News

Olifantsrivier het ’n nuwe naam

Is dit Lepellêrivier of Teelepellêrivier?

Die Olifantsrivier se naam het verander.
Die rivier se nuwe naam is Lepelle of iBhalule.
Om die waarheid te sê, die naam het al 21 jaar gelede verander.
Min mense is egter bewus dat die Olifantsrivier nie meer die Olifants is nie.

Mnr. Marcell de Villiers en sy gesin het die naweek by Olifants River Lodge gaan stap en toe hy na die Olifantsrivier op Google Maps soek, het dit “Lepelle” aangedui.
Hy het die Middelburg Observer gekontak, wat agter die kap van die byl probeer kom het.

Die Olifantsrivier is nou Lepellerivier.

Die naam is amptelik in 2005 deur die Suid-Afrikaanse regering as die Lepelle-rivier geproklameer as deel van geografiese naamsveranderinge in Limpopo.
En dit is net hier waar die destydse minister van Kuns en Kultuur, dr Pallo Jordan, die pot mis gesit het.
Die einste “doktor” Jordan wat gelieg het oor sy doktorsgraad en daarna uit die parlement bedank het, toe hy uitgevang is.

Jordan en sy raadgewers het duidelik nie besef die Olifantsrivier strek oor 560 kilometer vanaf die Mpumalanga Hoëveld, vloei noordwaarts na die Limpopo-provinsie, deur die Drakensberge en die Laeveld, voordat dit Mosambiek oorsteek om by die Limpopo-rivier aan te sluit nie.

Bosman Grobler. Geen idee dat die Olifantsrivier ’n nuwe naam het nie. FOTO: Verskaf.

Die selfde tyd wat die Olifantsrivier ’n nuwe naam gekry het, het die Blyderivier Motlatse geword, Houtsrivier is na Mogwadi verander, die Dwarsrivier na Mononono, die Brandboontjie na Mosukudutzi en die Bloedrivier na Mulaudzi.
Lepelle beteken in plaaslike dialekte “stadig vloeiend”. As ’n van is Lepelle in die Tswana- en Sotho-kulture “die een wat wys is”.

Mnr. André Booyens wat al vir jare op die walle van die Olifantsrivier bly, was nie bwus van die naamsverandering nie en sê vir hom sal dit altyd die Olifants bly.
Toe mnr. Deon Cornelius van Ubhetyan o Africa genader is oor die naamsverandering het hy gevra “wanneer het dit gebeur?”

Helgaardt Muller, wat al vir jare in die Vallei woon, sê “dit is die eerste keer wat ek daarvan hoor”.
Selfs mnr. Bosman Grobler, wat in die Mpumalanga Wetgewer gedien het en die burgemeesterskandidaat is vir die DA in die munisipale verkiesing het gesê “ek het inderdaad nie geweet die naam is verander nie”.

Rudi van Wyk, Hy was bewus dat die Olifantsrivier se naam verander het. FOTO: Verskaf.

Voorsitter van die Middelburg Erfenisvereniging, Rudi van Wyk, was wel bewus dat die Olifants nou Lepelle is.
Nadat hy die Olifantsrivier gesoek maar by Lepelle uitgekom het, vra mnr. De Villiers “is dit nou Lepelle, Lepellêrivier of Teelepellêrivier?”

Anna-Marth Ott. Naamsveranderinge moet volgens haar reg bestuur word. FOTO: Facebook.

Die hoof uitvoerende beampte van die Middelburg Kamer van Koophandel, me. Anna-Mart Ott, sê naamsverandering sal nie toerisme raak indien die verandering goed bestuur word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button