Geliefde Meneer “Pottie” oorlede
Oud-Middelburg inwoner en Middies adjunkhoof, Jan Potgieter sterf op 82.
Die geliefde oud-onderhoof van Hoërskool Middelburg, Jan Andries Potgieter (82), is Donderdagoggend, 11 Junie, in Pretoria ná ’n kort siekbed oorlede.
Jan, wat deur baie oud-leerders en inwoners van Middelburg as “Meneer Pottie” onthou word, het verlede jaar saam met sy vrou, Miemie Potgieter na Pretoria verhuis om nader aan hul dogter, Christi Pullen, en seun, Jan Potgieter, te woon.

Volgens sy dogter is ’n gewas op sy long sowat twee maande gelede tydens ’n galblaasoperasie ontdek.
Hy is onlangs geopereer om die gewas te verwyder, maar het nie ten volle herstel nie.
Nadat hy op 9 Junie na die hoësorgeenheid oorgeplaas is weens hartkomplikasies, is hy twee dae later oorlede.
Meneer Pottie was van Julie 1978 tot Desember 2004 deel van Hoërskool Middelburg se personeel en het as onderhoof ’n blywende indruk op generasies leerders gemaak.
“Om my pappa in een woord te beskryf, is dit ongetwyfeld: geliefd,” het Christi gesê.
’n Gedenkdiens ter viering van sy lewe vind op 19 Junie om 11:00 by die NG Kerk Kanonkop plaas.
Lees meer oor Jan Potgieter se lewe en nalatenskap in ’n komende uitgawe van die Middelburg Observer.
