Die Anglo-Boereoorlog.
Die Verskroeideaardebeleid.
Uitgebeeld in swart-en-wit foto’s.
’n Oorlog van lank-lank gelede.
Maar toe tref daardie pyn, hartseer en vernietiging jou in volkleur.
’n Ou boerehuisie.
Ingekleur met rooi vlamme wat by die wit mure uitlek.
’n Paar besittingtjies wat verlore om die huis staan.
’n Verslae gesin…
’n Gesin wat net daar sit, terwyl hulle huis in vlamme opgaan.
Die Middelburg Erfenisvereniging gaan 15 groot A1 en A0 kleur gerestoureerde foto’s, wat geborg is deur verskillende persone op die dorp, Woensdag, 17 Junie, uitstal.
Die uitstalling is deel van konsentrasiekampdag wat by die gedenksaaltjie op die terrein van HTS Middelburg gehou word.
Die unieke foto’s van die Middelburg konsentrasiekamp sal vanaf 10:30 tot 17:00 besigtig kan word.
Daarna volg ’n huldigingsgeleentheid voor die gedenksaaltjie met laaste lig wat tot 18:00 sal duur.
HTS Middelburg se jeugleiers gaan elkeen ’n blom lê ter herdenking van die slagoffers van die kampe.
Volgens Theo Ligthelm, van die erfenisvereniging, is ’n hele aantal van die foto’s uniek.
Dit is geneem deur ’n korporaal William George Pocock, wat eers ’n fotograaf vir die Britse Magte op Middelburg was en na die oorlog vir redakteur en eienaar Oscar Henry Frewin by die Middelburg Observer gaan werk het.
*Die eerste uitgawe van die Middelburg Observer word in 1903 gedruk deur die Imperiale Garnisoen se drukpers wat wat op ’n muilwa gemoonteer was, met die hulp van korporaal Pocock. Die drukpers was deel van die 23rd Coy, Royal Engineers, wat op Middelburg gestasioneer was.
Die publiek is welkom by Woensdag se verrigtinge.
