Divan speel sy plek oop in Puma-span
Met vier drieë teen Gert Sibande móés keurders vir Divan Geyser raaksien.
Soms moet jy nie ’n deur oopskop nie; jy moet hom oop speel. Dit is presies wat Divan Geyser hierdie jaar gedoen het.
Die Middelburgse agterspeler het vanjaar soveel regmerkies agter sy naam gekry dat die keurders van die Puma Amateurspan eenvoudig nie anders kon as om hom te kies nie.

Geyser is gister in die span ingesluit wat drie wedstryde teen ander provinsies gaan speel.
Sy groot deurbraak het gekom tydens die Nkangala-streekwedstryd teen Gert Sibande, waar hy vier drieë gedruk het in ’n 45-33-oorwinning.
Met ’n pa soos Rudie is dit dalk geen wonder dat die jong Geyser die rugbywêreld aan die brand speel nie.
Rudie is deesdae by Hoërskool Kanonkop betrokke, maar het in die verlede as Cravenweek-spanbestuurder en Nkangala-spanbestuurder gedien. Hy was ook die man agter die Bulldogs-sewes en is al jare lank by Middelburg Rugbyklub betrokke.
Die Puma groep is
Duart Deichman, Reghardt Vermaak, George Groenewald, Steyl Barnard, Nick Nkosi, Franco de Lange, Mike Kriel, Visser Maas, Divan Janse van Rensburg, Odwa Nkunjana, Ryno de Lange, Johan Aspelling, Vincent Roos, Divan Geyser, Levy Leonard, Robin Majodina, Craig van Deventer, Lusando Mhlongo, Marius Slabbert, Delton Thusana, Liam Pringle, Stiaan du Rand, Jacques Larkins, Mynhardt Smith, Lefa Leshaba, Sibiya Ziyanda, Petrus Labuschagne, Louis Fourie.
- Die Pumas speel op 5 September teen die Limpopo Blou Bulle in Modimolle (Nylstroom), 12 September teen die Cheetahs in Witrivier en 19 September teen die Griffons in eMalahleni.
