News

Die Week in Middelburg se Geskiedenis Erfenis 25 Mei 2026

President Paul Kruger se laaste reis deur Middelburg na Machadodorp

Daar word dikwels vertel dat president Paul Kruger, na die besluit in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) om Pretoria te verlaat en onderweg na Machadodorp, in een van die ou huise in Middelburg oorgebly het en met sy generale in die sitkamer vergader het. Inwoners maak van die voorval melding, omrede hul voorouers dit as absoluut waar vertel het!
Verskeie huise maak aanspraak op dié gas se besoek en vloerplanke is al opgebreek opsoek na die Kruger-miljoene. Die vraag is dus het Kruger op sy laaste reis hier in ’n huis oornag en het hy hier ’n krygsraad gehou?

President Kruger besoek wel Middelburg op verskeie geleenthede. Aangeteken is Woensdag 26 Desember 1888 toe hy die nuwe landdroskantoor op die terrein van die huidige hooggeregshof, geopen het en 23 Desember 1889 waar hy ’n toespraak in Middelburg gelewer het by ’n onbekende geleentheid. Niks is egter aangeteken oor sy verblyf in Middelburg nie. Moontlikhede sluit in die pastorie van ds. Alewyn Burger met wie hy huisvriende was, of die Grand Hotel by die stasie, Middelburg Hotel in Walter Sisulustraat of die Transvaal Hotel in OR Tambostraat. Geen inligting kon egter opgespoor word oor sy verblyf nie. By hierdie geleenthede sou hy per perderytuig na Middelburg moes gereis het, ’n rit van ongeveer twee dae teen die standaard spoed van ± 10-12 km/huur (Die poskoetse het vinniger beweeg maar het by elke halte ’n nuwe span trekdiere gekry).

Die spoorlyn is eers 2 November 1894 geopen, waarna hy per spoor kon reis en in sy presidensiële salonwa oornag het.

Bronne verskil ook oor die presiese datum van Kruger se vertrek uit Pretoria met die Britse aanmars op pad. Die datum van Dinsdag 29 Mei 1900 word as die korrekte aanvaar.

Aanloop

Op Maandag 28 Mei 1900 besluit die ZAR regering, ten tye nog gesetel in Pretoria, om nie Pretoria te verdedig teen die Britse aanmars nie. Machadodorp word as die hoofstad verklaar en daar word besluit om die Regering daarheen te verskuif.

Foto 2: Proklamasie wat Machadodorp tot Regeringsetel verklaar Foto: TAB)

Daar is ook besluit dat die argiewe na Middelburg verskuif moet word. Dit wil voorkom dat die argiewe nooit werklik na Middelburg geskuif is nie, en dat meeste items op treintrokke gebly het (en vir die Kruger-miljoene aangesien is!) en deur geneem is na Machadodorp. Wat wel bekend is, is dat professor Mollengraaff ongeveer 5 Junie 1900 die Identifikasie Buro, met al die rekords van gewonde of gesneuwelde burgers na Middelburg verskuif het.

Kruger se laaste reis

Kruger is die middag van Dinsdag 29 Mei 1900 nog aan huis in Pretoria. Dit is gedokumenteer dat hy die Amerikaanse seun, Jimmy Smith (James Smith), ’n leergebinde bundel van 29 000 Amerikaanse kinders se handtekeninge ter ondersteuning van die Boere en ’n vlag, aan hom in die presidensiële woning oorhandig het, een uur voor sy vertrek. Jimmy Smith en sy chaperone teken op Maandag 28 Mei 1900 in by die Transvaal Hotel in Pretoria.

Foto 3: James Smith (Jimmy Smith) en sy chaperone se handtekening in die Besoekersboek van die Transvaal Hotel (Foto: Fransjohan Pretorius)
Foto 4: FW Reitz, die Staatssekretaris met Jimmy Smith op die stoep van die Kruger Woning nadat hy bundel aan President Kruger oorhandig het (Foto: (Beck) – KI Gerestoureer en gekleur)

’n Uur ná die onderhoud met Jimmy Smith, het Kruger emosioneel mevrou Gezina Kruger in hul slaapkamer gegroet. Haar gesondheid was te swak om hom te vergesel. “Toen het reeds donker was” vertrek geselskap in geheimhouding “in die vallende duisternis per landau en vier perde na Eerste Fabrieken”, die eerste stasie buite Pretoria op die Oosterspoor. Hy vertrek vanaf Eerste Fabrieke Stasie en nie van die Pretoria Stasie nie, omdat Bredell insidente op Pretoria Stasie gevrees het.

Foto 5: Eerste Fabrieke Stasie vanwaar Pres Kruger vertrek het (Foto: Nico Moolman – KI Gerestoureer en gekleur)

’n Trein was by Eerste Fabrieke stasie oos van Pretoria opgestel om hom na Machadodorp te vervoer. Die trein bevat sy persoonlike salonrytuig (latere No 17 rytuig) en verskeie ander spoorrytuie vir sy gevolg, wat Dr WGAM Heymans (sy lyfarts), HC Bredell (sy lyfwag en assistent sekretaris), Louis Jacobsz (Assistent Staatsprokureur); FC Eloff (sy kleinseun en privaat sekretaris) en A Happé (sy lyfbediende) insluit . Aangesien sy persoonlike rytuig slegs een slaapkamer bevat het, moet aanvaar word dat die trein ook ander rytuie bevat het, met slaapplek vir sy gevolg.

Foto 6: Kruger se persoonlike rytuig – later SAS&H No 17 met ‘n verdere passasierswa sigbaar.
Foto 7: Die sitkamer van die rytuig (Foto: Ditsong Kruger Huis Museum – Pierre Edwards).

Eerste Fabrieke stasie is ±25 km vanaf Krugerhuis. Die reistyd in die donker van Krugerhuis na Eerste Fabrieke stasie het ongeveer drie ure geduur, en die trein het waarskynlik eers ongeveer 22:00 Eerste Fabrieke stasie verlaat.

Die trein is gesleep deur óf ’n 40-ton óf ’n 46-ton lokomotief. Hierdie lokomotiewe was egter onstabiel as gevolg van die wiel konfigurasie en het ’n spoedgrens van 45 km/h gehad. Die lokomotiewe is dikwels ook agteruit aangewend vir groter stabiliteit met die 4-wiel draaistel-wiele (bougie) dan voor.

Foto 8: 46-tonner Tenk Lokomotief Jan Wintervogel van NZASM by Witbank (Foto: Wikipedia)

Hierdie lokomotiewe het ’n 1 525 Imperiale Gallon (6 930 liter) sy-watertenk gehad en ’n kolebak vir 2,6 ton. Die lokomotiewe gebruik gemiddeld 150 gallon water per myl (±426 l/km) en een ton steenkool per 12 myl (±20km). Dit gee die lokomotief ’n reikafstand van ongeveer 10 myl (16 km) voor water aanvulling nodig is en 31 myl (49 km) voor steenkool aanvulling nodig is. Die stasies/haltes op die Oosterspoor is juis gebou met hierdie afstande in gedagte. Die trein moes dus by al die haltes en stasies op die roete stop om water in te neem en dan ook soos nodig steenkool. Dit het die reistyd verleng.

Foto 9: ‘n 46-tonner op Pretoria stasie – let op die “Cow Catcher” aan die agterkant omrede lokomotief agteruit aangewend is vir groter stabiliteit. Let daarop dat daar geen voorste draaistel-wiele is nie en dan vier draaistel-wiele agter die groot trekwiele (0:6:4 konfigurasie)

Dit is onseker of steenkool vanuit ’n laaibak of per graaf gelaai moes word in die nag. In die beskrywing van die vervoer van die goudreserwe ses dae later op Maandag 4 Junie 1900, word aangedui dat verskeie stasies onbeman was en die treindrywer self sinjale moes oorskakel en trokke met die hand uit die pad stoot, so die kans dat die reis die aand soortgelyke omstandighede ervaar het, is moontlik wat die reistyd verder verleng het. (Die vervoer van hierdie goudreserwe is die bron vir die mite oor die Kruger-miljoene).

Foto 10: Watertoring by Wonderfontein gebruik vir aanvul van stoomlokomotiewe (Foto: Theo Ligthelm 2023)

Reistye

Figuur 1: Spoorlyn uitleg van die Oosterspoor wat die haltes en stasies aandui waar die stoomlokomotiewe water en soms steenkool moes aanvul

Ongelukkig bestaan geen beskrywing van die reistye van Kruger se trein nie. Die trein met die goudreserwes het ongeveer 14:00 uit Pretoria vertrek en Witbank ongeveer 19:00 bereik – dus ongeveer vyf ure stoomtyd. As dit op die Kruger-trein toegepas word, het die trein Middelburg ongeveer 04:00 op 30 Mei 1899 bereik.

Bredell en Grobler stel dat “Vandaar gingen hij per trein na Middelburg, waar di nacht werd doorgebracht, en den volgenden dag vertrok hij naar Machadodorp” (Nijhoff, 1902). Krugel verwys nie na enige periode in Middelburg nie en dui aan dat met nagtrein deurgaan na Machadodorp. In sy dagboek skryf Bredell “en arriveerde volgende dag te Machadodorp” (Bredell, 1971).

Verblyf

Kruger arriveer dus beslis vroegoggend op Woensdag 30 Mei 1900 op Middelburg Stasie.

Foto 11: Middelburg Stasie ten tye (Foto: KI gerestoureer en gekleur)

Tydlyne is nou effens onduidelik oor wanneer hy verder reis. Geen bronne kon opgespoor word met detail nie, behalwe Bredell se dagboek en geskrifte, wat jare later geskryf is, wat aandui dat Kruger Pretoria verlaat het “en arriveerde volgende dag te Machadodorp” (Bredell, 1971). Of die “nag deurbring” verwys na die periode van 04:00 tot oggend, of die nag van 30-31 Mei is dus debatteerbaar.


Die enigste verdere leidraad is ’n telegram wat Kruger op 31 Mei 1900 vanuit Belfast aan kommandant-generaal Louis Botha gestuur het (Leyds argief), Die telegram is egter waarskynlik net van Belfast gestuur, omdat Machadodorp se telegraafkantoor oorlaai was, dit lees ook dat dit “gepasseerd” was van die Staatspresident te Machadodorp. Dit is 13:15 ontvang op Volksrust. Frikkie Eloff wat op die trein was stuur ook reeds vroegoggend op 31 Mei ’n telegram uit Machadodorp.

Foto 12: Telegram van President Kruger wat via Belfast gestuur na Laingsnek waar gevegte ten tye aan die gang wasen tydlyne kon verwar het (Foto: Leyds Argief)

Die vraag is dus of Kruger wel die trein verlaat het op die vroeë oggend van die 30e Mei 1900 en dan in Middelburg oornag het en dan weer die oggend van die 31e sy reis hervat het? Die reistyd na Machadodorp was ’n verdere 7-8 ure – gebaseer op die reistyd van die trein met die goud reserwes. Kruger funksioneer egter al op Donderdag 31 Mei 1900 uit Machadodorp terwyl hy in sy salon-rytuig tuisgaan.

Foto 13: President se slaap-kompartement in die Salonrytuig (Foto: Pierre Edwards)

As na die tydlyne gekyk word is dit duidelik dat die trein Middelburg op 30 Mei verlaat het en dan aangestoom het deur die bergpasse na Machadodorp, om betyds daar te arriveer vir al die aktiwiteite wat volg. ’n Telegraaflyn is in die rytuig by Machadodorp geïnstalleer waarmee hy na onder meer die kommando’s gekommunikeer het. Op 31 Mei 1900 rapporteer JC Smuts reeds telegrafies aan President Kruger in Machadodorp oor die chaos in Pretoria en die plundering van die Staatspakhuis. Botha telegrafeer ook aan Kruger dat die Volksraad of Algemene Krygsraad dringend bymekaar moes kom. Kruger telegrafeer ook uit Machadodorp op 31 Mei 1900 aan Pres Steyn in die Vrystaat om hom in Machadodorp te ontmoet. Kruger het ook ’n telegrafiese gesprek (draadgesprek) met kommandant-generaal L Botha, generaals L Meyer, DJ Erasmus, JH de la Rey, T Smuts en HR Lemmer, staatsprokureur JC Smuts en kommandant Viljoen op 31 Mei 1900 vanuit Machadodorp.

Daar is dus geen moontlikheid dat hy die rytuig verlaat het en in ’n privaat huis in Middelburg gaan oornag het, net om baie vroeg terug te keer na die stasie om verder te reis nie. Dit kan met sekerheid gestel word dat dit ongelukkig ’n mite is en dat hy in sy rytuig op die stasie gebly en geslaap het. Sy totale verblyf in Machadodorp het hy in hierdie rytuig gewoon en is daar deur onder meer ds. Alewyn Burger, die leraar van die Witkerk, besoek.

Kruger verskuif later na die warmer klimaat van Waterval-Onder, en dit is hier waar die besluit geneem is dat hy na Europa moes vertrek om hulp vir die Boere te mobiliseer, maar bowenal om te voorkom dat hy in die hande van die Britte val. Hy was deur die Britte gesien as die simbool van die stryd en as hy gevange geneem kon word, sou dit reuse propaganda waarde gehad het. Die gerug dat hy gevlug het is totaal onjuis, sy vertrek was ’n Uitvoerende Raad besluit in konsultasie met President MT Steyn van die Vrystaat.

Foto 14: Kruger in rytuig te Machadodorp (Foto: Tian Schutte TAB)
Foto 15: Regeringsetel in trein rytuie en trokke op Machadodorp (Foto: Arnold van Dyk Trust)

Krygsraad met Generale

Daar is geen aanduiding dat enige samespreking met Kruger in Middelburg plaasgevind het op Woensdag 30 Mei 1900 nie.

Op 30 Mei 1900 vind die gevegte by Klipriviersberg suid van Johannesburg plaas. Senior offisiere is daar betrokke. Die Boere magte val terug. Gen. Ben Viljoen is in Johannesburg op 30 Mei 1900 om voorrade op te kommandeer en laat vroue toe om voorrade weg te dra. Generale Lemmer, De la Rey en Du Toit keer terug na Pretoria. Die grootste komponent van die Boere magte het oos om Pretoria beweeg, hoofsaaklik vanaf omgewing Germiston, en was dus nie naby Middelburg nie. Die magte konsolideer vir slag van Donkerhoek.

Botha het opdrag ontvang om die orde in Pretoria te herstel en die argiewe te skuif, so in hierdie tyd was hy in Pretoria. Die aand van die 31 Mei was hy betrokke by ’n vergadering by Irene. Op 1 Junie 1900 vergader die Krygsraad in die Tweede Volksraadsaal in Pretoria. Die Krygsraad word deur 43 senior offisiere bygewoon. Botha vertrek hierna om Donkerhoek verdediging te gaan beplan.

Daar is dus geen “generale” in Middelburg omgewing vir samespreking met Kruger nie. So die samespreking kan ook as ’n mite afgemaak word.

Foto 16: Kruger se Salonrytuig by die Ditsong Kruger Museum (Foto: Pierre Edwards)

Hoewel Kruger tevore in Middelburg oornag het, kan met sekerheid gestel word dat die gerugte van ’n krygsraad en verblyf in Middelburg op sy laaste reis, een van die vele mites is wat om sy persoon gebou is.

Ongelukkig is die Kruger-miljoene nie onder die vloerplanke van ’n ou huis in Middelburg nie, en nog ’n groter mite wat al gelei tot die opgrawe van elke gat en spelonk in Oos-Transvaal!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button