News

Die mooi verpleegster en die Morris Minor

’n Mooi liefdesverhaal wat jong egpare weer hoop gee

Die mooi verpleegster, die Morris Minor en ’n goue huweliksherdenking.
Op 12 Junie 2026 het Gerrie en Elbie de Lange hul goue bruilof herdenk en “50 jaar van liefde, geloof en toewyding aan mekaar gevier”.

Gerrie en Elbie de Lange op hulle troudag 50 jaar gelede. FOTO: Verskaf.

Hul liefdesverhaal het op ’n ongewone manier begin.Nadat Gerrie sy diensplig voltooi het, het hy in Januarie 1975 na Edenvale teruggekeer om sy studies in Onderwys aan die Universiteit van Pretoria aan te pak. Sy ouers het intussen vir hom ’n pragtig gerestoureerde Morris Minor as vervoermiddel gegee.

In dieselfde tyd is Elbie Breedt, ’n studentverpleegster van Cullinan, na die Edenvale Hospitaal oorgeplaas, om haar opleiding voort te sit. Sy en haar vriendin, Marie, het die plaaslike Hervormde-gemeente gekontak om vervoer na die erediens te reël. Die predikant het vir Gerrie gevra om die twee jong verpleegsters op Sondag 2 Februarie 1975 kerk toe te neem.

Daardie oggend het Gerrie met sy geliefde Morris Minor by die verpleegsterstehuis opgedaag. Elbie het op die agtersitplek ingeskuif, en hoewel daar min gepraat is, kon Gerrie nie help om nou en dan in sy truspieëltjie na die mooi jong verpleegster te loer nie.

Elbie en Gerrie de Lange 50 jaar later by die hospice geselligheid afgeneem. FOTO: Tobie van den Bergh.

Na afloop van die erediens het Elbie langs Gerrie op die voorste sitplek ingeskuif, en die twee het begin gesels. Op pad terug het tragedie toegeslaan toe ’n swaar vragmotor ’n stopstraat ignoreer en teen die Morris Minor bots. Al drie insittendes is ernstig beseer, terwyl die motor onherstelbaar beskadig is.

Vir Gerrie het die ongeluk egter iets onverwags gebring. Sy bewondering vir Elbie het gedurende haar lang hersteltyd in die hospitaal in ware liefde verander. Gereelde besoeke, lang gesprekke en ’n eerste soen onder die ou akkerboom voor die verpleegsterstehuis het die grondslag gelê vir ’n verhouding wat die toets van tyd sou deurstaan.

Op 14 Januarie 1976 het Gerrie en Elbie verloof geraak, en op 12 Junie 1976 is hulle deur Elbie se broer, ds. Kobus Breedt, in die Nederduitsch Hervormde Kerk op Cullinan in die huwelik bevestig.

Gerrie het op 1 Mei 1983 by Sanlam in Middelburg begin werk, waar die egpaar hulle permanent gevestig het. Op 31 Desember 1986 is hul aangenome dogter, Wilinda, gebore. Die gesin het in 2008 diep hartseer beleef toe Wilinda op 21-jarige ouderdom tragies in ’n motorongeluk oorlede is terwyl sy ’n derdejaarstudent in Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria was.

Ten spyte van hierdie verlies het Gerrie en Elbie hul lewenswyse van diensbaarheid voortgesit.
Elbie was vir baie jare aktief in die Vrouelandbou-unie (VLU), waar sy verskeie leierskapsrolle beklee het en ook as redakteur van die VLU se Communiqué-tydskrif gedien het.

Saam dien hulle ook as ere-veldwagters in die Krugerwildtuin, waar hulle hul liefde vir die natuur uitleef deur vrywillige diens, onder meer in boskampe, by renosterbewaring en die ondersteuning van die K9-eenheid. In Middelburg is hulle ook betrokke by gemeenskapsorganisasies soos Hospice.

Wanneer hulle gevra word wat die geheim van vyftig gelukkige huweliksjare is, kom die antwoord sonder huiwering: “Ware liefde vir mekaar.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button