Soos die wilde weste.
Wanneer ’n geskil besleg word, klap die skote.
Nie meer kroeggevegte nie.
Nie meer uitdagings tot ’n vuisgeveg nie.
Die skote klap, mense sterf.
Kort nadat daar by ’n oudpolisieman kers opgesteek is oor die geweld, stuur hy ’n berig wat in Nuusflits gepubliseer is. “Pa en seun gewond toe buurman hulle skiet”.
Caxton netwerknuus rapporteer” “2 802 Gauteng shootings in 130 days.”
Wilde Weste
Tydens die Wilde Weste-typerk in Amerika, waaroor daar verskeie films gemaak is, is persoonlike konflik in die straat met ’n vuurgeveg uitsorteer.
Maar wat die afgelope jaar in Mpumalanga gebeur het was nie nostalgies nie. Dit het twee mense dood gelaat, verskeie beseer en families in rou gedompel.
Telkens word die skieters vergruis, voordat die feite in ’n hof openbaar is.

Die land is geruk toe Ricardo Spies in die parkeerarea by Corridor Hill Crossing in eMahlaleni geskiet is.
Die skietery het naby ’n gewilde restaurant plaasgevind en Spies het later aan sy wonde beswyk.

Die man wat na bewering die sneller getrek het, Tinus Oelofse, is intussen op R5 000 borgtog vrygelaat.
Sy vriendekring sê hulle is geskok met sy arrestasie en die sosiale media plasings wat oor hom gemaak word ontstel hulle, omdat hy nie ’n gewelddadige persoon is nie.

’n Jaar gelede is die land ook geskok, deur die onsinnige dood van die jong veeboer en losvoorspeler van Witrivier Rugbyklub, Pieter Burger (21).
Op 17 Junie 2025 is Marco Schalekamp (42) in verband met sy dood in hegtenis geneem.
Schalekamp is tydens dieselfde voorval waarin Burger jr. noodlottig gewond is, ernstig beseer.
Saak verskeie kere uitgestel
Die tragedie het in die vroeë oggendure van 5 Junie 2025 by die Witrivier Rugbyklub afgespeel, ná ’n geveg wat later in ’n skietery by die Danie Joubert-aansluiting op die dorp ontaard het.
Arno van Niekerk, wat ook tydens die voorval geskiet is, is later uit die hospitaal ontslaan.
Die saak teen Schalekamp is al verskeie kere uitgestel, nadat hy op borgtog vrygelaat is.
Vier skote afgevuur
In Maart hierdie jaar het die skote in die stil toerisme dorpie, Dullstroom, geklap.
Die vermeende skieter is vrygelaat, nadat twee poging tot moordklagte deur die polisie laat vaar is.
Die man wat by die gevegte betrokke was, het sy vuurwapen uitgetrek en ten minste vier skote afgevuur, na vrygeselpartytjies handuit geruk het.
Na die skietery het die betrokke partye in hul voertuie gevlug, terwyl nooddienste die slagoffers behandel het. Hulle is na die Life Midmed-hospitaal op Middelburg gehaas, waar albei later ontslaan is.
Volgens getuies het ’n opblaas-sekspop wat aan iemand by ’n vrygeselpartytjie behoort het, wrywing veroorsaak, voordat ’n partytjieganger ’n dildo-klap gekry het.
“Dan skiet ons ver te kort”
Pastoor Danie de Kock, wat ’n gereelde rubriek vir die Middelburg Observer gelewer het, sê oor die gewelddadigheid “as mense geken word aan die vrug wat hulle dra, dan skiet ons ver te kort.”
Die Trumpet in Amerika het ook berig: “Spreuke 23:7 sê: Want soos hy in sy hart dink, so is hy. As jongmense ’n bestendige dieet van gewelddadige speletjies en ander gewelddadige vorme van vermaak inneem, sal hulle meer gewelddadig word. Om onsself te vermaak met die werklike of verbeelde lyding van ander is in direkte teenstelling met Filippense 4:8, wat ons vermaan om te fokus op die dinge wat regverdig, suiwer, lieflik en van goeie getuienis is, en Filippense 2:5, wat beveel dat ons die gesindheid van Christus in ons laat woon.”
’n Tyd toe dit verskriklik was wanneer mans in ’n vuisgeveg betrokke was
Die webblad het berig oor ’n studie wat aangedui het dat gewelddadige videospeletjies fisiese aggressie veroorsaak.
Pastoor De Kock sê mense leef sonder God en het ’n onderlinge aggressie.
“Daar was ’n tyd toe dit verskriklik was wanneer mans in ’n vuisgeveg betrokke was. Nou skiet hulle mekaar dood en die frustrasie begin omdat mense sonder God leef.
“Ek beleef ’n gees van godsdiensighied op ons dorp in hulle verhouding met God. My pa het kerk toe gegaan en nou gaan ek ook kerk toe. Dit is soos fake vrugte op ’n tafel.
“Hoe ons reageer word openbaar in moeilike tye.”
Die eise van ons tyd
Hy sê sosiale media veroorsaak dat mense nie meer kan kommunikeer nie. “Mense kyk mekaar nie meer in die oë nie.”
“Alles begin by die huisgesin. Het jy ’n verhouding met God?”
Volgens pastoor De Kock sit die eise van ons tyd ook groot druk op gesinne, met pa’s wat nie by die huis is nie en weg werk, met ma’s wat huishoudings hanteer.
“Where have all the good men gone?”
Hy sê drank word mense se kruk.
“Mense kan mooi goed op sosiale media plaas, maar hoe lyk hulle lewens werklik? Veral wanneer hulle deur ’n krisis gaan?”
Die gewelddadigheid laat hom aan die Bonnie Tyler liedjie dink: “Where have all the good men gone?”