“Ons is deur ’n lugafweerkanon vasgepen.
“Die kanon was op ’n platbak voertuig en kon nie laer as 90 grade vuur nie.
“Die vyand was skaars 10 meter van ons af, maar kon ons nie raakskiet nie.
“Hulle het die hele tyd oor my geskiet.
“Jy voel die hitte van die koeël en maak jou so klein as moontlik daar waar jy lê,
“Jy kan nie eers jou geweer optel nie.
“Hulle kry my net nie raakgeskiet nie.
“Terwyl hulle net op my gefokus het, het ’n swart troep na ’n Buffel toe gehardloop, waarop ’n ligte masjiengeweer gemonteer was en hulle uitgeskiet.”
Die ligte masjiengeweer wat die troep gebruik het, se magasyn het elke twintigste ronde ’n fosfor patroon, soos daarna verwys is.
Die petroltank is getref
Die troepe wat onder die Buffel geskuil het kon met hierdie fosfor vuur sien waarheen om te skiet.
Een van die fosfor projektiele het die petroltank getref wat aan die brand geslaan het.
Die skut agter die kanon is ook getref en die drywer het aan die brand geslaan.
Die grensoorlog was ’n tyd voor selfone. ’n Tyd van filmkameras.

Daar is net een foto
Toe ek vir Attie Roeloffze vra of hy nie vir my foto’s het van die grensoorlog nie, het hy vertel dat daar net een foto is. ’n Foto van daardie dag se geveg in Angola.
“Ek was by ’n militêre uitstalling en daar was ’n foto wat Paratus geneem het, van my en die twee 32 Bataljon troepe by die uitgebrande voertuig, wat daardie dag uitgeskiet is.” (Paratus was die tydskrif wat deur die Suid-Afrikaanse Weermag uitgegee is).
“Wat daar gebeur het, sal my lewe by my bly. Dit ontstel jou nogsteeds.”
Deel van die spesmagte
Na sy twee jaar diensplig het lt Roeloffze by die Staande Mag aangesluit, was vir vyf jaar deel van die spesmagte en het sy loopbaan afgesluit as majoor.
Daarna was hy die privaat sekretaris van die geneesheer generaal en hy het ook later saam met ministers Adriaan Vlok, Roelf Meyer en Marthinus van Schalkwyk gewerk.
Die laaste 40 jaar was hy in diens van Sanlam en het in Pretoria gewoon, totdat hy in die Paarl gaan aftree het. Vandag onthou hy, soos vele grensoorlog veterane, nie net die oorlog nie, maar ook die soldate wat sy aan sy saam met hom geveg het.
Herinnering aan die Angola-aanval
Het hy ook soos vele oud soldate iewers ’n herinnering aan die Angola-aanval.
Soos die koekies met ’n boodskap in Portugees wat oor dorpe afgegooi is voor ’n Suid-Afrikaanse aanval.
Maar hy onthou veral skutter Floris Cornelius Smit.
Die jong troep wie se hand hy vasgehou het, in sy sterwensoomblikke.
Lugafweerkanonne
FAPLA, die gewapende magte van die MPLA in Angola se lugafweerkanonne het ’n formidabele rol gespeel in die Suid-Afrikaane Grensoorlog, veral tydens operasies soos Modulêr en Hooper.
Hierdie Sowjet-verskafde wapens is swaar in beide grond-tot-lug en grond-tot-grond rolle ontplooi.
Die mees algemene en dodelike lugafweerkanonne wat deur FAPLA gebruik is sluit in ZPU-2 en ZPU-4.
Dit was 14,5 mm masjiengewere wat dikwels op vragmotors gemonteer is vir vinnige, mobiele vuurkrag.
ZU-23-2 was ’n effektiewe dubbelloop 23mm kanon. Dit is gereeld gebruik in kruisvuur om grondtroepe soos gemotoriseerde infanterie (Ratels) vas te pen.
- *Katarsis is die uitdruk van gevoelens. Die proses van emosionele vrylating of ontlading ná ’n intense of oorweldigende ervaring. Dit dien as ’n geestelike suiwering of “skoonmaak” wat spanning verminder en tot innerlike vernuwing en ’n beter begrip van jouself lei.