News

Die Week in Middelburg se Geskiedenis – 7 Junie 2026

Meijer’s Brug word geopen 29 Mei 1896

Op 29 Mei, presies 130 jaar gelede, op 29 Mei 1896 open die landdros van Middelburg Meijer’s brug, die eerste brug oor die Klein Olifantsrivier en ’n belangrike skakel van die roete tussen Pretoria en Lydenburg.

Inleiding

In die periode na die Groot Trek en daarna ontstaan daar verskeie Boere Republieke in die Transgariep, noord van die Oranje Rivier.

Die republieke smelt saam of ontbind in a labirint van gebeure. So was daar die Winburg-Potchefstroom Republiek wat na 1852 die Zuid-Afrikaanse Republiek word met Potchefstroom as hoofstad.
In 1856 stig die Republiek van Lydenburg af weens politieke verskille met Potchefstroom, met Lydenburg (Masishing) as hoofstad, as ’n aparte Republiek. In 1860 hou die Republiek Lydenburg op bestaan en smelt dit weer saam om die Zuid-Afrikaanse Republiek te vorm, nou met Pretoria as hoofstad.

Die Volksraad van die Republiek van Lydenburg neem op 25 Oktober 1859 ’n besluit om ’n nuwe dorp te stig op die eerste of tweede bult tussen Klipspruit en die eerste spruit van die Olifantsrivier, ongeveer halfpad na Pretoria. Niks kom egter van hierdie dorpstigting nie.

Op 28 Januarie 1864 koop die Nederduits Gereformeerde Kerk Lydenburg die plaas Sterkfontein van Lodewyk de Jager Snr, vir £22:10:0. Hiermee koop die Kerk die huidige Middelburg en is dit die amptelike stigtingsdatum van die dorp.

Om die drie stede van die tyd Potchefstroom, Pretoria en Lydenburg met mekaar te verbind, het ’n wa-pad ontwikkel, wat oor die Klein Olifantsrivier moes gaan. Hierdie pad strek nou vanaf oor die Hoëveld tot by Middelburg waar dit oor die Klein Olifantsrivier moes gaan op die huidige roete na Stoffberg. By Keerom het die pad verdeel en strek dit oor Pan, Wonderfontein na Belfast, en van daar na Delagoa Baai (Maputo). Die roete na Stoffberg strek dan tot by Lydenburg. Grondeienaars op die wapad was verantwoordelik om die pad op hul grond in stand te hou. Dit het maar gehik en gesnik, sodat die pad op baie plekke bloot spore was.

Foto 1: Merensky Kaart van die Transvaal – let op die roete uit Middelburg, eers oor die rivier en dan na die ooste

Ten tye was die Klein Olifantsrivier ’n beduidende obstruksie op hierdie wapad en moes dit by die drif – ’n klipperige area waar die water vlak en breed gevloei het – oorgesteek word. Twee driwwe word by Middelburg beskryf – een waar Walter Sisulustraat nou oor die rivier gaan en ’n tweede meer oos van Meijer Brug.

Wanneer die rivier in vloed was, was die driwwe ontoeganklik en moes transportryers en die poskoets wag dat die rivier eers afloop voor hulle die rivier kon oorsteek. Dit het ’n groot gemor afgegee en daar word by verskeie geleenthede vertoë gerig vir die bou van ’n brug. Vir baie jare was die staatskas leeg en is geen geld beskikbaar nie.

Die Klein Olifantsrivier het destyds gereeld sy walle oorstroom en die watervlak het die hoogte waar die huidige SAVF Ouetehuis en waar die tronk gebou is, bereik. ’n Klipmerker is deur landdros Du Toit ten tye van die massiewe vloed in ongeveer 1895 op die hoogwater-vlak geplant. Daar was weer in die dertiger jare ook ’n massiewe vloed. Die bou van Middelburg dam het die probleem jare later eers opgelos.

Foto 2: Die drif deur die rivier noordelike end van Walter Sisulu Straat (Foto: Epstein Poskaart – Rex Hilligan)
Foto 3: Die drif deur die rivier op die voorgrond wat gebruik moes word, met  Meijer Brug Circa 1910 (Foto: Epstein Poskaarte Rex Hilligan)

Teen 1896 het die geldelike posisie van die Zuid-Afrikaanse Republiek sodanig verbeter as gevolg van die ontdekking van ryk goud neerslae eers in Oos-Transvaal en dan op die Witwatersrand. Fondse was as gevolg hiervan nou beskikbaar om ’n brug oor die rivier te bou.

Bou van Meijer Brug

Op 18 Oktober 1895 besluit die uitvoerende raad van die Zuid-Afrikaanse Republiek onder leiding van president Paul Kruger, kragtens besluit No 698, om ’n brug oor die rivier op te rig.

Dit ontwerp is deur Sytze Wopkes Wierda (1839-1911), die hoof van Openbare Werke van die Zuid-Afrikaanse Republiek gedoen. Hy ontwerp die brug as ’n staalkonstruksie wat daarna met gekapte klip bekleed is.

Foto 4: Sytze Wopkes Wierda (1839-1911)

Die kontrakteur van die brug was ’n Italianer, Gelso Giri en die bouvoorman Bijderweller. Daar is in 1896 met die bouwerk begin. ’n Vroeë donderstorm die jaar, het die Klein Olifantsrivier laat afkom en die gedeeltelik voltooide konstruksie tot die uiterste beproef. Na die voltooiing van die beton voetstuk konstruksie is die staalkonstruksie gemonteer en daarna die klipwerk. Die totale koste word aangegee as R23 620.

Die brug is voorsien van vier lampe wat op die hoeke van die brug gemonteer was. Daar kan aanvaar word dat dit paraffien lampe was. Die lampe, en die paar ander straatlampe in die dorp moet elke aand per hand aangesteek word, soggens geblus en weer met paraffien gevul word.

As na die huidige installasie gekyk word, wil dit nie voorkom of die oorspronklike lampe na 1921, toe ’n kragstasie opgerig is, geëlektrifiseer is nie.

Foto 5: Meijer’s Brug Circa 1910 (Foto: Epstein Poskaarte Rex Hilligan)

Izak Meijer

Die brug is vernoem na Izak Johannes Meijer (Rooi Izak) (1831-1904), die lid van die Tweede Volksraad vir Middelburg (Noord-Transvaal). Hy was eers veldkornet vir die area en is daarna tot die Tweede Volksraad verkies. Debat is dikwels gevoer oor benaming Meijer Brug of Meijer’s Brug. Die benaming Meijer’s Brug en spelling van die van is op die steen op die brug leesbaar.

Foto 6: Gedenksteen teen suid-oostelike ingang van brug (Foto: Theo Ligthelm)

Hy was woonagtig op die plaas Steenkoolspruit waar hy op 2 Junie 1904 oorlede is. Hy is aanvanklik op die plaas begrawe, maar in 2004 is al die grafte opgegrawe weens mynbedrywighede en is hy en sy familie in die Mineralia Begraafplaas in Middelburg, her-begrawe.

Foto 7: Izak Johannes Meijer (Rooi Izak), die lid van die Tweede Volksraad vir Middelburg (Foto: Johan Wolfaardt)
Foto 8: Izak Johannes Meijer se grafsteen in Middelburg Mineralia Begraafplaas waar familie herbegrawe is (Let op verskil in spelling) (Foto’s: Rudi van Wyk))
Foto 9: Suidelike ingang na die brug (Foto: Theo Ligthelm 2017) 

Opening van die Brug

Die brug is op 29 Mei 1896 deur die magistraat van Middelburg, Gert Johan Wilhelm du Toit (1847-1922) geopen.

Foto 10: Unieke foto van die Landdroskantoor se personeel van links: B Lottering (Polisieman); Kleinbooi (Tolk);F van Schauvenburg (Publieke Aanklaer); JF Munnik (Sipier); G Knotje (Polisieman); GJW du Toit (Landdros); J Nortje (Bewaarder); D van Wyk (Polisieman) OC Weeber (Regsagent) J Vlielander (Hoof Bewaarder) JP Minnaar (Adjunk Balju en Boodskapper van die Hof) (Foto: (Grundlingh, 1952) KI Gerestoureer en gekleur; name du-Toit familiegeskiedenis)
Foto 11: Landdros Gert JW du Toit. (Foto: Grundling – KI gerestoureer en gekleur)

Waarde van Meijer’s Brug

Die brug was ’n kritiese skakel in die geskiedenis van die gebied. Die hoof handelsroete na Lydenburg, en vandaar na die goudvelde by Pilgrimsrust was afhanklik van die brug om die rivier oor te steek. Die afwesigheid van die brug het tot verskeie vertragings in die verlede gelei, terwyl daar gewag moes word dat die rivier afloop. Tydens die Eerste Vryheidsoorlog het die Britse Garnisoen onder bevel van Luitenant-Kolonel Philip R Anstruther, vanaf Lydenburg met 29 ossewaens en ongeveer 500 osse deur die ou drif gemarsjeer op pad na Pretoria, maar hulle teen die Groot Olifantsrivier vasgeloop en moes daar wag vir daardie rivier om af te loop. Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Boeremagte oor die brug laat spaander na die slag van Donkerhoek, op pad Bothasberg toe. Emily Hobhouse is in 1903 met ’n muilwa saam met Gert du Toit oor die brug na Laersdrift en omstreke.

Die brug is in 1968 geproklameer tot ’n nasionale gedenkwaardigheid.
Ongelukkig is die lampe op die brug gevandaliseer en die Nasionale Gedenkwaardigheid Embleem geplunder. Middelburg Erfenis het ’n Blou Erfenis Bordjie op die brug gemonteer.

Die brug verteenwoordig nie net ’n meester bouer ingenieursprojek uit die era nie, maar was sentraal in die roete na die Oos-Transvaalse Goudvelde en die strategiese posisie na gebiede noord-oos van Middelburg.

Dit het voor die bou van die Middelburg Dam verskeie vloede getrotseer en het nog nie gewankel nie, al is dit 130 jaar gelede gebou!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button