Die Puma Cravenweekspan het Saterdag tydens die Bondedag in die tweede helfte gewys dat hy teen die groot unies kan meeding.
Nadat hy rustyd met 33-5 teen die sterk span van die Blou Bulle agter was, het die Pumas mooi teruggeveg om net met 47-24 te verloor.
Die Bulle het 14 punte in die tweede helfte aangeteken en die Pumas 19.
Daar is verwag dat die span van Coene Nolte met meer as 50 punte sou verloor.
Die span het te veel sagte drieë afgestaan en die Bulle was verwoestend met hulle rolmaarbewegings.
As in ag geneem word dat die Bulle kan kies uit skole soos Garsfontein, Waterkloof en Menlopark wat in die grootskole afdeling van die Virsekerbeker speel, het die Pumas goed gedoen.






Net Hoërskool Middelburg verteenwoordig Mpumalanga in die uitsoekgroep.
Met Nelspruit wat die toon aangee in die plaatafdeling, lyk die toekoms meer rooskleurig. Die span staan ’n goeie kans om volgende jaar in die grootskole afdeling te speel.
Indien HTS Middelburg weer ’n krag word kan die Pumas saam met die groot unies blaf.
Die Leeus kan byvoorbeeld kies uit spanne van Noordheuwel, Monument en Helpmekaar.
Die Leeus was rustyd met 21-5 voor teen die Luiperds en het met 40-19 gewen.
Slegte nuus is dat die slot Lihan de Vaal van Hoërskool Middelburg sy skouer ontwrig het en die veld moes verlaat.
Die span vertrek hierdie week na Gqeberha vir ’n oefenkamp en speel op die tweede dag van die Cravenweek teen Griekwas.
Op Maandag 6 Julie speel die Haaie teen die SWD, Westelike Provinsie teen Oostelike Provinsie, Vrystaat teen Limpopo, Boland pak die Luiperds.
Dinsdag speel die Bulle teen die Leeus, Westelike Provinsie XV teen die Griffons, Griekwas teen die Pumas.