Die uitdrukking “om jou gat te sien” verwys oorspronklik na mense wat in die oorlog tereggestel is en dan hulle eie gat/graf, gesien het.
Maar wat gebeur wanneer jy met jou fiets teen ’n bees vasjaag, gatoorkop slaan, nadat jy ’n slaggat getref het, of in ’n tak vasjaag?
Is jy dan moééér toe, het jou gat gesien of is jy hoog in die takke?
Wil nou nie van my ’n gat maak nie!
Het liewer vir drie van die dorp se fietsryers hulle mening gevra.

Corné Ferreira het verlede jaar vertel wat gebeur wanneer ’n fiets, Sixty60 motorfiets en koei mekaar ontmoet.
Hy het toe gesê dit was “moééérse seer”.
“Ek het een oggend so draai om Dennesig en Kanonkop gery. Teen Verkennerstraat af het ek nog gesien my spoed is 52 kilometer per uur.”
Daar waar Verkenner- en Helen Josephstraat by mekaar aansluit, was ’n Sixty60 afleweringsmotorfiets op pad, wat regs wou draai.
“Ek het my oog op hom gehou, want dit het gelyk asof hy voor my gaan indraai.”
Twee koeie het doodrustig voor hom oor die pad geloop.
“Een van die koeie het gebokspring in die middel van die pad, ek het haar teen die nek getref.”
Corné het gat oor kop in die pad neergeslaan, met sy helmet wat teen die teer skuur.
Terwyl die verskrikte koeie die veld invlug, het Corné sy fiets uit die pad getrek en op die sypaadjie gaan sit, waar die verskrikte Sixty60 man hom oor die beseerde fietsryer ontferm het.
Hy het ’n ligament in sy skouer geskeur en moes ses weke van die fiets af bly.
Die koei was ongedeerd.

En toe sien PC Nell ook sy…slaggat.
Een oggend hier by vier uur het hy in Soutpansbergweg gery.
In die donker het die gat wegkruiper gespeel.
PC is gatoorkop oor die handvatsels.
“Ek het al vergeet hoe hard ’n teerpad is!”
Hy het sy linker gewrig beseer.
Toe hy later die oggend verby die plek ry, was daar gevaarlint om die slaggat gespan en die volgende dag was die gat reggemaak.
Die stukkie pad is volgens sy fietsrymaats herdoop na “PC se Gat”.

Maar wat noem jy ’n fietsryer wat vroegoggend in takke vasjaag?
Hoog deur die takke?
Deur die blare?
Dit is presies wat met Willie van Straaten gebeur het.
Hy is lid van die Early Riders wat elke oggend om 4:30 begin ry.
In die stikdonker nag het die boom opgeduik.
“Ek was in Hospitaalweg, net na Frewinstraat, van Roberts af se rigting. Ons het intervalle geoefen en ek het nie met my normale fiets gery nie. My lig het heeltyd af geskyn. Toe ek die lig optel, was dit te laat. Ek het besluit om oor te bunny hop maar die takke was te hoog. “
Willie, wat voor gery het, het hard geval…teen 39 kilometer per uur is swaartekrag ’n blikskottel.
So hard dat hy knieligamente beseer het en sy arm is in ’n hangverband.
As jy nie gat of kop kan uitmaak waarom jaag jy in die nag met ’n fiets rond, terwyl die res van die dorp slaap nie, dink weer.
Moééénie vrees nie… hierdie manne is verskriklik moéédig…
