Trots, met ’n goeie rede
Hoërskool Middelburg - die kroonjuweel op ’n platttelandse dorp
Die derby het gekom en gegaan.
Volgende jaar maak ons weer so.
Dit is ’n groot een; HTS Middelburg vier dan sy honderdjarige bestaan.
’n Droom wat die oud hoof van Hoërskool Middelburg, mnr. Johan Stronkhorst, ook gehad het, maar nie hom of die skool beskore was nie.
Nie beskore nie, as gevolg van ’n kortsigtige waarnemende HTS Middelburg hoof en twee wysneus oudleerlinge.
Maar kom ons gaan delf nie in die verlede nie.
Die nuwe leiers by beide skole weet nie eers van dié hartseer geskiedenis nie.
Saterdag se derbydag was ’n oorwinning vir die dorp, Middelburg.
Wat gebeur op Witbank?
Wat gebeur op Nelspruit?
Wie het wat ONS het?
Dit is waarom ONS hier bly.
Vergeet van die derby.
Wat bly agter?
Hoërskool Middelburg het die afgelope week met sy geesvang, die aanbied van die dag en sy fasiliteite, gewys dat hy die kroonjuweel van plattelandse skole is.
Maandagoggend was ’n nuwe week met nuwe uitdagings.
Of jy nou ’n rooi of groen ondersteuner is, die werklikheid is dat daar by Hoërskool Middelburg die afgelope twee jaar iets verrys het, wat ’n magtige dreuning deur die land stuur.
Saterdagoggend het Dickey Davel trots die onthaalsaal vir my gewys met kaggel wat brand, duursame meublement, grootskerm televisiestel, netjiese kroeggedeelte, sitplekke wat oor die veld uitkyk.
Neffens hierdie onthaalsaal het dit gewemel van toeskouers by Die Japie, ’n uitstekende kafeteria met lekker en bekostigbare eetgoed.
Lankal nie meer ’n skoolsnoepie nie, maar gehalte, gehalte, gehalte.
Miskien het die toegangshek alreeds die verhaal vertel van hierdie kroonjuweel. Twee lede van die beheerliggaam het nie met stywe nekke in die onthaalsaal gesit nie, maar gesorg dat alles vlot verloop by die hoofhek waar eregaste ook ingelaat is.
Dit het die dag kommervry gemaak vir besoekers met veilige parkering net om die hoek.
Daar moet ook ’n pluimpie gaan aan Charlene Booyens en die res van die skool se bemarkingspan wat uit hulle pad gegaan het om die media van inligting te voorsien en hulle gelukkige te hou. Ander skole kan by hulle leer.
Wanneer jy van Middelburg praat dink jy aan die plattelandse dorp waar die graansilos in die verte waak.
Danksy Hoërskool Middelburg se personeel, leerlinge, beheerliggaam en die ouergemeenskap, het ’n reus ontwaak.
’n Reus waarop die dorp trots kan wees…of jy nou rooi of groen is…
(Miskien bietjie kritiek. Wat hier aangebied word verdien om op wyer front bemark te word. Skole misluk jammerlik in hulle bemarking deur hulle eie beuel op hulle eie sosiale media blaaie te blaas. Daar waar net die skoolgemeenskap dit sien. Lees HTS Middelburg se ouers Hoërskool Middelburg se plasings en andersom? Nee! Syfers die afgelope week op sosiale media het dit gewys).
