Die wagtyd vir die koms van die Hall-gesin se nuutste lid raak al korter, en tog hou die familie moed te midde van ‘n uitmergelende tyd.
Om hulle met die enorme mediese koste wat voorlê te ondersteun, word daar ‘n gholfdag op 2 Julie by die Middelburg Country Club aangebied. Die gemeenskap word versoek om letterlik en figuurlik saam te ‘slaan’ om ‘n verskil te maak vir baba Lumieke.
Terwyl die dorp kragte saamsnoer vir die ongebore baba, veg die verwagtende mamma ook haar eie moeilike stryd agter.
“Ek is moeg. My bloeddruk het begin probleme gee en preëklampsie het begin inskop, so my senuwees is gedaan,” vertel Johanrie Hall eerlik oor die geweldige druk op haar liggaam.
Sy het ook gesê dat hulle tweetjies tans fyn dopgehou word deur verskeie mediese spesialiste, nadat ernstige komplikasies ontwikkel het. “Die nuwe dokter is fantasties. Ek het nou sommer baie dokters; ek sien die ginekoloog in Sandton, my dokter hier op die dorp, en ons word ook gemonitor deur die 4D-sonograaf,” voeg sy by.
Haar hoë bloeddruk bly egter ‘n bekommernis, wat kan veroorsaak dat die dogtertjie vroeër as beplan gebore kan word.
Vir die familie voel elke week nou kosbaar. Elke ekstra dag gee vir dié kleintjie kosbare tyd om sterker te word voordat sy haar hartjie en lewe in die hande van dokters en hartspesialiste moet toevertrou.
Johanrie sê die ondersteuning vanuit die Middelburg-gemeenskap en die res van Suid-Afrika help om hulle staande, hoopvol en gelowig te hou.
Meer as R41 000 is reeds deur die BackaBuddy-veldtog ingesamel, máár daar lê steeds ‘n lang en styl pad voor om die dogtertjie se hartjie aan die klop te hou.
Gholfspelers en inwoners van Middelburg, stof die skoene af, ‘polish’ die stokke en kom slaan saam vir klein Lumiek op 2 Julie.
Die eerste balle word om 10:00 afgeslaan met ‘n shotgun-afslaan.
- Vir navrae, inskrywings of borgskappe ontak vir Gustav Collatz bv 082 565 769 of per e-pos by sales.mdb@sactrucks.co.za of Johanrie by 082 319 2732.
