Die Week in Middelburg Erfenis – 10 Augustus
MIDDELBURG KRY ‘N HOËRSKOOL – DIE BEGINJARE TOT DIE TWEEDE WÊRELD OORLOG
Vir baie jare was matriek ’n droom vir baie jongmense wat net aan die Staats Modelskool in Pretoria verwesenlik kon word. Vorm I (die huidige Graad 8 en ten tye deel van die Laerskool) is beskou as voldoende onderrig. Die Vorm I eksamen was ’n publieke eksamen bekend as School Leaving en baie kinders het selfs voor dit al die skool verlaat om te gaan boer. Vorm III (huidige Graad 10) was ’n besondere kwalifikasie vir ’n plattelandse kind en die sleutel tot ’n loopbaan. Trap II (Matriek) was ’n droom wat vir baie min kinders beskore was.
Waar het dit begin?
Onderwys in Middelburg het maar hortend-en-stotend begin, met dwarstrekkende Afrikaners en Engelssprekendes wat hul eie ding wou doen. Na ’n periode van suiwer Godsdiensonderrig onder beheer van die kerk, word daar stadig beweeg na ’n meer sekulêre onderwys, wat dan ook weer doodloop. Beskikbare onderwysers en finansies bly die groot remskoen.
Op 8 November 1876 word Hendrik van der Linden (1825-1880), ’n onderwyser oorspronklik uit Haarlem in Nederland, vanaf Heidelberg as hoofonderwyser vir Middelburg aangestel, met die Hervormde Kerk se sink-kerkgeboutjie in OR Tambostraat as die skool. Sy gesondheid was egter swak en hy bedank in Maart 1880, sterf in Junie 1880 en die skool loop dood! Die eerste skoolhoof van Middelburg is in die Ou Begraafplaas begrawe. (’n Blou Erfenisbordjie is by die graf aangebring).
Na die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) word weer probeer om ’n skool te stig. Landdros Human stig weer ’n skoolkommissie en beraam planne om fondse te genereer. Die boere kla egter dat die skool nie koshuis akkommodasie het nie en hulle dus nie hul kinders kan skool toe stuur nie. Die kommissie besluit om die huis en winkel van SCC Wemmer te huur, om as skool en koshuis te dien. HF Keet word as hoofonderwyser aangestel en die skool heropen op 1 Mei 1884. In 1885 is daar reeds 75 leerlinge.
In 1893 bou die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk (Die Verenigde Kerk) ’n nuwe doelmatige skoolgebou, die Ebenhaezer Skool– met JW Zernike as argitek en R Gerhardt as boumeester. Die skool brei vinnig uit en verskeie personeellede word aangestel. Vir ’n periode verdeel die skool selfs in twee skole, ’n seunskool en ’n meisieskool, maar in dieselfde gebou, met net ’n seil afskorting tussen die twee. Net voor die Anglo-Boereoorlog smelt die skole weer saam. Die skool gee egter net onderrig tot Vorm I (Graad 8). Matriek was net aan die Staats Modelskool in Pretoria beskikbaar en verdere studie was slegs beskikbaar aan die Victoria Kollege in Stellenbosch, of in Europa.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 sluit die skole in die Zuid-Afrikaanse Republiek en gaan die meeste groter seuns saam op Kommando en die jongeres eindig in die konsentrasiekamp.
Die groot getal kinders in die Middelburg Konsentrasiekamp noodsaak gou ’n skool. ’n Skool vir basiese onderrig (lees en skryf) word in die kamp in Middelburg begin. Baie moeders weier egter om hul kinders na hierdie Engelse skool te stuur. Om kinders aan te moedig om skool te gaan, moet die wat nie skool gaan nie, die kamp skoonmaak. Die kampskool ontwikkel in ’n massiewe skool met 910 kinders teen April 1902, maar sluit na die Vredesluiting.
Na die Oorlog besluit die Transvaalse Koloniale Regering om Staatskole in Transvaal te vestig en word die sogenaamde Free Schools geopen, waar gratis onderrig gegee word. In Middelburg word die geboue van die Free School (ook genoem die South School) voltooi en op 28 September 1904 geopen. Dit was deel van die verengelsingbeleid van Lord Alfred Milner, die Goewerneur van die Transvaal, en dis waar die beweerde “Donkey” insidente voorgekom het as ’n kind Afrikaans (of Hollands) gepraat het. Alhoewel gratis, word die skole met weerstand deur baie Afrikaners ontvang.

Die skoolgebou se geboue sou later Middelburg Laerskool word
Die deel van die Afrikaner gemeenskap is egter nie geneë met die Engelse Free staatskool nie, en ds Alewyn Burger neem die leiding om weer ’n skoolkommissie te vorm. Die kommissie besluit om die ou Ebenhaezer skool te heropen as ’n Christelike Nasionale Onderwys (CNO) skool, onder beheer van die kommissie. Die Ebenhaezer Skool funksioneer nou as ’n CNO skool, naas die Middelburg Free School wat ’n staatskool was. Finansies is skaars na die Oorlog en die Kerk sukkel om die skool aan die gang te hou. Daar moet ondermeer bazaar gehou word om die onderwysers se salarisse te betaal.
Middelburg publieke skool
In Junie 1907 ontvang die Transvaal Kolonie selfbestuur van Brittanje en word die Smuts-onderwyswet aanvaar met ’n baie meer gematigde taal benadering as die van Milner. Die Onderwyswet van 1907 (Wet 25 van 1907), wat deur genl. Jan Smuts as koloniale Minister van Onderwys, ingevoer is, was ’n belangrike stap wat verpligte skoolonderrig, staatsbeheerde onderwys en ’n spesifieke taal kompromie ingestel het. Engels was steeds die primêre voertaal, maar elementêre onderrig kon in Nederlands (of moedertaal) begin word, waarna Engels sterk gepromoveer en later in hoër standerds die hoof voertaal geword het. Die wetgewing het tot gevolg gehad dat die CNO skole en die Free Schools in die Kolonie nou saamsmelt as staatskole.
In Januarie 1908 smelt ook al die skole in Middelburg saam, as die Middelburg Public School, hoofsaaklik op die terrein van die Free School. Hierdie staatskool funksioneer nou met mnr. PM van der Lingen as die hoof en mnr HF Clegg as die onderhoof en 10 onderwysers. Die saamgestelde skool is aanvanklik ’n Intermediêre skool, wat onderrig gee tot vermoedelik Vorm III (Graad 10-vlak). Graad 8 tot 10 het destyds as Vorm 1, 2 en 3 bekend gestaan.
’n Secondary School (basies graad 9-10) word skynbaar hierna gestig met mnr HF Clegg, ’n rou Engelsman, as die hoof.

’n Hoërskool word gestig
Op 10 April 1918 stig die Hoërskool af as aparte skool met 120 leerlinge. Die skool funksioneer aanvanklik in die ou Ebenhaezer skoolgebou. Die eerste hoof van die nuutgestigte skool was Carl August Winter met sewe onderwysers en 120 leerlinge. Die ruimte was beperk vir die aantal leerlinge en hulle moes vir sekere vakke, soos wetenskap, na die laerskool gebou stap. Vorm II en III (graad 9 en 10) en Trap I en Trap II (Matriek) word nou ingestel.
Alhoewel beweer word die Secondary School in die gebou van die latere Engelse Laerskool (tans die Future Achievers Academy) in Coetzeestraat (John Magagulastraat) gefunksioneer het, is dit onduidelik omrede hierdie gebou eers in 1925 opgerig is.
Die geboue is egter te klein en ’n doelmatige nuwe gebou word beplan.
Op 17 Maart 1920 word die hoeksteen van die nuwe hoërskool deur die Administrateur van Transvaal, AG. Robertson gelê. In Augustus 1921 is die skoolgebou, ontwerp deur die argitek Patrick Eagle, voltooi.

Die ruim gebou – aanvanklik in ’n U-vorm, beskik oor 14 klaskamers, twee laboratoriums, ’n biblioteek en kantoorruimte. Uit die foto’s lyk dit of die oostelike deel van die U eers na die opening voltooi is. Die skoolsaal is eers in 1929, tussen die Oos-en Wes sy vleuels aangebou en op 3 Oktober 1929 geopen. Die skoolsaal met sy ruim verhoog en galery word nie net ’n byeenkoms punt vir die skool nie, maar verskeie dorp aktiwiteite word hier aangebied, aangesien Middelburg nog nie ’n dorpsaal gehad het nie. Die kloktoring wat aanvanklik deel van die hoofgebou was, het waarskynlik tydens die aanbou van die skoolsaal in die slag gebly Hierdie skoolsaal, in die middel van die skool, is in 1952 ombou in ’n biblioteek en later as kunssentrum.



Carl August Winter (1881-1929), die eerste skoolhoof, was van Duitse afkoms – sy ouers was aanvanklik sendelinge en later ’n predikant paar van die NG Kerk. Hy word beskryf as ’n dinamiese persoon, met ’n sterk Christelike begronding, Hy word later die rektor van die Heidelberg Normaal Kollege.
Van die eerste Meesters voor die Tweede Wêreld Oorlog, sal lewenslange inwoners van Middelburg word en hul hele loopbaan by die Hoërskool skool hou.
- Dawie Brink gee Geskiedenis en word die volgende hoof;
- JP Malan gee Engels en is koshuisvader van Voorspoed koshuis;
- PP Moll gee Matesis (Wiskunde) en is betrokke by die kadette;
- HF Clegg gee Natuurwetenskap en word as baie geliefd beskryf;
- HJ (Zipp) Scholtz bied Afrikaans aan en woon in Voorspoed;
- Tobie Hoek, ’n unieke karakter;
- JTH Wenhold vir Matesis (Wiskunde) en bly sy totale loopbaan by die skool; en
- Otto Jensen gee Duits.

Vlnr: Mnre Scholtz; Dawie Brink; Malan; Wim Hoek; Cronje; Turner; Carl Winter (Hoof); Moll; Scheepers; mej van Gass; mnr Jensen; mej Munroe; mnre Cragie en Mc Kenzie

Staande: vlnr NM Doman; Cronje; JTH Wenhold; mej E Tipper; OJS Jensen; W McCargie; AV Turner
Sittend: WJZ Hoek; HJ Scholtz; mej G King; D Brink (Hoof); mej M Jordan; JP Malan; PP Moll (Foto: Laver Versameling – Rose Antrobus)


Koshuise
Vir die plaaskinders, in die dae voor skoolbusse, was ’n koshuis noodsaaklik.
In die Intermediêre Skool periode word die ou Excelda Weeshuis as seuns koshuis gebruik. Die gebou word later vir ’n periode ’n meisieskoshuis.

Die ou Middelburg Hotel in Walter Sisulustraat word deur die Skoolraad gehuur as seunskoshuis. Die ou hotel is reeds in die vroeë 1880’s gebou en was maar vervalle. Die winkel en stoor van RG White oorkant die straat word gehuur as ontspanningsaal en studiesaal vir die koshuis – toe reeds bekend as Voorspoed Koshuis. Ongeveer 80 seuns met drie onderwysers woon in die ou hotel.



In 1930 word ’n nuwe seunskoshuis op die terrein direk voor die skool gebou. Die terrein was aanvanklik die ashoop van die dorp! Die nuwe seunskoshuis het ’n unieke ontwerp van ses losstaande “huise” met ’n unieke sentrale eet en studiesaal-gebou. Die koshuis is ontwerp deur Gerhard Moerdyk, die argitek van onder meer die Voortrekker Monument en die ou Middelburg Hospitaal. Die koshuis word op 30 September 1930 geopen.


Daar word melding gemaak dat die koshuis te klein was en daar in 1949 gebruik gemaak is van ’n tydelike “hospitaal geboutjie” uit die Anglo-Boereoorlog. Dit was waarskynlik die geboue op die terrein van die Middelburg Hospitaal wat deur die Unie Verdedigingsmag opgerig is tydens die Tweede Wêreld Oorlog. Die oorspronklike bevelvoerders woning uit die Anglo-Boereoorlog, was tot 1938 die Middelburg Distrik Hospitaal en was aangrensend. Dit is moontlik ook gebruik, alhoewel rekords aandui dat dit as Verpleegsterstehuis gedien het.

Die Voorspoed koshuis word in 1956 verder vergroot
Die woning van JW Henwood in SADCstraat, The Oaks, word gehuur as koshuis vir dogters. Hierdie ruim dubbelverdieping woning dien vir baie jare as ’n skoolkoshuis, later ook vir die Hoër Tegniese Skool. Onder die golf van Afrikaner Nasionalisme word die naam gou verafrikaans na Die Eike of soms ook genoem Eikenhof.


Teen 1940 word ook ’n nuwe meisieskoshuis op die terrein van die skool gebou. Getrou aan die ou naam van Die Eike, word die nuwe koshuis nou Denne genoem in lyn met die dennebome op die nuwe terrein. Dit wil voorkom of daar tevore reeds ’n koshuis met die naam van die Denne bestaan het, aangesien ’n skoolraad berig uit 1927 aandui dat die Engelse Laerskool dogters in Die Denne geakkommodeer word en die Hoërskool dogters in Die Eike. Waar dié koshuis was in onbekend. Die Hoërskool se Dennekoshuis word op 8 Maart 1940 geopen. ’n Deel van die gebou is op 22 Maart 1940 in ’n brand verwoes. In 1956 word die Dennekoshuis verder vergroot.

In 1965 word die Excelda koshuis betrek, vernoem na die ou Weeshuis van Middelburg na die Anglo-Boereoorlog.
’n Paar unieke gebeurtenisse
- Op 31 Mei 1928 word die Unievlag amptelik in gebruik geneem. ’n Vlagstrykingseremonie en hys van die nuwe vlag vind voor die skoolgebou plaas en die skool se kadette is sigbaar op die foto’s van die geleentheid.


- Op 11 November 1937 weier al die Afrikaner seuns om die Sondag as deel van die kadette aan die Remembrance Day parade te gaan deelneem, tot groot konsternasie van Tobie Hoek. Die opwelling van Afrikaner Nasionalisme begin!
- Op 1 Desember 1938 verlaat al die Afrikaner senior seuns die skool vroeg om die Ossewaens van die Simboliese Ossewatrek te gaan inwag op die Stoffberg-pad, maar Dawie Brink knyp sy oë toe.
- In 1939 breek die Tweede Wêreld Oorlog uit. Verskeie seuns en onderwysers verlaat die skool om deel te neem aan die Oorlog en die dorp en onderwys verander dramaties! ’n Aantal oudleerlinge sneuwel.

- Op 8 Mei 1945 eindig die Tweede Wêreld Oorlog in Europa. Dawie Brink, die hoof, lei ’n dankdiens en die skool sluit vroeg. 9 Mei 1945 word tot ’n openbare vakansiedag verklaar.
- Op 18 Mei 1948 word ’n stel instrumente, uit die Oorlog, aan die kadetorkes van die skool oorhandig. Dit is die begin van baie jare se van-die-noot beuels en vals trompette wat skool optogte lei, maar ook ’n suksesvolle kadet-orkes wat kompetisies wen!
- Op 15 September 1950 sluit die skool vroeg vanweë die afsterwe van veldmaarskalk Jan Smuts, ’n unieke leier in die twee Wêreld Oorloë. ’n Roudiens word op Rooth Plein (later Van Blerk Plein) gehou.
Slotopmerkings
Die res van die skoolgeboue en fasiliteite is deur die jare ontwikkel en uitgebou tot die huidige prag kompleks.
Vanuit ’n wankelrige begin, en baie groeipyne het die skool ontwikkel tot een waarop die ou Meesters vandag baie trots sou wees. Van gruis sportvelde en ’n ou hotel as koshuis, tot op die ashoop van die dorp, vind ontwikkeling plaas.
Bibliografie beskikbaar van die outeurs.