Binne ure verlam deur verraderlike siekte
"As jy deur iets soos hierdie siekte getref word, besef jy ons as mense is uitgelewer"
Hennelie gaan huis toe!
Die vrou wat in Januarie deur die verraderlike Guillain-Baré-sindroom verlam gelaat is, Hennelie Gericke (59), verlaat vandag die fasiliteit waar sy die laaste byna vier maande geveg het, om al haar lewensfunksies te herwin.
Tydens ’n gala-aand ’n paar jaar gelede, waar ek die gasspreker was, het ek as ysbreker aan haar die “Super Taxi Ma-toekenning oorhandig”.
Dit was verstommend om te sien hoe sorg sy dat haar vyf woelige kinders Stephanie, Joubert, Hybré, Pierre en Hennelie, by sport en kultuur byeenkomste uitkom.
Die vyf was so woelig dat hulle waarskynlik ’n rooftog voorkom het.
’n Groep rowers het een middag by die gesin se huis in Hospitaalstraat op Middelburg met ’n rooi Avanza ingery. Hulle het gestop en die gesin se huishulp uitgevra.
Op daardie stadium was Hennelie besig om die vyf woelwaters uit die kar te probeer kry, om reg te maak vir die volgende jaagtog.
’n Prentjie wat die rowers laat besluit het om ’n ander teiken te soek.
Dr. John Hofmeyr is oomblikke later in sy Eeufeesstraat huis aangerand en beroof.
Daarom was dit ’n groot skok toe hierdie super ma op 17 Januarie 2026 in die Zuid-Afrikaanse Hospitaal opgeneem is, nadat sy die oggend gekla het dat haar bene “dom” voel. Sy het ook gesukkel om haar selfoon vas te hou.
Toe sy die gesin se karre die oggend uit die garage trek, het sy gekla dat sy nie krag in haar bene het nie.
Haar man, sportsielkundige dr Henning Gericke, moes Johannesburg toe waar hy die Kaizer Chiefs sokkerspan help en Pierre, haar seun, het sy ma na die ongevalle afdeling van die Zuid-Afrikaanse Hospitaal geneem. (Die gesin woon die laaste klompie jare in Pretoria).
’n Paar ure later was sy heeltemal verlam.
Die gesin het in 1975, vyftig jaar gelede, deur diep waters gegaan toe Hennelie se suster, Marika (6), wat ’n jaar jonger as sy is, ook met Guillain-Baré-sindroom gediagnoseer is in Augustus daardie jaar, terwyl sy in graad een aan Laerskool Middelburg was. Sy het so vinnig verswak, dat ’n insnyding in haar keel gedoen moes word. Sy het egter later heeltemal herstel.
En nou veg Hennelie met elke greintjie krag om ook die siekte te oorwin
Net soos sy gedoen het toe sy een na die ander middelafstand rekord laat spat het by Hoërskool Middelburg. Haar pa, Leon, was ’n geliefde dokter op Middelburg en het haar afgerig.
“Ons het besluit om dit anders te beskou. Die G staan in my gedagtes vir God, wat altyd in beheer van alles is. As jy deur iets soos hierdie siekte getref word, besef jy ons as mense is uitgelewer, maar God is in beheer,” sê dr Gericke.
In gesprekke is dit duidelik dat sy vrou se siekte ’n diep geestelike verdieping in hom teweeg gebring het.
En daar is alreeds een groot oorwinning; die virus het nie by haar longe uitgekom nie.
Dr Gericke het gisteraand gesê “al het sy beweging in haar bolyf en kan haar arms beweeg, het sy nog hulp nodig, maar daar is goeie beweging wat terugkom. Ons glo en bid en het goeie ondersteuning. Vir die rehabilitasie sit ons haar baie in die swembad.”
’n Geneesheer het vir die gesin gesê Guillain-Baré staan eintlik vir Gaan Beter Word.
Daar wag nog ’n lang proses om hierdie outo-immuun siekte te oorwin.
Hierdie super ma is besig om met ’n glimlag op haar gesig te baklei…uur vir uur…dag vir dag…
En soos dr. Gericke sê “sy het soveel vir ons gesin gebied, nou kan ons daar wees vir haar.”
Maar wat is Guillain-Barré-sindroom (GBS)?
Dit is ’n ernstige neurologiese afwyking waarin die liggaam se eie immuunstelsel per abuis die perifere senuweestelsel aanval. Dit lei tot spierswakheid, gevoelloosheid en kan vinnig tot verlamming vorder. Die immuunstelsel val die die beskermende laag van die senuwees aan.
Dit verhoed dat senuwees seine doeltreffend na die spiere stuur.
Simptome
Vinnige spierswakheid: Dit begin gewoonlik in die bene en voete en versprei dikwels opwaarts na die arms en bolyf.
Tintelings of gevoelloosheid: Dit begin in die tone of vingers.
Pyn: Spierpyn of erge pyn in die rug of bene.
Verlamming: In ernstige gevalle kan dit lei tot tydelike verlamming, insluitend die spiere wat nodig is vir asemhaling.
Probleme met spraak, sluk of oogbeweging.
Oorsake en snellers
Die presiese oorsaak is onbekend, maar dit word dikwels voorafgegaan deur ’n infeksie, soos ’n respiratoriese siekte (griep) of gastro-enteritis (maaggriep).
Dit is nie aansteeklik nie.
