News

De Voetpadkloof se koedoes is veilig

Wat is volgende op Middelburg? Dalk ’n olifant?

Hoe beland ’n koedoe binne ’n huis in Broodboomstraat op Middelburg?
Vanwaar het die twee koedoes gekom wat die dorp Saterdag op hol gehad het?
Net die koedoes sal weet.

Die werklikheid is dat Middelburg omring is deur uitgestrekte vlaktes en bosveld habitat.
Die koedoes kon van Botshabelo af gekom het, De Voetpadkloof, Ubhetyan o Africa of selfs die Stoffberg omgewing.

Hoe ver die diere binne ’n kort tydjie kan hardloop, is gesien nadat die jong ooi in Tambotiestraat deur dr Munnik Hertzog verdoof is.
Die koedoe het oor ’n muur gespring, Proteastraat gekruis, waarskynlik oor Walter Sisulustraat, Koppiestraat, tot by die Klein Olifantsrivier se bekende Lovers Corner.

Die drama het al drie uur Saterdagoggend begin tot Arthur Hill se Dagpatrollie die koedoes in Kanonkop gesien het.
Dit was ’n kakafoniese nagmerrie soos die buurt se honde geblaf het.
Vroegoggend het die koedoe bulletjie oor Koekie van Wyk se pallisadeheining gespring, terwyl sy nie tuis was nie.

Devoetpadkloof se koedoebul en sy ooie is steeds by die oord. FOTO: Tobie van den Bergh.

Die koedoe het later deur ’n groot eetkamervenster gebars, erg gebloei in die sitkamer en is later in die gang deur dr Hertzog verdoof.
Die deurmekaar koedoe het onseker op sy pote weer by die venster uitgespring, waar dr Hertzog en ’n wildvanger hom met deernis tot op die grond gehelp het.
Die koedoe het antibiotika-inspuitings gekry en in ’n wildsvoertuig na die Loskop Natuurreservaat vervoer.

Die jonger koedoe ooi het in Tambotiestraat onder ’n afdak geskuil, terwyl die onbekende huisbewoners by Loskopdam was.
Nadat die koedoe verdoof is, het hy in die rigting van Koppiestraat gehardloop en later in die Klein Olifantsrivier beland.
Sy is met groot moeite onder ’n stomp uitgehaal en is ook met ’n wildsvoertuig na Loskopdam geneem.

Piet Wassenaar, wat ’n groot rol gespeel het dat die koedoes nie geskiet word nie, sê hulle is albei veilig by Loskopdam.
Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap het self ook gesorg dat die koedoes gered word.
Mens kan tong in die kies spot dat Munnik Hertzog voor Saterdag “dominee Colin Hertzog se seun” was. Na sy optrede as veearts is hy nou bekend as dr Hertzog.

Na die afsterwe van dr Tobie Spies en Leon Connoway, wat verhuis het, is ’n groot leemte op die dorp gelaat.
“Op die einde was dit ’n goeie spanpoging en wys weer wat vermag kan word wanneer mense en instansies saamwerk,” sê Piet.
Die vraag waar die koedoes vandaan kom sal nooit beantwoord word nie.

Johan Ludick, De Voetpadkloof bestuurder, sê dit is nie hulle trop nie.
Die vorige koedoe, wat in HTS Middelburg se ouditorium rondgehardloop het, het van die Witbank Natuurreservaat gekom.

Die vraag op Middelburg is, wat is volgende?
’n Olifant?
Nie ’n pienke nie.
’n Regte-egte een.

Lees ook: Die koedoe was byna biltong

KYK: Verdoofde koedoe hol na Lovers Corner

KYK: Twee koedoes gepyl in Kanonkop, een in huis se sitkamer

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button