Hoërskool Middelburg bereid om beseerde speler te help
Groot terugslag tref Rooi Bulle en Pumas se Cravenweek span
Op die veld teenstanders, in nood daar vir mekaar.
Hoërskool Middelburg is een van die eerstes wat ’n bydrae gaan lewer, om ’n beseerde HTS Middelburg speler te help.
Daar was slegte nuus vir die skitterende Rooi Bulle senter, Nathan Jansen van Vuuren. Hy het kruisligamente en nog ander ligamente in sy knie geskeur, tydens die Puma Cravenweekspan wedstryd Dinsdag teen die Valke by Hoërskool Middelburg.
Jansen van Vuuren het een van die beste drieë gedruk wat op ’n skoolveld gesien is, deur met brute krag teenstanders af te skud en onder die pale oor te val. Hy is toe beseer.

Die rugbyhoof van Hoërskool Middelburg, Christiaan Gouws, het vanoggend gesê die skool is reg om R10 000 by te dra, vir ’n beoogde BackaBuddy-fonds.
Gouws het gesê al is Jansen van Vuuren ’n Rooi Bul “bly dit ’n kind” en sal Middies graag wil help.
HTS Middelburg se eerstespan hoofafrigter, Jano Venter, sê hy het sy voorslag senter gister by die Eugene Marais Hospitaal in Pretoria gehad, waar hulle die slegte nuus gekry het.
Jansen van Vuuren sal ten minste nege maande buite aksie wees.
Sy Rooi Bul sentermaat, Jacques Greyling, het sy milt geskeur tydens ’n wedstryd teen Dr EG Jansen van Boksburg.
Venter sê hulle is tans besig om ’n BackaBuddy-insamelingspoging van stapel te stuur en sal mense op hoogte hou, wat graag ’n bydrae wil maak.
Die skool beplan om ook te help.
Daar word R150 000 benodig, omdat Jansen van Vuuren nie oor ’n mediesefonds beskik nie.
Hy was ook ’n seker keuse vir die 2026 Puma Cravenweek span.
