Twee oupas sou darem trots gewees het?
Die kaptein en die man met die skopkelkie laat die land steeds gons.
Ai, die twee oupas sou darem trots gewees het?
Trots op die kaptein en sy bondgenoot.
Die een wat skop en die een wat sorg dat hy skop.

Sedert klein Philip (Flippie) du Plessis in die land se hart ingekruip het, as Laerskool Middelburg se gelukbringer, was daar ook heimweë oor twee oupas.
Twee bekende oupas, die een ’n prokureur en die ander een ’n dokter op die dorp.
Albei jonk weens hartaanvalle weggeruk uit die gemeenskap.

Klein Philip is na sy oupa vernoem.
Philip du Plessis was vir jare ’n prokureur op Middelburg en in 2011, toe hy maar 63 jaar oud was, aan ’n hartaanval oorlede.
Laerskool Middelburg se eerstespan rugby kaptein, Nicus van der Merwe, is ook na sy oupa vernoem, dr Nicus Botes.
Dr Botes is op 15 Oktober 2018 ook aan ’n hartaanval oorlede toe hy 67 jaar oud was. Hy het toe reeds afgetree.
Intussen maak klein Flippie en sy kaptein steeds opslae.
Ultimate Youth het vanoggend aangekondig dat Flippie nou deel van hulle familie is.
“Hy lyk te mooi in sy Ultimate broek en Ultimate Youth rugbybal.”
Daar was ook groot lof vir die Koedoekop eerstespan afrigters, CT Mostert en Darius Botha.
Hulle het die durf gehad om Flippie ’n kans te gee, nie net as gelukbringer nie, maar ook om te speel.
Die twee se harte moes in hulle keel geklop het toe hy teen Klipfontein opgestuur is in die Mpumalanga uitspele.
Daar was nie genade vir Flippie nie.

Toe hy aan die bal vat, het dit gelyk soos ’n muis wat in hooi verdwyn, weg!
Maar Flippie het voortgespeel en tot die laaste skop waargeneem.
En toe hy sy brons medalje gaan haal, het sy kaptein, Nicus, hom voor laat loop.
Dit het ’n seisoen afgesluit wat oor meer as rugby gegaan het.

Daar was oorwinning op oorwinning.
Oorwinnings wat die trane laat loop het.
So mooi.
So spesiaal.
Soos Nicus se pa, Jakes, sê: “Dit was Flippie se seisoen”.