Mag daar nooit weer ’n Anglo-Boereoorlog, Gaza of Rwanda wees nie
Varkore om slagoffers van konsentrasiekampe te onthou.
“Kom ons kyk vorentoe in gebed, om te verseker dat so iets gruweliks nooit weer mag gebeur nie.”
“Dit is in julle hande, as die jong leiers van die toekoms, om te verseker dat kinders en hul gesinne nooit weer die slagoffers word van politieke drome van mense nie, nie hier nie, nie in Rwanda nie, nie in Duitsland nie, nie in Gaza nie.”
So het Theo Ligthelm van die Middelburg Erfenisvereniging Woensdagmiddag gesê tydens ’n konsentrasiekampdag huldigingsgeleentheid wat by die gedenksaaltjie op HTS Middelburg se terrein aangebied is.
Hy het ’n kort perspektief gegee oor die konsentrasiekampe op Middelburg.
“Die Anglo-Boereoorlog was ’n oorlog tussen Imperiale Brittanje en die totale bevolking, wit en swart, van die twee klein Boere Republieke – die Zuid-Afrikaanse Republiek (later die Transvaal) en die Oranje Vrystaat vanaf 1899 tot 1902 – 127 jaar gelede!
“Ongelukkig was dit nie net ’n oorlog tussen vegtende soldate of burgers nie, maar ook ’n oorlog teen ongewapende bejaardes, gestremdes, vrouens en kinders.”
Op 16 Junie 1900, gister 126 jaar gelede, vaardig Lord Frederick Roberts, die Britse Opperbevelvoerder, ’n proklamasie uit dat Boere-plase in die direkte omgewing van sogenaamde sabotasie afgebrand sal word, dit word later veral toegepas waar daar aanvalle op die spoornetwerk was.
Onder Roberts se opvolger, Lord Horatio Kitchener, ruk hierdie optrede hand-uit, en word hierdie aanvalle op Boere-wonings nou strooptogte wat alles verwoes. In totaal word ongeveer 30 000 wonings afgebrand of geplunder en totale dorpe soos Bethal, Ermelo en Carolina afgebrand.
“Soos die oorlog oorgaan in guerrilla oorlogvoering, met klein groepe Boere-krygers wat vinnig rondbeweeg het, het Kitchener dryfjagte verskerp om ongewenstes, soos die vroue en kinders van vegtende burgers genoem is, van plase te verwyder, huise af te brand, alle voorrade te verwoes en alle plaasdiere, skape, perde en beeste of te konfiskeer of dood te maak.”
“Hierdie vroue, kinders en bejaardes is in kampe byeen gebring. Maar ook boere-gesinne en burgers wat oorgegee het, word in die kampe opgeneem.”
Teen November 1900 word die eerste kamp in Middelburg gevestig in die huise oorkant die stasie, wat vandag nog bestaan.
Teen Desember 1900 gee Kitchener opdrag dat ’n formele konsentrasiekamp in Middelburg opgerig word. Die terrein waar die kamp geleë was, het gestrek vanaf ongeveer waar CR Swart Laerskool nou is tot teen Aerorand, met die sentrale deel hier op die terrein van die HTS Middelburg.
Die kamp word baie vinnig groter, soos gesinne in dryfjagte gevang en hierheen gebring word met min klere of beddegoed.
Teen Julie 1901 is daar 7750 inwoners in hierdie kamp, terwyl die dorp slegs ongeveer 500 inwoners gehad het. Die kamp was baie swak beplan en hopeloos te min tente, drinkwater en geriewe was beskikbaar.
Julie 1901 word ook beskryf as ’n uitsonderlike koue winter in Middelburg, met hierdie gesinne in lekkende tente op hierdie vlakte, met geen beddens of warm klere nie.
“Daar is in Julie gemiddeld 13 begrafnisse per dag in Mineralia Begraafplaas van kinders, moeders en bejaardes wat sterf aan onder meer masels en longontsteking.”
Mnr. Ligthelm het gesê “ons staan vanmiddag hier op die terrein waar die hospitaal ongeveer gestaan het, waar die meeste van hierdie persone gesterf het.”






Gister op die Middelburg Observer se webblad is ’n artikel gepubliseer oor Natie du Toit, ’n jong Boere-dame en dogter van die landdros van Middelburg wat vertel hoe sy hier bosse varkore in die veld gepluk het om op die kiste van die gestorwenes te plaas of vir moeders te bring na hul kind begrawe is.
“Teen Oktober 1901 word ’n kommissie deur die Britse Regering gestuur om die kampe te ondersoek, waaroor Emily Hobhouse so sterk teen gekant was.” Hierdie Komitee van Dames beskryf die Middelburg kamp as die swakste kamp in die totale kampstelsel met ’n baie swak organisasie en uitleg.
“Die kamp word nou verskuif na Kanonkop en ’n deel van die inwoners oorgeplaas na Balmoral en ander na Durban. Die kamp op Kanonkop het steeds meer as 5000 inwoners gehad, maar die toestande was genadiglik beter as op hierdie terrein.”
Dit was ongelukkig nie net die Boere-gesinne wat in die kampe gedwing is nie, maar ook die swart gesinne wat op die plase gewoon het.
Die Britte het besluit om nie net swart werkers toe te laat om hul werkgewers na die kampe te vergesel nie, maar ook om alle swart gesinne wat die Boere moontlik kon help van die plase te verwyder. Swart plase is ook afgebrand, gewasse verbrand, diere gekonfiskeer en die gesinne in kampe gedwing.
Ongeveer 80 000 is regoor Suid-Afrika na kampe geneem, met die hoofkamp vir hierdie gebied by die Olifantsrivier-treinstasie tussen Middelburg en eMalahleni.
Die toestande in hierdie swart kampe was selfs erger as dié in die wit kampe.






Geen tente is aan die swart mense voorsien nie, en hulle moes skuilings vir hulself bou van materiaal wat in die omgewing versamel is. Slegs ½ pennie, wat vandag ongeveer R2,25 sou wees, is per persoon vir kos toegelaat, met die doel om die swart mans te dwing om vir die Britte te werk om meer kos te kan koop.
“’n Skatting van meer as 20 000 swart mense het in hierdie kampe in die land gesterf.”
In Middelburg was die aanvanklike swart kamp wes van die Kanonkop-kamp.
“Ons het rekords van ongeveer 70 swart mense wat in hierdie kamp gesterf het, met die oudste ’n man genaamd Jan van 100 jaar wat aan brongitis gesterf het en die jongste Katalika, slegs sewe dae oud, wat aan diarree gesterf het.”
“Soos die guerrilla-fase van die oorlog toegeneem het, is oproertogte uitgevoer en swart mense is op treine gelaai, net om in die veld langs die spoorlyn afgelaai te word waar die trein omgedraai het.”
Op daardie stadium was die swart dorp Middelburg rondom Meijer-brug en ’n tweede kamp het in die gebied ontwikkel vir die mense wat pas by Pan-stasie van die trein afgelaai is. Mhluzi het eers in daardie tyd begin ontwikkel, en dit is moontlik dat ’n derde kamp langs hierdie nuwe dorp ontwikkel het.
“In totaal bestaan rekords van 1366 wit persone wat sterf in die Middelburg kampe met meer as 26 000 in die hele land. Dit sluit in tragiese verhale van bejaarde Oom Botha wat verkluim het, weduwee moeders van vyf kinders wat sterf aan longontsteking en die Engelbrecht gesin van Bethal waar twee kinders op die selfde dag sterf.”
“Na die oorlog is besluit om hierdie Gedenkkerkie op te rig as ’n monument ter gedagtenis aan almal wat in die kampe gesterf het en dit is hier op die terrein waar die hospitaaltente gestaan het.”
“Die geld om dit te bou is gekollekteer deur mev. Janie Burger, die dominee van die Witkerk se vrou, uit die arm gemeenskap, wat moes oor begin na die oorlog.”
“Dit word tans gerestoureer.”
Varkore is geplaas ter herinnering aan al die vroue, kinders en bejaardes, wat in die grusame oorlog gesterf het.
