Help mekaar!
Geen Helpmekaar nie.
Hoërskool Middelburg se rugbyhoof, Christiaan Gouws, was nog onlangs ’n geesdriftige Helpmekaar Kollege afrigter in die hartjie van Johannesburg.
Saterdag in die bekerafdeling van die Noordvaal Virsekerbeker, is daar net een help mekaar, en dit is wanneer Middies se spanne weg teen Helpies speel.
Asof dit nie genoeg is dat die oud Helpmekaar afrigter ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van die skool in bruin kleredrag se rugbyspelers nie, is die twee skole in ’n verbete stryd op die punteleer.
Garsfontein lyk onoorwinlik op ’n groottotaal van 29. Daarna volg Monument op 21, Waterkloof 16, Noordheuwel 15, Hoërskool Middelburg 12 en Helpmekaar op nege.
Oor sy tyd in Johannesburg sê hy “dit was ’n tydperk waar ek baie gegroei het, nie net as afrigter nie, maar ook as mens.”
Hy was vir drie jaar betrokke by die o/15 spanne en die eerstespan.
“Ons was bevoorreg om verskeie semi-finale en eindstryde te speel. Daar was baie spesiale oomblikke, maar vir my lê die grootste waarde in die verhoudings wat gebou is en die groei wat ek saam met die spelers en personeel beleef het.”
’n Vraag wat elkeen seker brand om te vra is, “hoe verskil die stedelike en plattelandse rugbykulture?”
Johannesburg?

Middelburg?
“Die grootste verskil is waarskynlik dat die platteland jou meer tyd gee om verhoudings te bou en werklik deel van ’n gemeenskap te word.
“Maar wat van Saterdag?
“Ons gaan beslis ’n groot uitdaging hê, want Helpies het ’n uitstekende rugbyprogram met baie kwaliteit. Tog glo ons dat rugby altyd ruimte laat vir iets spesiaal. Ons sien uit na die geleentheid en glo in wat ons hier besig is om te bou.
“Iemand by Helpies het voor my vertrek gesê dat ek sekerlik nie verwag om volgende jaar ’n wedstryd teen hulle te wen nie. Ek het groot respek vir hulle program, maar ek glo ook ons is besig om iets sterk by Middelburg te ontwikkel.”
’n Paar maande gelede was Christiaan nog bankvas agter Helpmekaar.
Gaan hy teen spelers te staan kom wat hy afgerig het?
“Ja, en dit maak die geleentheid baie spesiaal. Daar is spelers in wie ek baie tyd en energie belê het, en ek is trots op die jong manne wat hulle geword het.”
Met watter afrigters het hy saamgewerk?
“Ek was bevoorreg om saam met uitstekende afrigters soos Tjaart van der Walt, Dietlov Coetzee en Dewald Peyper te werk. Hulle is nie net goeie afrigters nie, maar ook mense vir wie ek groot waardering en respek het.”
Dit moes seker ’n aanpassing gewees het om van Johannesburg se geroesmoes hier op ons ou Middelburg te begin werk?
“Ek is ongelooflik dankbaar vir die manier waarop die Middelburg-gemeenskap my ontvang het.
Die ondersteuning van die skool, ouers en gemeenskap was besonders. Ons werk hard, geniet die proses, en daar is opregte opgewondenheid oor die pad vorentoe.”*HTS Middelburg het ’n loslootjie in die platafdeling van die Noordvaal Virsekerbeker.
