MIDDELBURG ERFENIS: Die week in Middelburg se Geskiedenis – Junie 2026
Natie du Toit – Die wel en weë van Middelburg se eie Boere-heldin in die Oorlog en haar lewe daarna
Natie se biografiese data
Natie du Toit word op 12 Januarie 1880 op Middelburg gebore as Johanna Petronella Wilhelmina Du Toit. Sy is een van agt kinders van Gert Johan Wilhelm du Toit, ’n landdros van Middelburg, en sy vrou Johanna Petronella Wilhelmina du Toit.
Dit is onbekend waar Natie op skool was, maar dit word vermoed dat sy net soos haar jonger broer, Gert Johan du Toit, ’n leerling van Ebenaezer skool was, wat maar sowat 50 meter van hulle woonhuis op die hoeke van Coetzee- (nou John Magagulastraat) en President Krugerstraat (nou Dr. Beyers Naudéstraat) in Middelburg gestaan het. (Akkerhof woonstelle staan nou op daardie hoek).
Op die Suid-Oostelike hoek van die twee strate was die Excelda weeshuis, waarna in vorige Middelburg Erfenis inligtingstukke verwys is. Natie se ouer suster Elizabeth (Bettie) was een die onderwyseresse van Excelda weeshuis.
Natie word op 1 September 1901 ’n inwoner van die Balmoral Konsentrasiekamp en word kort daarna oorgeplaas na die Middelburg Konsentrasiekamp waar sy een van die Kampskool se onderwysers was.
Na vredesluiting sluit sy aan as student van die nuutgestigte Normaalkollege (Onderwyskollege) Pretoria. Sy verlaat die kollege op 26 Junie 1903.
Dit word vermoed dat sy een van twee kwekeling onderwysers van die Ebenaezer skool naby haar ouerhuis geword het. Natie tree op 14 Desember 1905 in die Witkerk, in die huwelik met George Truter Robertson. Die huwelik word voltrek deur ds. GJ Rousseau.

Uit die huwelik word twee seuns, Thomas Chalmers William Robertson (1907) en Gerard Robertson (1915) gebore. Dit wil voorkom asof die egpaar hulle daarna op die plaas Blesbokvlakte, Meerlus, vestig. Gerrie (Gerard) sterf op 20-jarige ouderdom en word op die plaas Blesbokvlakte begrawe.
Thomas (TC) word ’n verslaggewer by ’n groot dagblad in Johannesburg en word later vertroueling van Genl. Jan Smuts. Tydens die Tweede Wêreld Oorlog word TC die anti-Nazi propagandis van genl. JC Smuts, en word aangestel as die redakteur van die “Libertas” koerant. Hy betree die politiek in 1948 toe hy as die kandidaat van die Verenigde Party in Witbank staan. ’n Ere-doktorsgraad word ook deur die Universiteit van Witwatersrand aan hom toegeken.
Natie sterf op 25 September 1945 in die Lady Dudley Verpleeginrigting in Johannesburg aan kanker. Sy word langs haar seun Gerrie op die plaas Blesbokvlakte te ruste gelê.




Natie se man, George, tree weer op 28 Junie 1947 in die huwelik met ’n weduwee, Magdalena Maria Rosseau. Dit wil voorkom asof TC en sy vader se verhouding reeds versuur het voor sy moeder Natie se afsterwe.
Natie se man George sterf op 16 Oktober 1953 in Pretoria aan vermoedelike selfdood. ’n Gedenksteen word langs Natie se graf op die plaas Blesbokvlakte vir George opgerig.

Natie en George se seun TC sterf op 11 Januarie 1989 in Durban. Dit is onbekend waar hy begrawe is. Die TC Robertson Natuurreservaat in Scottburgh word na hom vernoem.
Natie se voorgeslagte
Natie se oupa aan vaderskant was Andries Francois du Toit. Hy word op 8 Augustus 1813 in Stellenbosch gebore. Hy tree op 2 November 1839 in die Beaufort Wes distrik in die huwelik met Elizabeth de Villiers. Tien kinders word uit die huwelik gebore.
Op 10 September 1856 verhuis hy op aandrang van kommandant-generaal AWJ Pretorius na die Transvaal. Hy word in Mei 1857 ingesweer as Pretoria se eerste landdros.

Hy word ook as die eerste posmeester van Pretoria aangestel en is verantwoordelik om die sentrale gedeeltes om Kerkplein, met net ’n ketting en ’n skeepsverkyker as instrumente, op te meet en strate uit te lê. Hy ontvang ’n stuk grond wat hy Arcadia doop as beloning. Op 31 Desember 1859 lê hy sy amp neer.
Aangesien hy hom tydens burger-onluste tussen 1861 tot 1864 aan die kant van generaal S Schoeman skaar, word hy ’n swaar boete opgelê. Hy vestig hom in 1871 op Nazareth/Middelburg en sterf op 15 Augustus 1883. Hy is in die Ou Begraafplaas in Gholfsig te ruste gelê.

Natie se vader, Gert Johan Wilhelm du Toit, tree gedurende 1873 in die huwelik met Johanna Malan. Gedurende die eerste Boere-oorlog verrig hy diens as waarnemende veldkornet en was onder andere betrokke by die slag van Majuba. Hy word in 1886 verkies tot die Volksraad van die ZAR. In 1888 word hy aangestel as waarnemende landdros en later as permanente landdros vir die distrik Middelburg, ’n pos wat hy tot die Anglo-Boereoorlog beklee het.

Hy veg tydens die Anglo-Boereoorlog en word op 22 April 1901 op Roossenekal tot oorgawe gedwing. Na die Anglo-Boereoorlog betree hy weer die politiek en word op 19 Augustus 1910 verkies tot lid van die Unie Parlement, ’n pos wat hy vir vyf jaar beklee het, waarna hy hom nie weer verkiesbaar gestel het nie. Hy word aangestel as die Hoof van die Grondraad. Hy sterf op 25 Desember 1922 en word in Pretoria begrawe.

Natie en die Anglo-Boereoorlog
Op 30 September 1899 mobiliseer die Middelburg Kommando vanaf Middelburg Stasie na Sandrivier in Natal vir die Anglo-Boereoorlog. Die dorp word op 27 Julie 1900 deur die Britse-magte beset. Op 16 Junie 1900 vaardig Lord Frederick Roberts, die Britse Opperbevelhebber, ’n proklamasie uit dat plaaswonings in die omgewing waar sabotasie voorkom afgebrand moet word – dit word veral toegepas waar Boere Kommando’s spoorlyne en brûe saboteur. Hierdie proklamasie, en verdere proklamasie deur Lord Horatio Kitchener, lei tot die vestiging van konsentrasiekampe waarheen inwoners gedwing is. Lord Kitchener reik in Desember 1900 ’n proklamasie uit om ’n formele konsentrasiekamp in Middelburg te vestig.
Middelburg het minimum vyf konsentrasiekampe gehad, drie vir wit persone en minstens twee vir swart persone. Die tweede kamp was die grootste kampe in die Transvaal, en geleë suid van die spoorlyn in die omgewing van die HTS Middelburg. Hierdie kamp was volgens bronne die haglikste kamp en verantwoordelik vir die meeste sterfgevalle met in Julie 1901 ongeveer 13 begrafnisse per dag. Die kamp word na Oktober 1901 na Kanonkop verskuif.
Afgestorwe kampinwoners is aanvanklik in die ou begraafplaas in Gholfsig begrawe, maar weens die afstand en getal sterfte word ’n nuwe begraafplaas in Mineralia uitgelê. Die derde konsentrasiekamp was noord van die Klein Olifantsrivier en ’n begraafplaas is noord van die kamp op Kanonkop uitgelê.


Aangesien onderwys met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog tot stilstand gekom het, is kampskole in die konsentrasiekampe gevestig. Dit blyk dat Middelburg minstens twee kampskole gehad het. Kleiner kinders het in die kamp in tente skool gegaan terwyl die groter kinders in die Gereformeerde Kerk se kerkgebou onderrig is.

Natie du Toit arriveer op 1 September 1901 in die Balmoral Konsentrasiekamp, maar word kort daarna oorgeplaas na waarskynlik die tweede konsentrasiekamp waar sy een van die kampskool onderwysers word. Haar pa en res van gesin kom 26 September 1901 ook in die kamp aan. Dit is volgens bronne tydens haar verblyf in die Middelburg Konsentrasiekamp dat sy aronskelke in die vleie naby die kamp afsny en die blomme op grafte plaas.
Sy plaas ook van die aronskelke in tente van die inwoners. Die aronskelke het volgens Jordaan vir Natie en haar mense hoop, vertroosting en skoonheid tussen die kampellende gebring.
Daar word ook genoem dat Natie tydens haar verblyf in die kamp verpleeg het. Daar kon geen bronne vir hierdie stelling gevind word nie en word daar vermoed dat Natie van die siekes in die kamp help versorg het.
Na die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 sluit die kampe stelselmatig en keer inwoners terug na hulle plase.
Natie as student
Die aangestelde Direkteur van Onderwys, mnr. EB Sargant, belê vanaf 1 tot 10 Julie 1902 ’n konferensie vir onderwysers in die Transvaal en die Vrystaat in die Wanderersaal, Johannesburg. Die doel van die konferensie is om die toekoms van onderwys in die Vrystaat en Transvaal te bespreek en riglyne neer te lê. Sowat 750 onderwysers woon die konferensie by.
Mnr. Sargant gelas dat Onderwys Opleiding Sentrums en “Normal Schools” tot stand gebring moet word. Op 10 Julie 1902 word grond aangekoop vir die Normaalkollege in Pretoria. Die Normaalkollege het aanvanklik uit twee geboue “The Bungalow” en “The House” bekend gestaan. Die eerste aangestelde waarnemende hoof was mnr. HS Scott.
Die vereistes vir toelating tot die kollege was aanvanklik baie hoog maar dit is besluit om die toelatingsvereistes te verslap en om kampskool onderwysers toe te laat om die dringende tekort aan onderwysers aan te spreek. Die waarnemende hoof vra op 20 Augustus 1902 vir ’n naamlys van moontlike kandidate. Negentien studente, hoofsaaklik kampskool onderwysers, word aanvanklik toegelaat. Die studente sou elk ’n beurs van 30 pond vir ses maande se studie ontvang. Dit word algemeen aanvaar dat die Normaalkollege, Pretoria op 2 September 1902 ontstaan het toe die eerste student, Maria Elizabeth Bosman, vir haar studies aangemeld het.
Op 3 September 1902 meld Hendrika Vogelzang van Middelburg (Tvl.) haar aan as tweede student van die Normaalkollege, Pretoria. Johanna Petronella Wilhelmina du Toit, of Natie soos sy bekend staan, meld op 15 September 1902 as die negende student van die Normaalkollege aan.
Natie en die wapen van die Normaalkollege
In die tydperk einde 1902 tot middel 1903 versoek mej. Alice Acutt, die Engels lektrise, die studente om ’n embleem en ’n leuse vir die Kollege te ontwerp. Natie skilder op ’n tekenplaat drie aronskelke as haar voorstel vir die kollege wapen. Die voorstel word aanvaar maar die kunslektrise, Mej. SC Harding word versoek om die geskilderde aronskelke te rangskik tot die finale wapen.




Dit wil voorkom asof Mej. Acutt self verantwoordelik was vir die kollege se leuse. Die spreuk is oorgeneem uit een van die gebede van die skrywer Robert Louis Stevenson en in Afrikaans vertaal lees as volg: “Moed, Blymoedigheid en Kalmte van Gees”. Dit sou egter ook by Natie se lewensbeskouing ingepas het.
Die rede vir Natie se keuse van die drie geskilderde aronskelke kom na vore in die gedenkalbum NKP 1902 tot 1977 waarin prof. CK Oberholzer dit stel dat hy na Natie se dood in ’n persoonlike gesprek met haar seun “TC” gevoer het en dat volgens TC sy moeder tydens die Anglo-Boereoorlog aronskelke, wat welig in die vleie tussen die kamp en die begraafplaas gegroei het, afgesny het en dit op die grafte van afgestorwe vroue en kinders geplaas het. Sy het ook van hierdie aronskelke in die tente van kampbewoners geplaas, om hulle op te beur in die onbeskryflike ellende. In die bibliografie van TC vertel hy ook van Natie se liefde vir aronskelke wat ook welig in die vleie op die plaas Blesbokvlakte gegroei het.
Natie verlaat die Normaalkollege op 26 Junie 1903. Selfs die Kollegelied (CF Rudolf 1942) bevat verwysings na Natie se aronskelke as “jou lewe is fakkels”. Daar word ’n kollege koshuis na Natie vernoem.
Op 2 September 1952 word ’n standbeeld van Natie voor die Normaal Saal op die kampus onthul. In 2000 word die Onderwyskollege geïnkorporeer by die Universiteit van Pretoria en die beeld staan voor Administratiewe kantore van die Groenkloof kampus.


Natie as onderwyseres
Daar is ongelukkig nie enige bronne beskikbaar oor Natie as onderwyseres nie. Soos vermeld word daar vermoed dat Natie na haar studie teruggekeer het na Middelburg. Sy kon moontlik een van die twee kandidaat onderwyseresse van Ebenaezer skool gewees het wat maar ’n paar meter van haar ouerhuis af gestaan het. Daar is egter geen bevestiging daarvoor nie.

Natie as huisvrou
Dit wil voorkom asof Natie en haar man George hulle na hulle huweliksbevestiging aanvanklik op die plaas Keerom gevestig het. Na verkoop van Keerom vestig die paartjie hulle daarna op Blesbokvlakte. Die gesin het blykbaar gereeld besoek van generaals Botha, Hertzog en Smuts ontvang. Natie het ook soms haar man na sy verkiesing tot die Parlement, na Kaapstad vergesel.

Natie en haar man het tot en met haar dood in 1945 op die plaas gewoon. Na Natie se afsterwe is die plaas in twee dele opgedeel en aan haar seun TC en haar man George nagelaat. Natie is op haar seun se gedeelte van Blesbokvlakte begrawe.
Suidoos-Transvaal Rugby-unie vereer Natie
In die boek “Hang die Redakteur” skryf Tobie van den Bergh dat daar met die stigting van die Suidoos-Transvaal Rugby Unie in 1969 voorgestel is dat ’n varkoor (Aronskelk) as embleem van die Unie gebruik moet word. Hierdie voorstel was gebaseer op Natie se aronskelk skildery op die tekenplaat en was die embleem van die Suidoos-Transvaal Rugby Unie tot en met die Unie se naamsverandering na die Mpumalanga Rugby Unie in 1997.

Natie se familie in die hedendaagse Middelburg
Natie se jonger broer, Gert Johan du Toit, gebore in 1882, die seun van landdros GJW du Toit, is die oupa van Gerrit Johan du Toit of soos hy bekend staan as “Oom Zulu du Toit”, een van die stigters in 1968 van die bekende Alzu Groep in Middelburg.

’n Jong vrou wat in Middelburg grootgeword het, die afgryse van die konsentrasiekampe meegemaak het, maar in die mooi van die aronskelke as fakkels van lewe gesien het.
Sy dra die beeld oor in die onderwys en selfs in ’n rugby-unie.
Haar seun bou voort op haar liefde vir die natuur as ’n baanbreker oor ekologie.
Bibliografie beskikbaar vanaf outeur.
