van die rivier, tussen die twee aangrensende lande, het die Afrika-atmosfeer vasgevang.

“Die saal was dié mooiste ooit! Vyfster gehalte, reg in die middel van ‘n Bosveld milieu,” sê Khanya se trotse ma, Ruzanne.

“Ons het hierdie troue saam met elke gas beleef as magies, tasbaar, heilig en nederig.”

Foto: Mighty Fine.

Gaste was reeds dae voor die bruilof by dié paradys, om ten volle die bos te benut.

Van pamperlangsessies, topgehalte sewe-gang maaltye om kerslig tot ‘n sonsondergang-wildsrit, kon die liefde, romanse en geloof gevoel word. Dit was gevolg met ‘n seremonie wat die betekenis van die woord, ‘vrede’ ten volle omskryf.

Foto: Mighty Fine.

Khanya was op die dag ‘n beeld van kalmte en suiwer skoonheid. “Sy het die heeldag gestraal. Hoendervleis-mooi!” sê ma Ruzanne.

Foto: Mighty Fine.

Heino vertel: “Die mooiste oomblik was toe ek haar by die paadjie sien aankom het. Alles om my het net stil geword… Dit was asof die hele wêreld vir ‘n paar sekondes opgehou beweeg het, en dáár was net Khanya.”

“Haar glimlag, daai oë… op daardie oomblik het ek net geweet, dit is die res van my lewe en ek kan nie wag om dit saam met haar te doen nie!”

Foto: Mighty Fine.

Vir vriende en familie was dit sowaar ‘n asemrowende Afrika-fees.

Khanya Venter is eenvoudig die mooiste bruid in die land!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Check Also
Close
Back to top button