Bedaar Middelburg – Terry het net Fomo mense!
‘Kry ‘n worshond het hulle gesê, hulle is soet het hulle gesê...’
“Nee! Dis nie ’n gemene speletjie nie, dis FOMO (fear of missing out),” sê ’n plaaslike vrou nadat ’n WhatsApp-video van haar worshond, Terry, wat Saterdag by die Ninfa-tuinsentrum afgelaai is om glo self huis toe te stap, ’n storm van kritiek ontlok het.
“Nee, ons laai nie ons kinders langs die pad af nie, en ook nie ons hond nie,” het die vrou vanoggend aan die Middelburg Observer gesê.
Wat eintlik gebeur het, is dat Terry, die worshond van die gesin, vinnig agtergekom het dat as hy lank genoeg wegkruip, die enjin vir hom gaan aanskakel.
Hy kruip natuurlik gereeld ongesiens daar in.
Terry se FOMO is nou al so kompulsief dat hy kombi toe draf sodra dit net lyk asof iemand voordeur toe mik.
As hy eers sy sit op die plaat gekry het, kan niks hom daaruit kry nie – nie eens biltong nie.
Hy het al verskeie kere by ’n plaaslike laerskool afgeklim en ook al by die eienaar se werkplek.
In vorige gevalle was hulle nie bewus daarvan dat Terry onder die enjin was nie, en moes hulle al ure lank na hom soek.
Die eienaars het uit desperaatheid reeds die DBV genader vir hulp en sê dit het nou tyd geraak vir hondeskool.
Die gesin bly glo net om die hoek van die Ninfa-tuinsentrum en het geweet Terry sal sy pad huis toe vind.
Hy was snet na die eienaars terug by die huis.
“Hy bly tussen die enjin en die plaat totdat daar gestop word. Ons het maar net die naaste en maklikste roete vir hom gekies,” verduidelik die eienaar.
En nee, Terry wou ook nie by die bussie inklim by Ninfa nie. Daarvoor is hy te halsstarrig.
“Ek oorweeg dit selfs al om te Bolt,” sê die eienaar, hoewel hondeskool op die lang termyn die goedkoper opsie is.
Sleutelbord-ninjas was oudergewoonte weer bitsig met die kommentare, met een wat in ’n stemboodskap gesê het dat die eienaar aan haar gesê het dit is net ’n speletjie wat hulle met die hond speel.
“Wat ek wel gesê het, is dat dit moontlik vir hóm ’n speletjie is,” sê die eienaar.
Terry is intussen rustig tuis voor die verwarmer (moet net nie na sleutels gryp nie!).
“Kry ‘n worshond, het hulle gesê, hulle is soet is vir ons gesê,” skud die man kop.
Die brakkie is nou so om en by twee jaar oud.
• Die gat waarvan op WhatsApp gepraat is, was toe ook nie in die heining nie, maar die spasie waardeur Terry tussen die enjin en die plaat deurglip.
• Terry het van die gat te wete gekom nadat die gesin se kat onder die enjin kleintjies gekry het, en Terry gereeld gaan snoet wys het.
Die kat het intussen ander lêplek gekry maar Terry wil net skuur!
