News

Toe kry die dief net koerante, ou koerante

Want groter liefde het niemand as dit herleef in vergeelde koerantblaaie

Nog ’n pakkie ou koerante is by my huis afgelewer.
Kobus Tait, voormalige hoof uitvoerende beampte van Forever Resorts, het huis skoongemaak.
Vir sommige mense nuttelose papier.

Vir my ’n skatkis.
’n Skatkis waarin jy verdwyn.
Verdwyn soos in jou kinderjare met Trompie, Saartjie, Heinz Konsalik en “Die bevryding van voetsoldaat Steiner”.


Die wendyhuis is vol “waardevolle koerante”.
’n Wendyhuis waar daar verlede jaar ingebreek is.
Die hele deur afgeruk.
Kan in my geestesoog sien hoe staan die dief daar.
Hy bekyk ’n wendyhuis met niks anders as koerante nie.
Verstom!


Die Tait-versameling is uitgawes van die afgestorwe Die Vaderland, ’n middagkoerant wat deur Perskor uitgegee is.
Daar is ook ’n The Star of twee.
Koerante van die vyftiger jare en veral 1961.
Daar is ’n intimiteit aan hierdie koerante.
Beriggewing is “persoonlik”.

Jy word vasgevang in die wêreld van 1957, 15 September 1957: “Vuurdood van jong heldemoeder”.
En die inleiding “want groter liefde het niemand as dit…”.
Op 13 Augustus 2025 skryf ek oor die onderwyser, Ferdinand Bukes, wat van ’n spoorstaalbrug gespring het om sy dogtertjie se lewe te red en sy grafskrif: “Groter liefde het niemand as dit… hy het sy lewe vir sy kind gegee.”

Die Vaderland skryf: “Elsie van Rooyen van Standerton het met haar baba van ses maande in die veld gestap. Klein Roelof Petrus, ’n fris knapie met sy ma se donker kykers, was in sy stootwaentjie.
“Hulle was besig om gras te brand op die plaas. Eensklaps het die wind gedraai in die rigting van die moeder en baba. Toe sy weer sien was die stootwaentjie omring deur vlamme. Sy het haar seuntjie uit die stootwaentjie gegryp en hom bo haar kop gehou om hom teen die vlamme te beskerm…”.

Daar is hoofopskrifte soos:
“Vliegtuie bots na speelse aanval”.
“Ontken gerugte oor atoomkrag”.
“Jaloerse oë op Suid-Afrika gerig”.
“President deur juigende skare begroet”.
“Seuns sterf modderdood”.
“Onluste, spanning laai op”.
“Haal vry asem in dodeselle”.
Republiekwording in 1961 word met dramatiese voorblaaie aangekondig.

Die wendyhuis raak vol.
Vol herinneringe.
Herinneringe van mense se lewens, van politiek en geskiedenis…
’n Skatkis opgeteken in koerantblaaie…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button