Anneli van Rooyen sing…
Meeue, oor die kaai.
En die deining wieg, soos die winde waai.
Lewens, vryverklaar.
As die vlerke sprei, en die tyd invaar.
Reise, onbeplan.
Onbewus, van die doel daarvan.
Kompas, in die hand.
En ’n vasteblik, op ’n verreland.
Seemeeu neem my saam.
Na waar jou reise, ook heen mag gaan.
Seemeeu neem my saam.
Daar waar ek vry kan asemhaal.
Daar waar die leweskanse draai.

Uys Krige dig…
Die Seemeeu
Tussen die wit huis
en die wit huis,
teen die wit wolk,
teen die grys berg
hoog bo die see
silwer en grys
silwer en grys
van golwe aaneen
tot die verste vaal
horisonne heen,
styg en daal,
styg en daal
die wit seemeeu
aaneen
alleen …
Wat sing die see?
Wat kla die wind?
Wat roep die meeu?
Wat snik die hart
aaneen
alleen?
Die see sing,
die wind kla,
die meeu roep,
die hart snik
tussen die wit huis
en die wit huis
op die helder dag
silwer en grys,
silwer en grys;
waarheen?
waarheen
aaneen
alleen, alleen, alleen?
By die Waterfront in Kaapstad is daar by restaurante bordjies aangebring: “Moenie die meeue voer nie”.
Jy sit nog een oomblik vir jou vissie in die bord en kyk, dan wil die meeue saam eet.
En deesdae is daar ’n groep meeue wat besoekers by die Alzu Petroport langs die N4 verwelkom.
Volgens Peter Cavanagh, wat bekend is vir sy briljante voëlfotografie, is dit gryskopmeeue.
Hulle het ’n harde, hees en raserige “karrh-karrh” of “kaw-kaw”-roep soortgelyk aan ’n kraai. Die raserige klomp is veral luidrugtig tydens sosiale interaksies en wanneer hulle dink daar is ’n peuselhappie om te gaps. Die gryskopmeeu (Chroicocephalus cirrocephalus) kom by seestrande en soms by binnelandse damme voor.
Daar is ’n dammetjie langs die petroport waar die wild water drink en die meeue skinder.
Hulle spandeer ook baie tyd in die parkeerarea, waar hulle smeek vir ’n stukkie afvalkos.
Die aanhoudende skril geroep van die meeue, skep ’n unieke atmosfeer by die kompleks, wat ook spog met volstruise, renosters, buffels (nie die agter die stuurwiel nie), swartwitpense, elande en gemsbokke.
Wanneer toeriste hulle karre volmaak kan hulle ook luister na die skril karrhhh, karrhh…
Krige kon ook seker gedig het…
Die Seemeeu
Tussen die petrolpomp
en die petrolpomp
Langs die N4
teen die wit wolk,
en die vaal Hoëveldse vlaktes
Is ’n gryskopmeeu…
…nie besig om te broei…
…maar vir ’n afvalhappie te stoei…
