Wanneer ’n mens baasspeurder Mike Bolhuis bel en vra “kan jy praat?” is sy antwoord “ja ek kan ook lees en skryf”.
Nou wonder mens, kan Middelburg se mense lees?
Is hulle net apaties?
Behoort hulle aan geen WhatsApp-groep nie?
Besit hulle selfone?
Gaan hulle nou en dan op ’n webblad om te sien wat gaan aan in die wêreld?
Of is hulle maar net verskriklik hoopvol?
“Moenie julle groen asdromme uitsit nie”
Woensdagoggend is daar op elke moontlike groep van veiligheid- tot straat-, en bak-en-brou gevra “moenie julle groen asdromme uitsit nie”.
Tog het die helfte van die dorp steeds hulle dromme uitgedra.
Intussen het die munisipale werkers by die burgersentrum bymekaar gekom, om hulle onwettige staking voort te sit.
Strate is erg bemors
Toe die son gisteraand oor die dorp sak, het die groen asdromme soos verlore soldate op sypaadjies gestaan.
Dikbek inwoners het die groen dromme maar weer by hulle erwe ingetrek.
Strate is erg bemors, omdat die vullis deur die dag uitgehaal, deurgegaan is vir afval en alles net so op sypaadjies gelos is.
Die staking duur voort.
En daarmee is daar geen vullisverwydering nie.