“Daar is nog plek vir gemeenskapskoerante in Suid-Afrika!” So sê die deurwinterde koerantman en akademikus, professor Johannes Froneman.
Hy is een van die grootste versamelaars van koerante in die land.
Na jare in die mediabedryf het hy steeds sy vinger op die pols en het onlangs ’n artikel vir Litnet ingestuur, waarin hy probeer navors hoe mooi meisies en seks koerante se sirkulasis aangejaag het.
Oor gedrukte koerante is sy mening dat daar nog plek is vir gemeenskapskoerante soos Die Middelburg Observer, Witbank Nuus, Laevelder en honderde ander.
“Hoe gaan ons oor tien of dertig jaar op groot gebeure terugkyk as dit nooit op papier verskyn het nie? Daarom is dit was ons op papier het so kosbaar.”
Professor Froneman het ’n paar vrae beantwoord oor sy versameling koerante.
Hoe oud is jou oudste koerant?
“Ek het ’n Cape Argus uit 1896, maar dink dis ’n herdruk. Ek het die laaste Ons Land, wat op 9 April 1930 verskyn het. Dalk is dit die oudste een. (Ek het natuurlik afdrukke van ouer koerante op my webblad, soos Die Afrikaanse Patriot, 1876).
Watter koerante het jy met opspraakwekkende voorblaaie?
Te veel om op te noem. Gaan kyk op Mediamense.com se afdeling Groot Nuus. Persoonlik dink ek die grootste nuusstorie ooit in Suid-Afrika was die moord op dr. Hendrik Verwoerd. Ek het talle voorbeelde van verskillende middagkoerante wat met spesiale uitgawes die groot nuus aan ’n geskokte publiek oorgedra het. Onthou, daar was geen televisie nie!”
Enige koerant van groot geskiedkundige waarde?
“Nogmaals talle. Dit hang seker maar af van jou politieke ingesteldheid. Die koerante wat die Nasionale Party se oorwinning in 1948 bekend gemaak het, is besonders. Republiekwording in 1961. Nelson Mandela se vrylating. Die verkiesing van 1994… Ek meen Connie Mulder se uittrede in 1978 het die grootste opskrif ooit ontlok: Mulder uit (Beeld).”
Wat is jou persoonlike kosbaarste koerant?
“Die eerste Transvaler wat op 1 Oktober 1937 uitgekom het met dr. Hendrik Verwoerd as redakteur is baie kosbaar. Maar ek het ook onlangs die eerste Oosterlig ontvang wat in 1936 die lig gesien het. Nogal met die redakteur, dr. Otto du Plessis, se handtekening daarop. Die eerste Beeld (1974) is ook besonders, want ek het dit op Stellenbosch van alle plekke gekoop. Later het ek my loopbaan daar by Beeld in Johannesburg begin.”
Watter koerante in jou besit word nie meer uitgegee nie?
“Die meeste. Die Suiderstem, Die Volkstem, Vaderland, Die Transvaler, Beeld, Volksblad, Oosterlig, The Friend, Hoofstad en Oggendblad, Landstem, Dagbreek, Sondagstem … Ek laat seker ‘n paar uit.”
Wat is jou visie vir/met die koerante? (Waarheen gaan ons met dit?).
“Papierkoerante se era is grootliks verby. Maar laat ek kwalifiseer: Daar is nog plek vir weeklikse gemeenskapskoerante. Engelse dagblaaie word kunsmamtig aan die lewe gehou omdat Independent massiewe beleggings en lenings van die OBK (Onafhanklike Beleggingskorporasie) ontvang het. ’n Paar ander Engelse Sondagkoerante oorleef nog. En dan is daar die Daily Maverick en Die Papier. Dus nie ’n totaal negatiewe prentjie nie.
“Maar advertensiegeld word opgeslurp deur Meta en Google asook televisie. Daar bly net te min oor vir die koerante – behalwe natuurlik die plaaslike koerante wat supermarkte se advertensies dra.
“Daar is nog ’n faktor wat in ag geneem moet word. Die joernalistiek word veel wyer as by dagblaaie bedryf. Op sosiale media, nuuswebblaaie, die uitsaaimedia en in die korporatiewe wêreld. Die afname in koerante beteken nie die einde van joernalistiek nie.
“Maar hoe gaan ons oor tien of dertig jaar op groot gebeure terugkyk as dit nooit op papier verskyn het nie? Daarom is dit was ons op papier het so kosbaar.”
Enige interessante storie hoe jy aan koerante gekom het?
“O daar is baie. Ek het juis nou ’n artikel vir Litnet ingestuur waarin ek probeer navors hoe mooi meisies en seks koerante soos Landstem, Die Beeld, Dagbreek en Rapport se sirkulasies aangejaag het. Ek stel minder in spesifieke stories belang as in tendense.”
Wanneer het jy by die Paarl Post gewerk?
“Ek het in 1980 as redakteur van die Paarl Post gewerk toe ek ervaring van ’n volle 18 maande gehad het (Beeld en Oosterlig). Het ’n aanbod van Die Kerkbode nie onverwags na my kant gekom nie, sou ek seker ’n paar jaar daar by die Paarl Post gehou het. Maar my gesondheid sou dit nie gehou het nie!”
Enigiets anders?
“My digitale mediamuseum, Mediamense.com, skuif eersdaags oor na Nuuseum.media, waar dit as ’n vaste versameling bewaar sal word en steeds gelees sal kan word. Ek sal voortgaan om stories oor koerante en mediamense op Nuuseum.media te plaas. En my Facebookblad Mediamense Bylae leef voort. Nuwe materiaal sal telkens daar aangekondig word.”

- Die koerantman en skrywer van Nagkantoor, De Wet Potgieter, het ook ’n reuse versameling ou koerante, waarvan sommige by sy kuierkroeg op Kaapsche Hoop uitgestal word.
