NewsSport

Oefeninge in die donkernag

Rugbyklub oorkom hindernisse om sy man te staan in die liga

Terwyl verskeie rugbyklubs in Suid-Afrika hulle deure gesluit het, rugbypawiljone in roes verander het en eens bedrywige klubhuise stil geword het, het Middelburg Rugbyklub voort geveg.

Vir jare was die Middelburg Rugbyklub en sy klubhuis die hartklop van die dorp.
Dit is waar daar geoefen, gekuier en vriendskappe gesmee is.

Middelburg het op een stadium onder Gerrie Gerrits se leiding ses spanne in die veld gestoot.
Die drie spanne wat nie in die top liga gespeel het nie, is die Oorbietjies genoem.
Saterdae was die karre om die veld getrek, braaivleisvure aangesteek en op die veld is daar gespeel dat die bloed loop vir die swart trui.

Daar was natuurlik ook vele ligte oomblikke soos die dag toe losskakel Leon van den Berg voor die woedende Witbanker, Simon van Niekerk, moes vlug.

Of toe groot Ben Badenhorst uit ’n losskrum gepeuel het met ’n “meneer die ref kyk hy het my gebyt”.
’n Swart dag was toe Jan Nieman, ’n flank wat gaan voorry speel het, sy nek gebreek het. Hy is later oorlede.

Net toe dit aan die einde van verlede jaar lyk asof Middelburg Rugbyklub ook sy laaste asem uitgeblaas het, het rugbymanne soos Henk Wessels, Albert Hanekom, Willie van der Westhuizen en Rudi Geyser, ingegryp.
Hulle het self die spreiligte herstel, net om te sien hoe word die kabels weer gesteel.

Die Steve Tshwete Munisipaliteit, wat die gronde moet onderhou, het geskitter in hulle afwesigheid.
Daar is in die donkernag geoefen.
Later het Laerskool Middelburg gehelp en kon die sewes span darem daar oefen.
Ander skole het ook ’n hand van vriendskap uitgereik.

Maar dit is nie reg nie.
Die fasiliteite is daar, die hart van ons dorp.
Waarom moet die klub na die skole uitwyk?
Boonop is hoëveldse klubs die weeskinders van Mpumalanga rugby.

Barberton, Witrivier en Nelspruit floreer deesdae met die Pumas wat in die Mbombela Stadion gesetel is.
Loskop Rugbyklub blom onder die Blou Bulle vaandel.

Ondanks hierdie hindernisse het Fanie Mellet en sy span vasgebyt.
Daar was ’n groot nederlaag teen Bethal, maar die afgelope naweek ’n groot oorwinning oor Malelane.
Die tweede span het nou wel met 19-16 verloor, maar die eerstes het 51-14 gewen.
Albei spanne is deur na die liga uitspeelwedstryde.

Dit is ’n reuse prestasie vir ’n span wat in die duister gelaat is.
Die talent is daar.
Middelburg Rugbyklub het net die gemeenskap en veral die Steve Tshwete Munisipaliteit se ondersteuning nodig.

Hanekom het gesê die uitdagings sal oorkom word. “Ons sal die klub weer tot sy ou glorie uitbou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button