News

Selfs varke gebruik koerante

Papier se hitte maak van bromvoëls tot fietsryers warm

Selfs varke gebruik koerante!
Nie die tweebeen een wat vanoggend voor jou ingery en toe ’n middelvinger gegooi het nie.
Pienk vierbeen varke.

Wat sal die wêreld wees sonder koerante?

Het die afgelope paar weke desperate oproepe gehad van mense wat koerante soek.
Dit is verstommend waarvoor koerante gebruik word.
Natuurlik eerstens om te lees.

As jy gedink het net om die braaivleisvuur aan die gang te kry, in die pappegaai se hok of om op die vloer, sodat die klein hondjie nie sy blapse los nie, dink weer.
Deon Cornelius van Ubhetyan wildsplaas het ’n blink plan gehad om koerante en renostermis te meng vir ’n vuuraansteker.

Hy het geoefen en geoefen, totdat sy produk vlamgevat het.
Sy vuuraansteker is by die Middelburg Observer se kantoor gedemonstreer en daar was groot opgewondenheid oor die renosterpoefkoerantvuuraansteker.
Nadat ’n berig daaroor verskyn het, het Deon ’n dreigende prokureursbrief ontvang, dat daar patentreg op vuuraanstekers is.
Pufff… nog voor sy renosterpoef vuuraansteker kon brand.

Die Laevelder vier 140 jaar as die gemeenskap se waghond en bron van inligting.

Maar varke?

“As varke gebore word op ’n koerant, gaan hulle een van die dae leer lees,” laat weet ’n plaaslike boer.
Hy soek dringend ou koerante.
“Ons gebruik die koerante agter die sog as die varkies gebore word. Die papier is skoon, higeniës, keer dat koue vanaf onder die hortjiesvloer deurslaan. Dan kry die varkies nie koud met geboorte nie. As hulle koud kry val hulle glukosevlakke vinnig en hulle hardloop uit energie uit om te gaan drink. Die papier los vinnig op en beland nie in misvore om verstoppings te veroorsaak nie.”

“Ons gebruik koerante die laaste 28 jaar”

Die boer sê met geboorte sit jy net een vel koerantpapier agter die sog dan voel die kleintjie nie die koue met geboorte nie en daar kom nie ’n moontlike trek van onder af nie.
“Dit beheer ’n mikroklimaat sone vir die varkie. Ons gebruik koerante die laaste 28 jaar.”
Maar dit is nie net varke wat deur koerante warm gehou word nie.

Fietsryers vertel dat hulle in die ou dae koerante onder hulle hemde ingedruk het vir hitte wanneer dit bitter koud was.

Selfs Koppiestraat se huisies is verhit met koerante. Stompie de Bruin in sy Wendy-huis afgeneem. FOTO: Gerhard Rheeder.

Die Koppiestraatprojek het een van hulle huisies met koerante verhit deur die papier-mâché aan die mure te smeer.
Maar dit is nie net varke wat koerante gebruik nie, maar ook voëls.
Die laaste paar jaar is bondels koerante gereeld by die Loskopdam Natuurrservaat afgelewer, vir die bromvoëlprojek.

Gerhard Coetzee het ook die week geskakel om te vra vir ou bondels koerante vir die Dullstroom Birds or Prey-rehabilitasiesentrum.
Onlangs vertel ’n man dat hy sy been erg gebreek het tydens ’n karate kompetisie.
Koerante is opgerol om sy been te spalk.

123 Jaar lank berig die Middelburg Observer al oor die gemeenskap se lief en leed.

Koerante is ook:

  • Ideaal om vensters en spieëls blink te vryf.
  • As ’n deklaag om onkruid in tuine te onderdruk.
  • Perfek om breekware toe te draai wanneer jy pak of trek, of as opvulling in bokse.
  • Dit kan as kreatiewe geskenkpapier dien.
  • Word gereeld gebruik vir papier-mâché projekte of as ’n tafelbedekking.
  • Dit dien as ’n ekonomiese voering vir voëlhokke of troeteldierhokke en kan gebruik word om hondjies te leer om hul behoeftes op ’n spesifieke plek te doen.
  • Maak koerantpapier effens klam en draai groente soos wortels of blaarslaai daarin toe, en bêre dit in die yskas om dit langer bros te hou.
  • Plaas lae koerantpapier onderin ’n oond en spuit dit met oondskoonmaker; dit maak die papier klam en help om vet makliker op te tel.

Koerante in die Klaskamer-projek

Een van die suksesvolste gebruike van koerante was in skole met die “Koerante in die Klaskamer-projek” wat die Forum vir Gemeenskapskoerante aangebied het.
Die projek het ongelukkig doodgeloop.

Wat is ’n huis sonder ’n vader?
Wat gaan die wêreld wees sonder koerante?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button