News

Pullenshope taverne skietery: Een gewond, een agter tralies

Sekuriteitsman in hof en wapen gekonfiskeer ná skietvoorval by taverne in Pullenshope op Saterdag, 6 Junie.

Buitelandse sekuriteitswagte is Maandag, 8 Junie, skielik by ’n plaaslike myn onttrek ná ’n skietvoorval Saterdag, 6 Junie by ’n taverne in Pullenshope waarby ’n lid van die sekuriteitsmaatskappy betrokke was.

Die voorval het by die taverne oorkant die vulstasie plaasgevind. Die taverne is gelisensieer om alkohol op die perseel sowel as vir wegneemverkope te verkoop.

Volgens ’n bron na aan die ondersoek was dit die gewapende man se verjaardag, en is hy al verskeie kere voorheen sonder voorval by die taverne opgemerk. Ooggetuies vertel dat hy saam met ’n groep gesit en kuier het toe hy op ’n stadium deur ’n ander man verbygeloop is.

Die verdagte het hom toe van agter gegryp, waarna hy glo ’n vuurwapen uitgepluk en ’n skoot in die dak afgevuur het.

Die taverne was vol, en chaos het uitgebreek ná die skote.

Die verdagte is in die daaropvolgende struweling deur die slagoffer ontwapen, waarna die vuurwapen na buite gegooi het. Ooggetuies sê die verdagte het daarna verskeie kere na sy wapen op die grond probeer gryp, maar dat omstanders dit telkens wegskop het.

In die gewoel het die slagoffer se duur ring ook verlore geraak.

Pullenshope taverne skietery. Foto: Skermskoot van beeldmateriaal.

Bestuurslede van die sekuriteitsmaatskappy het kort daarna op die toneel opgedaag, met ooggetuies wat een van hulle daarvan beskuldig dat hy die ring gesteel het.

Die man is gekonfronteer, maar ontken dat hy die ring geneem het en sê dit behoort aan hom.

Die slagoffer is steeds in die hospitaal nadat hy in die skouer getref is. Volgens ’n ooggetuie het die koeël regdeur sy skouer gegaan. Die slagoffer het ’n klag van poging tot moord én ’n diefstalklag oor die vermiste ring aanhangig gemaak.

Die betrokke sekuriteitswag was nie aan diens ten tyde van die voorval nie, maar was na ure gewapen.

Die polisie in Hendrina lei die ondersoek en het die vuurwapen vir verdere forensiese ontleding in beslag geneem, terwyl die verdagte in hegtenis geneem is.

Daar is egter kommer by die klaer dat die saak ‘op die agtervoet’ begin het nadat bestuur van die sekuriteitsmaatskappy glo toegang tot die toneel gehad het.

Hy vrees ook dat die dossier kan verdwyn indien daar ‘die regte geld betrokke is.’

Bestuur van die sekuriteitsmaatskappy het glo intussen opdrag gegee het dat alle buitelandse werknemers Pullenshope moet verlaat.

’n Identiteitskaart wat deur die maatskappy uitgereik is, is in die verdagte se beursie gevind. Twee koeëldoppies is ook deur forensiese beamptes op die toneel opgetel.

Die motief vir die aanval is nog onbekend, en die polisie sê die ondersoek duur voort.

KYK | Pullenshope taverne skietery https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7653056635765542160?is_from_webapp=1&sender_device=pc

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button