Polla Fourie se Springbok rugbytrui is opgespoor!
Die trui het jare gelede spoorloos verdwyn.
Nadat die Middelburg Observer verlede jaar berig het oor verskeie truie wat verdwyn het, is Fourie se trui in ’n stoorkamer by die rugbyklub gekry.
Fourie het in 30 wedstryde vir Suidoos-Transvaal gespeel en was ook kaptein van die span. Hy het in 1974 een toets vir die Springbokke teen die Ierse en Britse Leeus gespeel en daarna ook na Frankryk getoer.

Hy is die eerste Springbok rugbyspeler wat Middelburg, Suidoos-Transvaal, deesdae die Pumas, opgelewer het.
Sy trui het bokant die kroeg teen ’n muur gehang en toe verdwyn.
Daar is vir jare na die trui gesoek…tot nou!
Rossouw truie ook weg uit klubhuis
Middelburg Rugbyklub afrigter, Henk Wessels, sê hy weet nie of die truie van Francois Rossouw ook in die stoorkamer was nie.
Rossouw, vanaf 1991 tot 2002 in 182 wedstryde vir Suidoos-Transvaal en die Pumas uitgedraf het, was ook die eerste Suid-Afrikaanse Skole speler wat Middelburg opgelewer het. Sy SA Skole trui het ook teen ’n muur by Middelburg Rugbyklub gehang. Die trui het soos die van Fourie uit die klubhuis weggeraak.
Wynand Claassen
Die Springbok kaptein, Wynand Claassen, se kosbare 1981 Springbok baadjie, wat hy gedra het tydens die meelbomtoer na Nieu-Seeland, is uit ’n glaskas by Hoërskool Middelburg gesteel. Hy was ’n voormalige hoofseun van die skool en kaptein van die Bokspan wat in die meelbomtoetse teen die All Blacks gespeel het.
Hy het sy 1981 Springbok trui vir die skool geskenk.
Nie net Bokbaadjie gesteel nie
Dit was nie net sy Bokbaadjie wat by Hoërskool Middelburg gesteel is nie, maar ook ’n trui van Tommy du Plessis, Springbok skrumskakel en nog ’n trui van Rossouw. Albei oudleerlinge van die skool.
’n Trui wat waarskynlik meer waardevol was en ook verdwyn het, is Claassen se groen eerstespan nommer vier trui.
Hy het sy eerstespan trui van 1968 aan die destydse hoof, Chris Viljoen, gegee. Die trui is nooit weer gesien nie.
