News

KYK: Die trane loop toe Flippie pale toe skop

Gelukbringer maak soos Frik du Preez, net beter…

Die Springbok legende, Frik du Preez, het na die 1969 Curriebeker eindstryd teen die Westelike Provinsie, gesê hy het “gedrop, gescore en geplace”.
Dit was nadat hy ’n skepdoel oorgesit het, ’n drie gedruk en boonop ’n stelskop oorgeklits het.

Maar hoe’s hierdie vir jou Oom Frik?

Flippie du Plessis het gewawiel, geballboy en toe geplace.

Ou Frik sou mos nooit soos Flippie kon wawiele doen nie?

Flippie doen 'n wawiel.




Flippie doen ’n wawiel toe hy op die veld draf. FOTO: Tobie van den Bergh.

Philip du Plessis, Flippie vir sy spanmaats, is Laerskool Middelburg se eerstespan gelukbringer.

In ’n ligawedstryd teen Middelburg Primary het hy en die eerstespan kaptein, Nicus van der Merwe, saamgespan.

’n Wit broek, heeltemal te groot vir Flippie se kort beentjies, is gereël en onder Nicus se aanmoediging het hy die eerste keer voor gedraf as die span se gelukbringer.

@middelburgobserver

Flippe 1 – VIDEO:  Laerskool Middelburg se beroemde gelukbringer Flippie du Plessis het vandag self speelkans gekry. Die klong het amper so veel balle gesteel as wat hy harte gesteel het!

♬ original sound – MiddelburgObserver –

’n Week later teen Laerskool Kanonkop was Flippie so tuis soos ’n nar in ’n sirkustent in sy nuwe rol.

Hy het sommer ook met ’n paar wilde wawiele laat waai.

Tydens die Mpumalanga uitspeelwedstryde Vrydag was daar ’n brandende begeerte in Flippie se oë.

Hy het kliphard saam met die eerstespan opgewarm, weer, voor gedraf en sy wawiele gedoen.

@middelburgobserver

Flippie 2 – VIDEO:  Die trane loop toe Laerskool Middelburg se gelukbringer, Flippie du Plessis, pale toe skop. Hy het ook speelkans gekry.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Nie goed genoeg vir ’n man wat so hard opgewarm het nie.

Al het hy ook die skopkelkie vir sy kaptein, Nicus van der Merwe, opgevat wanneer hy skop, was daar ’n verlange in Flippie se oë.

Hy wou speel!

Flippie draf die veld op.
Flippie du Plessis draf met ’n groot glimlag op die veld. FOTO: Tobie van den Bergh.

In die uitspeelwedstryd vir derde en vierdie plek vandag teen Klipfontein het Flippie sy kans gekry.

Hy is opgestuur en het selfs die bal ’n slag hanteer.

En toe kom sy groot kans.

Hy kon pale toe skop.

Flippie skop pale toe.
VIDEO: Die trane loop toe skool se gelukbringer pale toe skop.

Die bal is gestel.

Soos Naas Botha het hy gevat-vat om seker  te maak die bal is reggestel, teruggetreë, weer vorentoe gestap, met lang hale teruggestap, sy broek opgetrek en vorentoe gestorm vir die skop van sy lewe…

Die skop was mis.

Maar Flippie het hom tot binne die harte van almal wat daar was geskop.

Toe sy spanmaats hom omhels het sy trane geloop.

En op die pawiljoene  was daar nie ’n droë oog nie…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button