’n Plaasseun, ’n krokodil en ’n berig wat in die Middelburg Observer verskyn het. Dit gaan ure en ure se blaai deur ou bundels verg, om die storie agter hierdie storie te kry.
Anita Pieterse het die foto, maar sy het nie die detail nie.
En nou is sy op soek na meer inligting oor haar oupa, Petrus Jacobus Smit.
Besig om beeste aan te jaag
Sy sê haar oupa het op die plaas Naauwpoort in die Loskopdam/Roossenekal omgewing gewoon. Hy was besig om beeste deur ’n rivier te jaag, toe ’n krokodil hom gryp.
“Hy het die krokodil met ’n klip doodgeslaan en ’n berig daaroor het in die Middelburg koerant verskyn.”
Wanneer die berig verskyn het is nie seker nie en kan die tydperk 1940 tot 1948 of 1943 tot 1945 wees.
’n Soektog na die oorspronklike berig kan weke duur, want daar sal deur verskeie jare se ou bundels gesoek moet word.
Die Middelburg Observer het die eertse keer in 1903 verskyn.
Anita vra dat enigiemand met inligting oor die foto haar moet kontak op haar sosiale media bladsy.