Comrade!
Nee kameraad, dit is nie die Comrades nie; dit is ’n familiebesigheid.
Die 2026 Comrades Marathon (die 99ste wedloop) vind Sondag, 14 Junie 2026, plaas. Dit is ’n “opwedloop” met ’n afstand van 85.777 km van Durban na Pietermaritzburg. Daar is 22 000 deelnemers en die amptelike slagspreuk is Ska Fela Moya (Setswana vir moet nooit hoop verloor nie).
Agter elke suksesvolle man is daar ’n vrou…agter elke Comrades-deelnemer is ’n familie.
Sonder ’n ondersteuningsnetwerk sou geen topatleet, die skuifelendes en veral die beginners, die Comrades voltooi nie.
Families se opofferings
Die dag van die wedloop is slegs ’n klein deeltjie van die opofferings wat families maak. Vroeg opstaan, lang afstande oor naweke, weg van die huis af om ure op die pad te spandeer, groot kostes om kwalifiserende wedlope te doen, en vakansies wat opgeoffer word. Al is jy met vakansie moet daar steeds geoefen word.
Dit is ’n hele familie wat mekaar ondersteun.
Pa, ma, oupa en ouma, ooms en tannies, almal deel in die euforie vanaf hulle gemakstoele.
Comradesdag
Dit word Comradesdag.
Versnapperinge en drankies voor die televisiestel.
En iewers tussen Durban en Pietermaritzburg worstel iemand.
Wanneer die haan kraai, Chariots of Fire speel, en die skoot klap, gaan daar ’n bekommerde familie wees. Sal hy klaarmaak? Sal die ou besering hom nie pla nie? Sal hy genoeg drink en eet? Sal hy die afsnypunt oorleef?
Dapper ondersteuners vind ’n manier op die Comrades roete uit te kom. Daardie bekende gesig vuur deelnemers meer aan as die energiestafie wat hulle ontvang.
En dan die eindstreep-chaos.
Om mekaar by die eindpunt te kry, waar duisende toeskouers saamgepak is, is amper moeiliker as die Comrades self. Sommige drawwers kom gehawend by die einde aan en benodig mediese behandeling.
22ste Comrades
Maar daar is geen beter bewys dat die Comrades ’n familiebesigheid is as die Koch-familie nie.
Pa Hein het die 2011 Comrades saam met sy drie seuns, Heinrich, Johan en Marco, voltooi.
Ma Anetta was soos altyd langs die roete vir ondersteuning.
Dit was Hein se 22ste Comrades.
Sy seun, Johan, het oor die ervaring geskryf:
“Vir my het die Comrades-vlam eintlik lank voor my eerste wegspring op 29 Mei 2011 begin brand. Ek het grootgeword met ’n pa wat super vroeg opgestaan het vir sy kilometers, maar steeds betyds was om saam met ons te oefen. Ek het altyd na hom opgekyk vir daardie dissipline, en vandag doen ek dit steeds.
“My pa het opgehou hardloop met sy 20ste Comrades (sy dubbel groen nommer) en gesê hy sal net weer hardloop as ek en my twee broers, Hein en Marco, dit saam met hom doen. Ek dink hy het dalk gedink dit sou nie gebeur nie (hêhê!). Ons het as ’n Koch-span begin en klaargemaak, almal binne sekondes van mekaar. Dit was een van die moeilikste, maar beste dae van my lewe.
“Die ding van die Comrades is: dit gaan nie net oor die ±90 km op die dag nie. Dit gaan oor die duisende kilometers en ure se opoffering. Eers toe ek self ’n pa geword het, het ek besef wat my ma moes opoffer.” Opofferinge om dit vir my pa met vier kinders in die huis moontlik te maak om sy droom te lewe. My vrou Jessica en ek het twee kinders (soms voel dit soos 20!), en ek kan my nie indink hoe sy dit met vier reggekry het nie!
“Sy het in my geglo”
“Sonder my vrou se ondersteuning sou ek dit nooit kon doen nie. Sy is nie self ’n atleet nie, maar sy was die een wat my gemotiveer het, toe ek nie lus was nie en in my geglo het toe ek aan myself getwyfel het. Dit is wat die ervaring so kosbaar gemaak het.
“Na ses Comrades wedlope het ek my laaste een (2017) vir ’n silwermedalje gehardloop. Ek moet noem dat Albertyn Claassen my afrigter was en my geweldig gehelp het om daardie silwer te kry.
“Die Comrades was vanuit ’n familieperspektief nog altyd deel van ons lewens.
“As die begeerte daar is, spandeer die tyd en geniet elke oomblik van die opoffering.”
- Lees ook op die webblad Marco se belewenis van hulle epiese wedloop, asook die lys deelnemers van Midack en Middelburg Marathonklub.