
Puma, daardie stouterd wat nie wil lees nie, is terug!
Hy gee sy ma nog steeds nagmerries en verkies om eerder vis te vang, as skool by te woon.
Die mannetjie is vanjaar 21 jaar oud en het nog geen van sy streke laat staan nie.
Om die waarheid te sê, hy gaan Saterdag by Laerskool Staatspresident CR Swart se veldfees weer ’n handvol wees.
Sy ma, Franzette van Niekerk, sê sy kan nie wag om die klein vabond om 10:30 by Pienaardam aan die dorp se kinders voor te stel nie.
Leesprojek
Puma is die Middelburg Observer se leesprojek wat kinders sedert 2005 inspireer om te lees.
Hy het al vele avonture beleef, is bekroon by die Caxton-koerantprysuitdeling vir beste gemeenskapsprojek, het in Mhluzi opgetree en honderde ander vertonings gelewer.
Daar is intussen ’n lekker wikkellyf-liedjie vir Puma geskryf, wat Saterdag bekendgestel word.
Terwyl die grootmense veldfees hou, gaan Puma die kinders besig hou, met ’n halfuur toneelstuk van lag, trane en sommer net lekker pret.
Kaartjies vir die veldfees is R150 vir volwassenes en slegs R100 vir kinders en pensionarisse. Puma se vertoning is daarby ingesluit.