News

Proefbuisbaba vandag 40 jaar oud

“Skielik het die waarheid deurgedring - dit is ons baba”.

Middelburg se eerste proefbuisbaba is vandag 40 jaar oud. Elsa Vermooten (40) is vandag self die ma van twee woelwaters. Joernalis Elsabe Hodgkinson het destyds die voorbladberig geskryf oor die geskiedkundige geleentheid onder die opskrif: “Vreugde in ’n proefbuis”.

In haar inleidingsparagraaf het sy geskryf: ”Op die televisieskerm wat die beeld van die mikroskoop weergee, was daar net ’n kringetjie te sien. ’n Sel wat verdeel het. Skielik het die waarheid deurgedring tot Elsie en Johannes Vermooten – dit is ons baba.”

Die koerant het berig “die Middelburgse moedertjie wat ons dorp se eerste proefbuisbaba verwag, het Dinsdagmiddag om 17:08 die lewe geskenk aan ’n pragtige dogter wat die skaal op ’n hele 3,36 kg trek!”
Sy is Elsa genoem, wat ’n familienaam was.

Die Vermooten-egpaar se hunkering na ’n eie kind was onvervuld. Na agt jaar was hulle steeds kinderloos.. Die soektog om hulp het hulle na die ’n vrugbaarheidsklinkiek by die destydse HF Verwoerd-hospitaal in Pretoria gelei.

Elsie wou aanvanklik nie instem tot die in vitro nie, beter bekend as proefbuisbevrugting, maar op 30-jarige ouderdom het sy met die proses begin. ”Die 10 dae-wagtyd om te hoor of ek swanger was, het soos ’n leeftyd gevoel en ek het besluit om maar solank Kersinkopies te gaan doen.”

Met haar tuiskoms het die telefoon gelui. Dit was Johannes: ”My vrou, jy is swanger”. ”Dit was my beste Kersgeskenk,” sê Elsie. Elsa is in die ou Moedersbond gebore. Professor Jan van der Merwe het die prosedure gedoen en dr Hester Kruger het haar gevang.

En Johannes? ”Hy het in die verkeer vasgesit!” Intussen is daar ook ’n seun, Joggie, gebore.
Die ervare Middelburgse ginekoloog, dr Deon van der Merwe, sê proefbuisbabas is vandag meer algemeen en die proses is meer gevorderd.

”Dit bly ’n duur manier om swanger te word, maar vir baie egpare is dit die enigste uitweg.”
Falcon de Vos was Suid-Afrika se eerste proefbuisbaba. Sy is op 29 April 1984 gebore en het 2,85 kg geweeg. Die eerste proefbuisbaba-mammas het elke jaar in Pretoria ’n reünie gehou.

Elsa is ’n oudhoofmeisie van Hoërskool Kanonkop wat deesdae in Johannesburg bly. Sy is getroud met Danie Nelson. Die egpaar het twee seuns, Daniël en Johannes Joachim of JJ.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button