Geliefde ‘Charles van Spar’ se hel in hospitaal
Middelburg se geliefde ‘Charles van SPAR’, wat onlangs in die King Nyabela Hospitaal oorlede is, se familie het ernstige kommer oor sy versorging geopper en ’n amptelike klagte ingedien.
Wanneer die kat weg is, is die muis baas.
En wanneer die president weg is? Dán stroom die klagtes weer in oor die King Nyabela Hospitaal.
Familielede wat pasiënte in die hospitaal besoek het, sê daar was tot vier skoonmakers in ’n kamer voordat die president opgedaag het. Die hospitaal is blinkskoon gepoets vir die president se besoek. Paaie en sypaadjies is ook oorgeverf.
Alles maar weer ’n kleedrepetisie. Een van die families wat verbitterd is oor die behandeling wat hul geliefde ontvang het, is dié van “Charles van SPAR”. Charles van der Westhuizen (59) is in die hospitaal oorlede nadat sy bene in die Witbank Provinsiale Hospitaal geamputeer is weens aanhoudende infeksies.
Sy suster, Lucinda Meyer, sê die familie se bekommernis het toegeneem nadat hy drie keer na Witbank geneem is vir ’n operasie, maar telkens sonder om geopereer te word, na die King Nyabela Hospitaal teruggekeer het. Hy is uiteindelik geopereer en “sy stompies het mooi genees.”
Nadat hy na die King Nyabela Hospitaal teruggeplaas is, moes Charles ’n doek dra. “Die verpleegpersoneel het hom soms vir ure so laat lê, al het hy die klokkie gelui vir hulp. Later het hulle die klokkie weggevat, want hulle het gesê Charles pla hulle,” sê Meyer.
Op die dag van sy dood, 13 Augustus, het die familie tevergeefs probeer om ’n dokter hom te laat ondersoek nadat hulle agtergekom het iets skort. “Die dokter het gesê daar is niks fout met hom nie, hy het net depressie.” Charles het later deurmekaar gepraat en die familie het ’n suster gevra om vir hom suurstof te gee.
“Sy het geweier en op my geskree. Niemand wou help nie,” sê Meyer. Uit desperaatheid het hulle die hoof- uitvoerende beampte van die hospitaal in die hande gekry, wat onderneem het om hul klagtes op te volg. “Teen 18:30, het die hospitaal laat weet dat Charles oorlede is.”
Die verhaal van Charles van der Westhuizen is volgens sy familie ’n weerspieëling van die gehalte van verpleegsorg in die provinsiale hospitaal. ’n Nuwe gebou, maar dieselfde swak diens. Sedert die opening van King Nyabela was daar al talle gruverhale van families.
“Daar is vir ons gesê die bestuur weet nie wat in die sale aangaan nie,” sê Meyer. Die familie het ’n amptelike klagte ingedien en die hospitaalbestuur het onderneem om dit volledig te ondersoek.
Navrae is aan die Mpumalanga Departement van Gesondheid gestuur, maar teen publikasie was geen reaksie ontvang nie.
Min mense het geweet dat Charles se volle name eintlik Mattheus Charles van der Westhuizen was. Hy het 28 jaar lank by die SUPERSPAR Kanonkop gewerk en was bekend as “Charles van SPAR”.