Van die diamant dorpie, Cullinan, met ’n fiets tot by nog ’n toerisme juweel, Dullstroom.
Fietsryers pak op 11 en 12 September 2026 dié uitdaging aan, wat bekend staan as die Cullinan2Tonteldoos gruis- en bergfietswedren.
Dit is 250 kilometer op ongemerkte gruis- en grondpaaie met 3 200m se klim. ’n Roete wat twee provinsies deurkruis, in die Loskopdam-bosveld afdaal, weer deur die koue Mpumalanga-nag klim en op ’n hooglandplato bo 2 000m verder eindig.
Daar gaan van sonsondergang in die nag tot sonsopkoms getrap word.
Ongerepte natuurskoon, oop grondpaaie en ’n strawwe 20kilometer klim na die einde toe met moeë bene, maak die wedren ’n groot uitdaging.
Fietsryers het 24 uur om die wedren te voltooi, en die meeste fietsryers kan verwag om teen middernag klaar te maak. Die wedren is bekend vir sy uitmergelende terrein.
Die tweede helfte is waar die wedren sy karakter wys. Die hoogte styg. Die temperatuur daal.
Die pad word moeiliker. Die fietsryers wat te hard in die eerste 100km getrap het, begin daarvoor betaal in die donker êrens tussen Stoffberg en nêrens – wanneer die Steenkampsberg nog voorlê.
Registrasie: Verpligtend op 11 Vrydag September vanaf 14:00 by Railways Cafe Cullinan.
Wedrenkategorieë: Mans en vroue.
Slegs solo-inskrywings. Geen pare of spanne nie, maar jy mag saam met enigiemand ry.

Inligtingsessie:
Verpligtend op Vrydag 11 September 2026 16:00, Railways Cafe, Oak Avenue, Cullinan.
Die wedren eindig by Dunkeld Equestrian Estate op Dullstroom.
Begintyd: 17:00, 11 September 2026.
Roetekaarte: GPX en roetelêer sal een week voor die wedren gepubliseer en gestuur word.
Roetes is ongemerk daarom is navigasietoerusting nodig.
Afsnytye: Word bepaal.
Ondersteuning is toelaatbaar by De Villa Lodge en Stoffberg Silo’s
Waterpunte by:
Dirk’s Place Wilgerivier 77km waterpunt.
De Villa Oord 131km.
Weer op 150km.
Waterpunt vier Selonsrivier – 176km.
Waterpunt vyf oorkant Blinkwater Meule Stoffberg 208km.
Waterpunt op 236km.
Einde: Dunkeld Landgoed Dullstroom 250km.
Volg die wedren op sosiale media:
Facebook: @Race2Tonteldoos
Instagram: @Race2Tonteldoos.
Middelburg Fietsryklub se Sarel Esterhuizen het reeds vir die wedren ingeskryf.
Tonteldoos het sy naam waarskynlik gekry van die tontelbossie (Haplocarpha scaposa) wat volop in daardie wêreld gegroei het en waarvan die fluweelagtige, droë blare vir tonteldose gebruik is.
Volgens historiese inligting het Samuel Smit die naam reeds in Oktober 1883 aan sy perseel gegee. Die beharing aan die onderkant van die blare het maklik vlamgevat as dit droog is.
Volgens mondelinge oorlewering het ’n landmeter sy tonteldoos in die veld verloor, terwyl hy plase uitgemeet het en die naam kom van daar af.
