News

Die Week in Middelburg se Geskiedenis – 18 Mei

Middelburg Free School word Middelburg Laerskool

Hierdie skool wat vandag in die sentrale deel van Middelburg staan, het ’n baie ryk geskiedenis, maar met ’n sterk Britse invloed direk na die Anglo-Boereoorlog.

Ontstaan van Onderwys in Middelburg

Gedurende 1864 word die dorp Middelburg, met die ten tye naam Nazareth, gestig. Vir vele jare daarna ontwikkel die dorp baie stadig en is daar aanvanklik geen sprake van onderwys nie. Nazareth was ’n Kerkdorp, onder beheer van die Kerkraad van die Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk Lydenburg (Mashishing). Dit is logies dat die klem ten tye op godsdiensonderrig sou val, eerder as akademiese skoolonderrig. Tydens hierdie periode is meeste kinders tuis onderrig of in die klein wykskole (een-man skole) op plase, en basiese lees en skryf vaardigheid was die mikpunt. In 1867 stig die Nazareth Gemeente af van Lydenburg as ’n selfstandige gemeente en word ’n ouervergadering gehou. Op 5 Oktober 1867 word Jacob Beker as die eerste godsdiensonderwyser aangestel. Hy word kort daarna opgevolg deur ’n mnr Norden. Mnr. Norden besef die noodsaaklikheid van ’n skoollokaal en word die ou grasdak NG kerk in Walter Sisulustraat as skool gebruik.

Foto 1: Erf waar die eerste Ou Grasdakkerkie van die Nederduits Gereformeerde Kerk gestaan het en die eerste skoolonderrig gegee is (Foto: Rudi van Wyk)

Kort hierna word die beleid van staatsondersteunde onderwys aanvaar en word by die Uitvoerende Raad van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR), onder President Thomas Francois Burgers aanbeveel dat ’n mnr. Fischer as onderwyser in Middelburg aangestel word. Dit het ten tye baie beroerd met die ZAR se finansies gegaan en min is bekend oor of, en as wel, hoe lank Fischer in diens was.

Die klomp dwarstrekker lidmate kla egter nou oor die gebruik van die kerk as skool en die skool skuif na die sink-en-hout kerkie van die Hervormde Kerk, wat in Markstraat (OR Tambostraat) gestaan het.

Foto 2: Woonhuis van RG White – die Hout-en sink Hervormde Kerk het net noord van die huis gestaan en is verskuif na mnr White se meule by Witpoort (Foto: Theo Ligthelm)

Op 8 November 1876 word mnr H van der Linden, ’n Nederlandse onderwyser uit Haarlem, as hoofonderwyser vir Middelburg aangestel, met die Hervormde Kerk se geboutjie as skool. Die skool groei nou vinnig na 44 leerlinge teen Mei 1877. Die toename noodsaak die aanstelling van mej. A van der Riet as assistente in die skool. Mnr. Van der Linden skryf ook die eerste stel skoolregulasies vir die ZAR, wat deur die Volksraad goedgekeur is, hier in Middelburg en kan dus as baanbreker in onderwys in die ZAR beskou word.

In 1877 word die ZAR deur Sir Theophilus Shepstone namens Brittanje geannekseer as die Transvaal. Hy besoek die skool in Augustus 1877, met alle verrigtinge wat in Engels plaasgevind het! Die klomp Afrikaans/Hollandse kindertjies, met hul Hollandse onderwyser moes met sy vertrek God Save the Queen vir hom sing – toesprake en sang waarvan hulle waarskynlik bloedweinig verstaan het.

Daar was in die periode pogings om ook ’n privaat Engels medium skool met mev. Fonseca te vestig. Die skool het egter die leerlinggetalle in mnr. van der Linden se skool laat fluktueer en die betaling van staatsubsidie het nooit plaasgevind nie, omdat die staatskas leeg was.

Ongelukkig was mnr. Van der Linden se gesondheid baie swak en tree hy Maart 1880 uit diens en sterf op 18 Junie 1880. Hy word in die ou begraafplaas begrawe as Middelburg se eerste skoolhoof. ’n Tragiese persoon wat geen naasbestaandes gehad het nie en deur sy vriende begrawe is. Selfs sy voornaam in onbekend! Hierna volg weer ’n periode van sukkel en verwarring en sluit die skool.

Foto 3: Die graf van mnr H van der Linden in die Ou Begraafplaas  – die eerste Skoolhoof van Middelburg (Foto: Rudi van Wyk)

Daar is weer ’n poging om ’n Engelse Skool deur die Anglikaanse Kerk te bedryf, maar dit was van korte duur. John Scoble, die landdros tydens die Britse anneksasie, word sommer die onderwyser by die Engelse kerkskool in die Anglikaanse Kerk. ‘n Man van vele talente!

Na goud in 1873 by Pilgrimsrust ontdek is, gaan dit beter met die staat se geldsake en op 1 Mei 1884, vier jaar na mnr. Van der Linden se dood, word mnr HF Keet as hoofonderwyser aangestel. Die skoolkommissie huur die huis en winkel van SCC Wemmer as skool en as losieshuis vir die kinders. Skoolgelde is vasgestel op 5 shillings vir laerskool en 7/6 vir middelbare skool kinders per maand (direk omgereken beteken dit 50 sent en 75 sent, maar gekoppel aan inflasie is dit ekwivalent tot R800-R1100 per maand in 2026!).

Die skool is nou gevestig en verskillende onderwysers en onderwyseresse is betrokke. Op 18 Mei 1890 word die skool verdeel in ’n seunskool en ’n aparte meisieskool. Die skole funksioneer op dieselfde terrein met ’n seil-en-hout afskorting tussen die afdelings. Hierdie twee aparte skole funksioneer tot 1899 toe dit weer saamsmelt as een skool. Maar die geldsake is maar bedroef en daar moet ’n jaarlikse basaar gehou word om geld in te samel om die onderwysers se salarisse te betaal.

Middelburg se eerste skoolgebou word gebou – die Ebenhaezer Skool

In 1893 verkoop die NG Kerk die grasdakkerk en erf en word die geld onder leiding van ds Alewyn Burger gebruik om die eerste skoolgebou in Middelburg te bou – die argitek JW Zernike ontwerp die Ebenhaezer Skool. Die hoeksteen is op 13 Januarie 1894 gelê en boumeester R Gerhardt voltooi die gebou op 9 Julie 1894. Skoolmeubels vir die skool is uit Skotland bestel. In 1897 word dit vergroot toe twee verdere klaskamers aangebou word.

Mnr JP van der Merwe word aangestel as hoofonderwyser.

Foto 4: Die Ebenhaezer skool pas na voltooiing in 1894.

Die skoolgebou was geleë in Joubertstraat waar die SA Polisie woonstelle tans staan.

Konsentrasiekampskool

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog hou al die skole op funksioneer en vele skoolseuns vertrek saam met hul vaders op Kommando.

Op 27 Julie 1900 word Middelburg deur die Britte beset. Hierna volg ’n tragiese periode van Verskroeide Aarde beleid, en vroue en kinders in die konsentrasiekampe. Teen 1901 is die konsentrasiekamp in Middelburg gevestig suid van die spoorlyn met meer as 7000 inwoners en ’n skool open in die kamp op 1 Junie 1901, met mnr. ML Roos as hoofonderwyser. Daar is van plaaslike onderwyseresse gebruik gemaak, onder meer Natie du Toit die dogter van die oud-landdros, sowel as onderwyseresse van Brittanje en ander kolonies. Al die meubels word uit die Ebenhaezer skool verwyder vir die Kampskool. Onder meer word die Gereformeerde Kerk as kampskool gebruik met twee markiestente vir die kleiner kinders. (Sommige bronne noem ook die Hervormde Kerk as skool).

Foto 5: Die Gereformeerde Kerk gebruik as skool vir die Konsentrasiekamp (Foto: Rex Hilligan Poskaart)

Die Ebenhaezer Skoolgebou is tydens die Oorlog as deel van die aangrensende No 17 Stationary Hospital gebruik. Teen Januarie 1902 toe die kamp na Kanonkop verskuif het, was daar 674 kinders in die skool en teen April 1902, 1910 kinders met 13 onderwysers. Maar ván die moeders is baie ongeneë om hul kinders na die skool te stuur, weens vyandigheid teen die Britte. Die kinders wat nie skool bygewoon het nie, is in groepe ingedeel om die kamp skoon te maak, in ’n poging om hulle te motiveer om skool toe te gaan.

Na die vredesluiting begin die konsentrasiekamp geleidelik leeg loop. Daar is egter duidelike spanning tussen die pro-Boer burgerlike bevolking en die nuwe Britse Owerheid van die Transvaal Kolonie. Die Milner Regering wil alles verengels en word die Hervormde Kerk se hout-en-sink kerk weer as skool gebruik vir die dorp met mnr. John Cox as hoof met die naam The Middelburg Free School. EB Sargant, direkteur van onderwys van die Transvaal Kolonie stel dit dat alhoewel meerderheid van die leerlinge geen woord Engels verstaan nie, “to immerse the children completely in the new sounds and atmosphere”! Onderwys aan die Free School was gratis, dis waaraan die naam ontleen is.

Skole na die Anglo-Boereoorlog

Die Afrikaner-gemeenskap is nie geneë om hul kinders na die Engelse Free School te stuur nie. Die wonde van die oorlog en die konsentrasiekampe was nog te rou!

Onder leiding van ds. Alewyn Burger, leraar van die Witkerk, word daar weer ’n skoolkommissie gevorm en word besluit om die Ebenhaezer Skool te heropen, eers as ’n suiwer kerkskool en vanaf 1906 as ’n Christelike Nasionale Onderwys (CNO) skool. Na ’n paar hoofonderwysers is mnr. O van Oostrum vanaf Januarie 1906 die hoof. Die skool sukkel met finansies in die verarmde omstandighede na die oorlog.

In 1904 word die geboue van die Free School (ook genoem die South School) voltooi en op 28 September 1904 geopen. Die skool skuif nou in die gebouekompleks in, wat later Middelburg Laerskool sou word.

Die Ebenhaezer Skool as ’n CNO skool funksioneer nou naas die Middelburg Free School wat ’n staatskool was. ’n Secondary School word ook gevorm met mnr HF Clegg as die hoof.

Foto 6: Hoeksteen van die Free School tans in portaal van nuwe Middelburg Laerskool. (Die na-naamse tital Esq vir Esquire was algemeen in die tydvak in Britseryk om ‘n persoon aan te dui van hoë sosiale status, wat ook nie insolvent was nie) (Foto: Rudi van Wyk)

Middelburg Publieke Skool

In Junie 1907 ontvang die Transvaal Kolonie selfbestuur van Brittanje en word die Smuts-onderwyswet aanvaar.

In Januarie 1908 smelt al die skole saam, as die Middelburg Public School hoofsaaklik op die terrein van die Free School. Die staatskool funksioneer nou met mnr PM van der Lingen as die hoof en mnr HF Clegg as die onderhoof met 10 onderwysers. Die saamgestelde skool is nou ’n Intermediêre skool, wat onderrig gee tot wat vandag as Graad 10-vlak bekend is. Die senior jare het as Vorm 1,2 en 3 bekend gestaan.

Dit wil voorkom of die junior deel se geboue eerste gebou was en dat standerd IV en hoër aanvanklik steeds in die Ebenhaezer gebou gehuisves is. Hierna word Ebenhaezer gebou as koshuis gebruik. Hierdie junior gedeelte van die skool was geakkommodeer in vier klaskamers ongeveer 100 meter noord van die hoofkompleks, wat skynbaar eers effens later voltooi is. Hierdie junior klasse het ’n stoep aan die noordekant gehad en dus geen son gekry nie en was snerpend koud. ’n Waskamer met hangplek vir elke kind se handdoek was deel van die Junior Afdeling. Die afdeling is later vergroot en nog drie klaskamers bygebou.

Foto 7: Ebenhaezer Skool circa 1904 (Foto: Rex Hilligan)
Foto 8: Middelburg Government School of Free School circa 1905 (Foto: Rex Hilligan)

Die Free School gebou was ’n spesifiek ontwerpte kompleks met verskeie gevorderde elemente. Die skool bestaan uit ’n sentrale gedeelte met ongeveer 13 ruim klaskamers en ’n skoolsaal in die middel, om ’n binnehof of vierkant. Die binnehof kon met twee loopgange vanaf die suidekant bereik word of met ’n ingang aan die noordekant.

Foto 9: Lugfoto van die Skoolterrein circa 1939

Die klaskamers het almal uitgeloop op breë stoepe met tipiese houtpilare en houtstoep relings wat byeengekom het by die deure van die skoolsaal.

Klaskamers het hout plankvloere gehad, met ’n platform voor in die klas vir die onderwyser se tafel. ’n Leiklip-swartbord was in elke klas gemonteer waarop met bordkryt geskryf is. Elke klas was ook toegerus met ’n steenkool stoof en ’n werker het elke oggend in die winter ’n vuur in elke klas se stoof aangesteek om die klas te verwarm. Die skoolsaal sowel as elke klaskamer het ’n ventilasie toring op die dak gehad waardeur warm lug weer in die somer uitgelaat is.

Klasse was toegerus met hout dubbel skoolbanke met opklap sitplek. Aanvanklik is van leiklip-leie met ’n griffel gebruik gemaak, totdat inkpenne meer algemeen beskikbaar geword net. Nou is elke sitplek voorsien van ’n porselein inkpot wat in ’n gaatjie in die bank gepas het en wat daagliks met ink gevul is.

Foto 10: Skoolbank uit die era

Die skoolsaal was ’n unieke luukse vir die tyd en was ten tye die grootste saal in die dorp en is vir verskeidenheid skool en dorpsaktiwiteite aangewend. Die skoolsaal het twee ingange gehad vir die kinders en twee binne-deure uit die kantore direk op die verhoog. Houtskuifraamvensters het ventilasie voorsien.

Foto 11: Program vir die Middelburg Choral Union se konsert in die Free School saal in 1907 – toegang 25c (Foto: Rose Antrobus – Laver Versameling)
Foto 12: Middelburg Free School circa 1907, Let op die rytuig voor die skool en die toestand van ten tye Middel straat (later Voortrekker en nou Bhimy Damane Straat) en die ventilasie torings (Foto: Rex Hilligan)

Omrede die senior klasse nou in dieselfde gebou geakkommodeer is, is ’n spesiale biologieklas met ’n aangrensende glas-kweekhuis in die noord-oostelike hoek gebou.

Aanvanklik het die skool nie spoeltoilette gehad nie en ’n losstaande nagemmer toilet is gebruik.

Die Ebenhaezer gebou is steeds in gebruik vir die musiek afdeling van die skool.

Foto 13: Mev Dutchie se musiek leerlinge langs die Ebenhaezer Skool (Foto: Rose Antrobus – Laver Versameling)
Foto 14: Middelburg Laerskool kort voor dit in 1986 gesloop is. Let op die skoorstene vir elke klaskamer en dat die ventilasie toring op saal se dak tydens restourasie verwyder is. Biologieklas met kweekhuis sigbaar is regs-bo van hoofgebou. Junior Afdeling se vier klasse duidelik sigbaar regs bo (Foto: Yolande Koelemans-van Rooyen)

Oor die jare is die gebou opgegradeer en verdere fasiliteite bygebou. In 1960 is ’n uitgebreide opknapping gedoen en die geboue verbeter. Spoeltoiletblokke is geïnstalleer, die onderwyser-platforms uit klasse verwyder en die hout stoeppilare met steenpilare vervang.

Foto 15: Skool vanuit ‘n westelike rigting in 1928 na korfbalbane aangelê is (Foto: Rex Hilligan – KI gekleur)

Oor ’n tydperk is die terrein ontwikkel. ’n Groot roostuin is voor die skool aangeplant en ’n prieel met wisteria-rankers is aan westekant gebou vir skadu. In die middel van die roostuin was ’n geskenkte historiese koper sonhorlosie, wat akkuraat tyd aangedui het. ’n Koper reënmeter teenoor die hoof se kantoor is gebruik om reënval te meet en te rekordeer.

Gras sportvelde, pawiljoene en ander ontwikkelinge het eers veel later gevolg.

Foto 16: Middelburg Laerskool Skoolgebou 1964 met reënmeter in die voorgrond (Foto: Eeufees Program – KI gekleur)

Aanvanklik was daar geen gras sportvelde nie, en word beskryf hoe daar rugby gespeel is op die kaal grond.

Teen 1917 is daar 584 kinders in die skool! Teen 1952 is daar reeds 700 kinders in die skool.

Skole stig af vanaf die Free School

Op 10 April 1918 stig die Hoërskool af as aparte skool. Die skool funksioneer aanvanklik in die Ebenhaezer skoolgebou tot die huidige skoolgebou in Augustus 1921 voltooi is.

In Julie 1921 stig die Engelsmedium Laerskool af en word aanvanklik in die gebou van die Junior Afdeling gehuisves tot die nuwe Engels Medium Laerskool se skoolgebou in John Magagulastraat (Coetzee) voltooi is.

Die skoolgebou word nou die Middelburg Afrikaanse Skool (MAS) tot dit later as die Middelburg Laerskool (MLS) bekend staan.

In 1961 stig Laerskool CR Swart af, met die spoorlyn as die skeidslyn tussen die voedingsareas van die twee laerskole.

Die verdere skole stig weer uit hierdie skole af, soos die Hoer Tegniese Skool in 1927.
In 1986 word ’n nuwe skoolgebou vir Laerskool Middelburg gebou en die ou geboue gesloop.


Die Britse Owerheid se Free School se historiese gebou dien as die basis vir al die skole in Middelburg. Ongelukkig is die unieke skool-kompleks sowel as die Ebenhaezer skoolgebou gesloop en bly slegs herinneringe oor!

Foto 17: Tragiese einde in 1986 vir ‘n unieke historiese gebou (Foto: Yolande Koelemans-van Rooyen)
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button