Die gewilde oud bevelvoerder van die honde-eenheid op Middelburg, luitenant kolonel Jakes (Mynhardt) Jacobsz, is gisteroggend in Pretoria oorlede, nadat hy Dinsdag ’n hartaanval gehad het. Hy sou op 25 Mei sy 66ste verjaardag gevier het.
Die volgende dag het hy die hartaanval gehad
Sy vrou, Eurika, wat net drie maande jonger is, sê hulle het nog Maandag saam in die tuin met die plantjies gewoel en die volgende dag het hy die hartaanval gehad.
Hy is na die Montana en later na Unitas hospitale geneem vir behandeling, maar die gesin is in die vroeë oggendure Woensdag in kennis gestel dat hulle niks meer vir hom kan doen nie.
“Die personeel by albei hierdie hospitale was fantasties.”
Sy sê haar man het voetspore gelos, wat nagevolg kan word.
“Mens dink jy word nie raakgesien nie, maar daar is soveel mense waarmee ons jare laas gepraat het wat my kontak. Dit gaan ’n massiewe gemis wees.”

Die egpaar ken mekaar al vandat hulle 16 jaar oud is.
Terwyl hulle saam in die klas was by Hoërskool Ermelo, het ’n onderwyser eendag, terwyl hulle gestry het, gesê “julle twee gaan nog eendag trou”.
“Ons het in 1976 begin uitgaan en is in 1981 getroud.”
Aftrede
Luitenant kolonel Jacobsz het in 2020, in Covidtyd, na 42 jaar diens afgetree.
“Dit was ’n moeilike tyd want ons kon nie vir hom ’n behoorlike afskeid reël nie. Ek het maar dat Dina-Marie Steenkamp kospakkies opmaak, wat ons aan sy personeel uitgedeel het op sy laaste dag.”
Bond van Oudpolisiemanne
Eurika self was kolonel Riaan Koegelenberg se sekretaresse voordat sy na die springstof-eenheid is. Sy het ’n jaar na haar man afgetree en hulle het na Pretoria verhuis, waar hulle lid geword het van die Bond van Oudpolisiemanne. Oud provinsiale kapelaan Nikki Rothmann is ook by die Bond betrokke.
“Ek weet hy behoort aan God”
“Jou lewe flits in sulke tye by jou verby. Dit was nie maklik om met ’n polisieman getroud te wees nie, maar ons het uit die slegte tye gegroei. Jakes was net aan my geleen, ek weet hy behoort aan God.”
Omdat dit ’n langnaweek is sal die begrafnis eers volgende naweek plaasvind.
- Reëlings sal op die Middelburg Observer webblad gepubliseer word.
