NewsSport

As jy inspirasie nodig het, lees hier

Help, ek kan nie swem nie! En toe voltooi ystervrou ’n Ironman

Jy skryf seker nie sulke opskrifte nie? Maar jy kan nie anders nie as om te sê: “Lees hierdie storie vir inspirasie”.

Chantelle Honeyborne (41) se reis van besige mamma tot ystervrou is niks anders nie as inspirerend.
Sy het haar laerskoolloopbaan by Laerskool Koornfontein voltooi, aan Hoërskool Generaal Hertzog gematrikuleer en is die trotse mamma van twee kinders, Gv (12) en Ellie (10), “op wie sy ongelooflik trots is”.

Een van die grootste sportuitdagings ter wêreld

Op skool het sy omtrent elke sport probeer, maar ná skool net nou en dan geoefen. Min het sy geweet dat sy jare later een van die grootste sportuitdagings ter wêreld sou aanpak.
In November 2024 het sy die “mal” idee gekry om aan die Ironman 70.3 in Gqeberha (Port Elizabeth) deel te neem.

Chantelle Honeyborne kon nie behoorlik swem nie en nou is die see geen verskrikking meer vir haar nie. FOTO: Verskaf.

Die enigste probleem? Sy kon nie behoorlik swem nie. Binne vyf maande het sy haarself leer swem en ernstig begin oefen.
“Die grap is, my eerste 70.3 was ’n absolute shit show,” lag sy vandag.

’n Rowwe see, verskriklike wind op die fietsroete en toe, asof dit nie genoeg was nie, verdwyn haar hardloopskoene by die oorgangsgebied. Haar wedloop was verby… voordat dit behoorlik begin het.
“Ek onthou hoe my man en kinders my met sjampanje gespuit het, waar ek buite die oorgang op die grond gesit het. Hulle was verskriklik trots op my, maar ek was glad nie gelukkig nie. Vandag besef ek die feit dat ek lewendig uit daardie see gekom het, was al klaar iets om voor dankbaar te wees!”

Maar opgee was nooit ’n opsie nie

Daardie selfde aand het sy vir die Durban 70.3 twee maande later ingeskryf.
Terwyl sy vanuit haar hotelkamer gekyk het hoe die volle Ironman-atlete deur weerlig, reën en wind tot ná middernag aanhou hardloop, het sy gedink: “Hierdie mense is mal. Ek sal dit nooit doen nie.”
Hoe verkeerd was sy nie!

Durban was ’n heel ander ervaring

“Ek onthou nog die reuk van boerewors wat gebraai is terwyl ek in die see geswem het. Dit het my kalmeer daar in die diepwater!”
Ná Durban het sy besluit om vir die Ironman Series Trofee te mik deur al drie Suid-Afrikaanse 70.3-wedlope in een jaar te voltooi.

Maar die lewe het ander planne gehad

Drie weke voor die Kaapstad marathon beland sy vir ’n week in die hospitaal. Dokters verbied haar om vir ses weke te oefen of aan enige sport deel te neem.
“My hart was gebreek.”
Toe, in Januarie 2025, word haar pa met kanker gediagnoseer.
Vir vyf maande ondersteun die familie hom totdat hy op 31 Mei 2025 oorlede is.

“Ek het my rolmodel, my ysterman, my pappa verloor. Dit was die moeilikste tyd van my lewe. As ek ooit ’n uitdaging wou aanpak, was sy woorde altyd: ‘Go for it, my kind.’”

Chantelle Honeyborne sê dit gaan nie oor medaljes nie, maar oor geloof, familie, verlies, opstaan en weer probeer. FOTO: Verskaf.

Ten spyte van die verlies het sy besluit om terug te keer na die dinge wat sy so liefgehad het – die moed om aan te hou.
Kaapstad marathon word weer gekanselleer weens stormwinde.
Nog ’n teleurstelling!
Maar in November 2025 voltooi sy uiteindelik die Mosselbaai 70.3 ná agt ure van reën, wind, son en koue.
“Dit was nie mooi nie, maar dit was klaar.”

Toe kom die geleentheid wat alles verander

Ironman kondig aan dat deelnemers wat ’n 70.3 in 2025 voltooi het en die volle Ironman in Gqeberha in 2026 voltooi, die gesogte Series Trofee sou ontvang.
“Ek het ingeskryf, al het ek gedink nie al my varkies is op hok nie” lag sy.

Op 19 April 2026 voltooi sy haar eerste volle Ironman

“Ek onthou net die laaste 500 meter. Ek het geskree soos ’n mal mens. Dit was die ongelooflikste hoendervleis-oomblik van my lewe. Nadat ek twee dae lank nie eens na die see wou kyk, voor die wedloop nie!”

Series Trofee

Met daardie prestasie ontvang sy ook die Series Trofee waarvoor sy so lank geswoeg het.
En asof die lewe haar wou beloon vir haar deursettingsvermoë, voltooi sy op 24 Mei 2026 uiteindelik haar derde poging in die Kaapstad Marathon.
“Third time lucky.”

Vandag oefen Chantelle elke oggend tussen 04:00 en 06:00, sodat sy die res van die dag haar volle aandag aan haar gesin en werk kan gee.
“Ek is eerstens ’n mamma. My kinders en my familie bly my prioriteit.”

Vir haar gaan sport nie oor medaljes nie

“Ek doen dit omdat dit my help om deur die lewe te gaan. Dit hou my kop op ’n goeie plek. Dit help my om asem te haal, kalm te bly en die beste weergawe van myself te wees.”

Chantelle is die trotse mamma van twee kinders, Ellie en Gv . FOTO: Verskaf.

Maar daar is nog iets

“Ek wil vir my kinders wys dat ’n aanhouer wen. Nie noodwendig met medaljes nie, maar in die lewe. Ek wil hê hulle moet weet dat niks verby is, totdat jy van die koers af verwyder word nie. Jy gee nie op omdat dit moeilik raak nie.”

Vir Chantelle is die belangrikste dinge in die lewe eenvoudig

“Ek is lief vir die Here. Ek is lief vir my familie. En ek is dankbaar vir my gesondheid. As jy gesond is, doen wat vir jou lekker is. Die lewe is te kort om nie voluit te leef nie. Wees lief vir mekaar, wees dankbaar, en moenie ophou glo nie.”

En dalk is dit juis daarom dat haar storie nie eintlik oor Ironman gaan nie

Dit gaan oor geloof.
Dit gaan oor familie.
Dit gaan oor verlies, opstaan en weer probeer.
En dit gaan oor die eenvoudige waarheid; dat ’n mens baie sterker is as wat jy ooit dink.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button