NewsSport

Laaste goue medalje is op pad

Laatlamdogter kry pa se spesiale toekenning na verowering van Sport Pienaarbeker 43 jaar gelede.

Kallie Grobler se goue medalje is op pad.
’n Medalje wat hy in 1983 verdien het, maar nooit die eer gehad het om persoonlik te ontvang nie.
Grobler is in Julie 2021 ná ’n hartaanval oorlede.
Dit is die laaste van die goue medaljes wat Suidoos-Transvaal se rugbyspan in 1983 ontvang het nadat hulle die Sport Pienaarbeker verower het.

Die medalje wat na 43 jaar na die Grobler familie op pad is. FOTO: Tobie van den Bergh

Ná die oorwinning het die Suid-Afrikaanse Rugbyraad vir elke speler ’n medalje laat maak, met sy naam daarop gegraveer. Elke medalje is in ’n netjiese groen kassie met die SA Rugby-logo geplaas.
Die destydse sekretaris van die Suidoos-Transvaal Rugbyunie, Julius Weber, het egter nooit die medaljes aan die spelers oorhandig nie. Wat sy beweegrede was, weet niemand.

Die span wat in die eindstryd teen Vaaldriehoek gespeel het, was Harry Muller, George Minnaar, Wimpie van der Westhuizen, Steve Meyer, Kallie Grobler, Gert la Grange, Klasie la Grange, Jorrie Jordaan, Hendry van Tonder (k), Terence Moll, Bertus van Eeden, Vleis van Zyl, Jan Loubser, Clive Schlachter en Theuns Rossouw.

“Jy kan dit vir die spelers uitdeel”

Jare later, tydens ’n rugbyreünie, het Weber die medaljes wat in ’n plastieksak was, aan my oorhandig. “Jy kan dit vir die spelers uitdeel,” het hy gesê.

Oor die volgende paar jaar is die medaljes met groot moeite by die spelers afgelewer.
In Maart vanjaar is een van die medaljes aan die haker Clive Schlachter in Kaapstad oorhandig.
Grobler het van 1979 tot 1989 altesaam 85 wedstryde vir die Gryses gespeel, 58 drieë gedruk en 238 punte aangeteken.
Sy broers Chris en Lood het ook vir Suidoos gespeel. Die broers Niklaas, Lood, Chris, Hennie, Hans en Kallie was legendes in Piet Retief.

Laaste medalje weggestuur

Toe die koerierdiens se deurtjie Saterdagoggend toeslaan, is die laaste goue medalje met ’n mengsel van hartseer en nostalgie weggestuur.
Veral omdat dit Kallie se medalje was.
Voorste driedrukker in Suid-Afrika.
’n Spesiale speler en spesiale mens.
’n Held op Middelburg.
’n Vriend.

Carli-Ann Grobler word die eienaar van haar pa, Kallie, se goue medalje. FOTO: Verskaf

Maar veral omdat dié medalje nou op pad is na sy laatlamdogter, Carli-Ann, wat na haar pa en ma, Annemarie, vernoem is.

Sy is gebore toe Kallie reeds 42 jaar oud was en lankal sy tokse opgehang het.
“Dit is ’n spesiale herinnering vir Carli-Ann, omdat sy nooit haar pa sien rugby speel het nie,” sê Annemarie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button