News

Geheime van Crooks Corner ontrafel

’n Plek waar verskeie skobbejakke en onwettige olifantjagters hulle tuis gemaak het.

Die geheime van Crooks Corner word skeppie vir skeppie ontrafel.

Voor 22 Mei 2026 het min mense geweet van Crooks Corner.

Na die moord op Dina (73) en Ernst Marais (71), van Mosselbaai, op 22 Mei, is Crooks Corner wêreldbekend.

Dr Kobus Terblanche van die Middelburg Erfenisvereniging. FOTO: Tobie van den Bergh

Hulle liggame is in die Levubu-rivier gekry en drie mans is intussen vir die moorde aangekeer.

Vir professor Anton C. van Vollenhoven DPhil (Argeologie) DPhil (Geskiedenis) is Crooks Corner nie ’n moordnes nie – dit is ’n geskiedkundige skatkis.

Hy en ’n span van 12 mense het hierdie week met opgrawings by hierdie noordoostelike deel van die die Nasionale Kruger Wildtuin begin.

Professor Anton C. van Vollenhoven DPhil (Argeologie) DPhil (Geskiedenis). FOTO: NWU.

Archaetnos Argeoloë – sy konsultasie maatskappy, wat al vir meer as 20 jaar in die wildtuin navorsing doen, is betrokke.

Vanweë sy verbintenis met die Noordwes Universiteit deel hulle in sy bevindinge.

Maar waarom Crooks Corner?

“Ek het nog altyd die geskiedenis van hierdie area fassinerend gevind. Nadat ek my navorsing oor die Anglo-Boereoorlog in die wildtuin voltooi het, het ek gereken hierdie is die ideale geleentheid om Crooks Corner van nader te bekyk.”

En die geskiedenis van Crooks Corner?

Oorblyfsels van John Fernandez se winkel by Crooks Corner.

“Dit is bietjie van ’n lang antwoord, maar in kort is dit maar ’n area waar verskeie skobbejakke en onwettige olifantjagters hulle tuis gemaak het in die 1910-1930’s. Dit was ’n maklike wegkruipplek want paaie was bloot tweespoor ossewapaaie en omdat dit die plek is waar drie lande bymekaarkom, was dit maklik om oor die grens te beweeg, sodat jy nie gearresteer word nie. Die bekende olifantjagter, Cecil (Bvakenya) Barnard, is waarskynlik die bekendste persoon van daar. Ander is William Pye, William Hartmann, Considine, Lumley, Alex Thompson, John Fernadez, Monty Ash, Buck Buchanan.”

Die spesifieke terrein waar die span vanjaar werk was een van die Portugees, John Fernandez, se winkels. Die omliggende terrein, wat maar almal deel van die groter Crooks Corner is, is wel deur ander groepe soos die Malulekes bewoon. Verskeie van die wegkruipers was blankes.

’n Lid van die span wat van 15 tot 26 Junie in die wildtuin gaan werk, is dr Kobus Terblanche van die Middelburg Erfenisvereniging.



Opgrawing van die ashoop by die kampterrein van Considine en Lumley in Pafuri. FOTO: Verskaf.

“Die doel van die navorsing is om meer oor die lewenswyse van die inwoners van Crooks Corner vas te stel. Dit is ’n tydperk wat strek van ongeveer 1910-1960. Oorblyfsels van strukture en voorwerpe gee ’n idee van hulle gebruikersgoedere en kos. Daaruit kan ons die omstandighede waaronder hulle hul bevind het vasstel. In die proses word ’n rekonstruksie van hulle lewenswyse gemaak. Dit maak dat inligting opgeteken word, voor dit moontlik verlore raak endit kan ook help met beplanning rondom toerisme – wat kan mens met die terreine doen en kan dit toeganklik gemaak word vir toeriste.”

Die projek het reeds in 2021 begin toe dié buitengewone professor in geskiedenis en ’n span deur die area gestap het om die terrein te dokumenteer. Benewens historiese terreine is daar ook terreine uit die Steen- en Ystertydperk, maar sy navorsing fokus nie hierop nie.

Professor Van Vollenhoven het reeds Thompson se winkel (Makuleke) en die kampterrein van Considine en Lumley opgegrawe. Hierdie jaar is dit Fernandez se winkel by Crooks Corner. Later gaan hy die ander winkel by Pafuri asook die winkel van Borchers doen.

En so word die geskiedenis bewaar, skeppie vir skeppie…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button