News

Middelburg Geskiedenis – 11 MEI

Ds Alewyn Burger

Op 10 Mei 1853 word Alewyn Petrus Burger in Montagu in die Kaap Kolonie gebore. ’n Ware baanbreker wat ’n reuse rol in die geskiedenis van Middelburg, in die Zuid-Afrikaanse Republiek en daarna in die Transvaal Kolonie sou vervul.

Burger was die oudste seun van ’n graanboer, Alwyn Petrus Burger en sy vrou, Catharina Margaretha van Zijl. Sy vernaamste skoolopleiding geniet hy op Montagu van verskeie matrose wat as kwasi-onderwysers, in Engels, aan die plaasskool onderrig gee. Onder aanmoediging van die plaaslike predikant, ds. Servaas Hofmeyr, gaan hy na die Victoria Kollege in Stellenbosch vir opleiding aan die Kweekskool as predikant. In die amp sou hy medegrondlegger van dié kerk in hierdié gebied word, maar sou ook saam met sy eggenote Janie (1863-1932) reuse werk doen vir armsorg in Middelburg na die Anglo-Boereoorlog en die arm gemeenskap by Mapochsgronde, Laersdrif. Sy dryfkrag om onderwys in Middelburg te vestig, was ook ongeëwenaard.

Foto 1: Alewyn Petrus Burger as Student aan die Gimnasium en dan aan die Kweekskool (Seminarium) (Foto: Burger Argief)

Ds Burger se koms na Middelburg

In sy finale jaar aan die Kweekskool het die proponente versoek dat hy dit oorweeg om in die noorde te arbei. Hy en proponent JW Meyer aanvaar die uitdaging. Hulle reis per skip na Durban, van daar na Pietermaritzburg waar hy verskeie van die Voortrekker families uit die Groot Trek ontmoet. Hulle reis daarna per trein tot by die trein-terminus by Howick. Van Howick reis hulle per poskar na Ladysmith en vandaar na Utrecht, waar ouderlinge van Ermelo proponent Burger kom haal. Ouderling Piet de Jager van Nazareth is gestuur om hom op Ermelo te gaan haal.

Op 4 Januarie 1884 bereik hulle Rietfontein buite Middelburg, waar ’n stoet van perdekarre en ruiters, onder leiding van Landdros J Human, hulle inwag vir ’n intog in Middelburg in! Hy loseer by die egpaar Paul Maré, omdat daar nog geen pastorie was nie. Onder voorsitterskap van ds. HJ Neethling van Lydenburg, word proponent Burger nou amptelik beroep as leraar van Nazareth. Sy nuwe gemeente sluit ook Bethal en Ermelo in. Hy tree ook op as konsulent vir Lydenburg-gemeente.

Foto 2: Alewyn Petrus Burger se brief van neutralisasie van Kaapse Burger na ZAR Burger (Foto: Burger Argief)

Huisbesoeke

Dit is van die nuwe dominee verwag om huisbesoek te doen en dienste in die ander gemeenskappe in die gemeente waar te neem. So reis ds. Burger na Lydenburg (Mashishing) te perd en moes deur twee vol riviere swem. Hy arriveer papnat en sonder enige droë klere vir ’n diens. Hy leen toe maar ‘n Sondagpak van die heer Palferman, wat 30 cm langer as hy was, vir die diens – dit moes ’n gesig gewees het om die waardige jong dominee met ’n oor-groot pak klere wat om sy enkels en oor sy hande gehang het, op die kansel te sien!

Hy reis verder deur die Komatirivier waar die perdekar met al die bagasie onderdompel is in die vloedwater! Hy loop toe maar na die bouvallige huisie van ’n Joubert – waar al kledingstuk ’n onderrok van die ou dame was om as slaap jurk te dien, terwyl sy klere droog word.

Hy moes ook per ossewa van Middelburg na Pietersburg (Polokwane) reis om Nagmaal te gaan bedien, ’n reis wat ten minste agt dae teen vyf km/uur!

Foto 3: Nederduits Gereformeerde Kerk Middelburg met Ds Burger se Pastorie links sigbaar (Foto: Burger Argief – Foto KI Gerestoureer)

Huwelik

Op 3 Desember 1884 tree hy in Pretoria in die huwelik met Adriana Petronella Gertruida (Janie) Boshoff, dogter van die tesourier-generaal van die Zuid-Afrikaanse Republiek en kleindogter van JN Boshoff, die voormalige President van die Vrystaat. Die huwelik word onder meer bygewoon deur pres Paul Kruger en generaal Piet Joubert. Hulle sou die pastoriepaar op Middelburg wees vir die 45 jaar van sy bediening en daarna steeds aktief in die dorp tot sy in 1932 oorlede is en in die Ou Begraafplaas begrawe is.

Foto 4: Alewyn en Janie Burger op hul troudag – hy was 31 sy 21 (Foto: Burger Argief)
Foto 5: Burger Gesin net na hul terugkeer uit die Howick Konsentrasiekamp en ds Burger se terugkeer uit Indië (Foto: Burger Argief)
Agter: Alewyn; ds Alewyn Burger; Lenie; Kowie; mev Janie Burger
Voor: Maggie; Attie; Dawid
Foto 6: Mev Janie Burger en Ds Alewyn Burger (Foto: (Burger, 1936) – Foto KI Gekleur)
foto 7: “Hardeville” – die Pastorie van die Witkerk in Walter Sisulu Straat (Foto: Burger Argief – KI Gekleur)

Kerkvereniging … en stryd

In 1885 verenig die Nederduits Hervormde Kerk – ten tye die Staatskerk van die ZAR en die Nederduits Gereformeerde Kerk as die sogenaamde Verenigde Kerk of amptelik die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk. Ook in Middelburg smelt die twee kerke saam en word ds. Burger nou die leraar van die nuwe Verenigde Kerk. Die gemeente staan ook nou as Middelburg bekend en nie meer Nazareth nie. Die vereniging was egter maar ‘n groot tameletjie waarmee verskeie gemeentelede nie saamgestem het nie. Dit lei tot verskeie humoristiese en tipies Afrikaner dwarstrekkery! Van die ouderlinge was teen die vereniging gekant en het gemeentelede opgemaak teen die “Verenigde dominee” wat op huisbesoek wou kom. Gemeentelede het ook nie noodwendig die predikant van “die ander kerk” aanvaar nie en vele besware is gelig.

So was daar gevalle waar meer as een predikant teenwoordig was by Nagmaal, en gemeentelede slegs aan die tafel aangesit het as “hulle dominee” daardie tafel se nagmaal bedien. Doopouers het ook sommer hul kind onttrek as die “verkeerde” dominee in die ry afkom om die doop te bedien!

Op huisbesoeke, waar predikante destyds op plase moes oorslaap, is die “ander kerk se predikant” in die buitekamer laat slaap sonder enige iets te ete. Die boervrou wou nie ‘n “ander dominee” onder haar dak slaapplek gee nie.

Daar was selfs ’n voorval waar ’n gewapende groep lidmate hom tegemoet gery het om om te verhinder om “hul” predikant van sy amp te onthef!!

In Middelburg word die sink kerkgeboutjie van die Hervormde Kerk nou verkoop en is die ou Nederduits Gereformeerde Kerk, langs die Biersaal!, gebruik vir die Verenigde Kerk, tot die huidige Witkerk in 1890 ingewy is.

Die samesmelting het egter gou skipbreuk gelei. Verskeie Hervormers eis “hul name terug” van die Verenigde Kerk. Na die hofuitspraak in die Trichardtfontein-saak moes eiendomme van die Hervormde Kerk terug gegee word. In Middelburg was dit ’n probleem want die Hervormde Sink-en-Hout kerkie is aan JG White verkoop, wat dit by sy meule by Witpoort naby Roossenekal opgerig het. Pres Kruger beslis in 1890 dat daar in elke dorp waar die verdeling van eiendom vreedsaam geskied, vier erwe aan elke kerk gegee sal word. So kry die “herstigte” Hervormde Kerk vier erwe in Middelburg, om ’n kerkgebou op te rig, waar die Middelburg Hervormde Kerk gemeente se kerk nou nog staan.

Ds Burger en onderwys

Daar was sedert 1867 verskeie pogings om ’n skool in Middelburg te vestig. Tot 1872 lyk dit of daar slegs godsdiensonderrig gegee is. In 1875 is ’n skoolkommissie wel gestig onder voorsitterskap van die landdros en is die grasdak NG-kerk gebruik. Verskeie gemeentelede kla nou weer hieroor, en die Kerkraad keur die gebruik van die gebou as skool af. Die Hervormde Kerk stel egter hul sink-kerkie beskikbaar. Die skole hik-en-snik maar met volgens verslae, swak onderrig.

Met ds. Burger se aankoms in Middelburg in 1884 word hy as voorsitter van die Skoolkommissie verkies en op 1 Mei 1884 word mnr HF Keet as onderwyser aangestel.

Teen 1893 verkoop die NG-kerk die erf met die ou Grasdak-kerkie en in 1894 word die Ebenhaezer skoolgebou onder die leiding van ds. Burger opgerig. Die skool funksioneer tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog.

Na die Oorlog word die skoolkommissie herstig en funksioneer Ebenhaezer as ’n Christelike Nasionale Skool teenoor die Britse owerheid se Free School (die latere Middelburg Laerskool).

Foto 8: Ebenhaezer Skool (Byskrif korreksie is foutief) (Foto: Rex Hilligan – Epstein Poskaarte

Sy rol tydens die Anglo-Boereoorlog

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) sluit hy hom as veldprediker by die Middelburg-kommando aan. Hy vertrek op 5 Oktober 1899 na Sandspruit, naby Volksrust, waar die boeremagte mobiliseer. Op 7 Oktober slaan die weerlig Manie Mills van Middelburg daar dood, en moet ds. Burger die eerste Middelburger begrawe.

Op 19 Oktober 1899 is hy teenwoordig tydens die slag van Talana, by Dundee. Een van die Middelburgers, J Taute word hier deur die Husare met ’n sabel doodgekap in ’n sy-aanval. In die geveg sneuwel nog verskeie Middelburgers, onder meer Koos Scheepers, terwyl die Engelse sy seun Doris by sy pa se lyk gevange neem. Na die geveg keer di. Burger en Liebenberg na die slagveld terug en versorg van die gewondes en begrawe dan die gesneuwelde burgers, insluitend ses Middelburgers. Hy slaag gelukkig daarin om die Landdros van Dundee, ’‘n skoolmaat van hom, te oortuig om Doris en die ander gevangenes vry te laat.

Ds Burger sit hierdie rol as veldprediker voort by die Kommando’s en trek saam met die Kommando’s eers deur Natal en dan na die ontsetting van Ladysmith, terug na Middelburg. Hy tree ook op as kapelaan vir die verswakkende Kommandant-Generaal Piet Joubert.

Na die val van Pretoria word ds. Burger deur President Kruger na Machadodorp ontbied. Hy tree op as kapelaan vir Kruger in sy spoorwegwa op Machadodorp. Hier ontvang hulle berig oor die groot getalle burgers wat oorgee en maak Kruger sy bekende opmerking teenoor ds. Burger “Ag hoe bedroewend is dit dat my eie mense my versaak, terwyl daar duisende Kolonialers en ander vreemdelinge is wat hulle goed en bloed opoffer vir ons land en volk”.

Ds Burger vlug op 24 Julie 1900 uit Middelburg terug na die Kommando terwyl die Britte Middelburg nader. Hy maak melding van die spioene in die dorp, ou Middelburgers wat oorgegee het aan die vyand en nou as spioene optree. Hy sluit hom weer aan by Pres Kruger, nou op Waterval-Onder en is teenwoordig toe Pres Marthinus Steyn van die Vrystaat met Kruger beraadslaag op Waterval-Onder.

Hy beskryf egter ook verskeie humoristiese voorvalle binne die slagting van die Oorlog. Tydens President Steyn se terugtog na die Vrystaat, word hy op Roossenekal deur die Vrederegter te perd ontvang “in ‘n gelapte velbroek, ’n ou verbleikte en gelapte manel maar op sy kop ’n hoë swart pluiskeil – wat selfs Steyn laat glimlag het, maar tipies is van die swak toestande ten tye onder die Burgers, maar die behoefte om respektabel te wees teenoor die President. So vlug hy in die Guerrilla-fase saam met die Kommando en die Regering. Tydens ‘n skielike aanval jaag hulle weg en sy pakmuil trap mis by ’n sloot en beland bo-op ’n Kakie onder in die sloot, waaroor ds. Burger droogweg opmerk “die arme drommel in die sloot is seker buite geveg gestel, miskien vir altyd, maar my muil het (gelukkig) uitgekom met al my goed”.

Hy word egter in Februarie 1902 gevang, na verraad deur ’n Middelburger wat die Kommando se posisie aan die Britte gaan uitwys het. Hy moet daarna loop vanaf Bothasberg by Stoffberg tot by Pan Stasie. Onder meer sterf “ou vader Beetge” tydens die gevangeneming. Met aankoms in Middelburg moet hulle stap vanaf die stasie na die Dorpsaal (Astra-gebou in Eksteenstraat) waar hulle deur Joiners uitgelag en geïdentifiseer word vir die Britte. Hy beskryf emosioneel hoe hy in die saal gevange gehou word en sy gemeente hoor sing in die Witkerk tydens die Sondag-oggend diens.

Hy word as Krygsgevangene na Indië gestuur, waar hy in Shahjahanpur en in die kamp Bhimtal van die vrugbaarste maande van sy bediening beleef.

Foto 9: Ds. Burger en mede- Middelburg se Krygsgevangenes in Bhimtal, Indië, in 1902. Agter: John Croese, Danie Minnaar, Jan F. Vercueil, ds. Burger en Isaac Minnaar. Voor: Philip Minnaar, Jan Schabort, P.W. de Villiers en Koos Schabort. (Foto: Wikipedia – KI Gekleur)

Versorging na die Oorlog

Met sy terugkeer uit Indië na Middelburg op 4 September 1902 is daar steeds vroue en kinders in die Konsentrasiekamp op Kanonkop. Ds Burger, en Oud-Kommandant Piet Trichard, voormalige kommandant van die Middelburg Kommando, besluit dat die ouerlose kinders van Middelburg ten alle koste in die gemeenskap moet bly en nie soos deur die Britse Owerhede voorgestel, na Irene-kamp gestuur word nie. Hulle leen geld op eie risiko van Standard Bank en koop dadelik ’n groot dubbel-verdieping huis op die Markplein om as Weeshuis te dien. Gedurende die eerste jaar is 92 wesies opgeneem, wat later uitgebrei word met die bou van die Excelda Weeshuis.

Foto 10: Die Weeshuis in Burger Straat – die woning word later deur ds. en mev Burger bewoon (Foto: Burger Argief – KI gerestoureer en gekleur)

Ds Burger word ook aangestel as voorsitter van die Repatriasie-Kommissie wat hulp aan die oorlogslagoffers, veral behoeftige weduwees en families moes verleen. In die rol word aan elke gesin:

  • ’n Koei met ’n kalf;
  • ‘n Paar hoenders;
  • Saad vir 10 akker (4 ha) saailand;
  • Kos vir drie maande;
  • Hout en sink vir ’n klein huisie, word voorsien.
Foto 11: Kinders en personeel op die stoep van die Excelda Weeshuis. Mnr en mev John A Gilfillan (regs) was die huisouers en mej. Bettie du Toit die onderwyseres (Foto: Burger Argief – Foto KI gerestoureer en gekleur)Burger Argief – KI gerestoureer en gekleur)
Foto 12: Excelda Weeshuis (Foto: Epstein Poskaarte)

In 1903 besoek Emily Hobhouse Middelburg en ds. en Janie Burger. Sy voorsien verdere fondse aan ds. Burger vir hulpverlening. Sy vergader met die dames in die sitkamer van die pastorie en word voorgelig oor die ervarings in die konsentrasiekampe. Hy ontvang ook na November 1903 fondse van die Generale Boerenhulp Fonds vir veral hulp aan weduwees.

Hy dien ook as voorsitter van die Commissie voor Armblanken (1906) en verrig belangrike dienste om verarmde landgenote te rehabiliteer en is in dieselfde jaar verantwoordelik vir die stigting van die arbeidskolonie op Delagersdrift (Laersdrif), waar klein plotte aan arm gesinne toegeken is om te bewerk. Hy en sy vrou het ook groot belangstelling in die sending getoon en begin omstreeks 1905 met sendingwerk in Sekhukhuneland. Die eerste sendingstasie wat in die twintigerjare aldaar opgerig word, naamlik Burgerstasie, is na die egpaar genoem.

As gesant van sy kerk reis hy na Duits-Oos-Afrika, waar hy op Arusha in Tanganjika (Tanzanië) in 1905 die NG gemeente Meru stig. Hy is ook een van die stigters van die Raad der Nederduitsch Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika in 1907.


Laaste Jare

In Oktober 1928 aanvaar ds. Burger sy emeritaat na 45 jaar as die Witkerk predikant!. Hy en sy eggenote trek in die woning in wat hy na die oorlog as weeshuis gekoop het. Op 1 Julie 1932 sterf Janie Burger en bly hy alleen agter in die huis. Op 30 Oktober 1937 sterf ook Alewyn Burger, ’n merkwaardige man wat ’n reuse bydrae tot Middelburg, die geestelike versorging voor, tydens en na die Anglo-Boereoorlog gelewer het en ’n maatskaplike versorging gevestig het vir weeskinders, weduwees en die arm blankes van die periode. ’n Baanbreker vir Middelburg!

Ons eer graag sy nagedagtenis.

Foto 13: Die graf van Ds Alewyn Burger in die Ou Begraafplaas Middelburg-Wes (Foto: Theo Ligthelm)
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button