Kaptein Stoney Steenkamp oorlede ná kankerstryd
’n Lewensviering vir die oorlede oud-speurtakhoof Stoney Steenkamp vind Donderdag in Bethal plaas.
’n Oud-speurtakbevelvoerder van Bethal, kapt. Stoney Steenkamp (80), is Maandag oorlede ná ’n stryd teen kanker.
Steenkamp is in Februarie vanjaar met fase vier pankreas- en lewerkanker gediagnoseer.
Daar was die afgelope week heelwat verwarring onder manne in blou oor watter Stoney Steenkamp ter sprake is. Dit is immers nie net een Steenkamp wat oor die jare in die polisie gedien het nie.
In 1977 was Steenkamp die stasiebevelvoerder op Middelburg, terwyl Faan Steenkamp ook in die sewentigerjare by die Blinkpan-polisiestasie gewerk het. Hy het later die rang van kolonel beklee. Boonop is daar nog ’n veel jonger kapt. Stoney Steenkamp.
Die Steenkamp wat Maandag oorlede is, het wel sy loopbaan as student by Blinkpan begin, maar het reeds 53 jaar lank in Bethal gewoon, waar hy later bevelvoerder van die speurtak geword het.

Sy seun, wat ook Stoney Steenkamp heet, is die bekende bevelvoerder van die veediefstaleenheid wat oor die jare reusewerk in die Middelburg-omgewing gedoen het om veediewe aan die pen te laat ry.
Hy is deesdae bevelvoerder van die Acornhoek-eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies en is in Hazyview gestasioneer. Hy is intussen ook tot kaptein bevorder.

Die lewensviering van die oud-Bethal-speurtakbevelvoerder vind Donderdag 3 September om 11:00 vanuit die NG Kerk Bethal-Oos plaas.
Hy laat sy vrou, Maxi, twee seuns, skoondogters en drie kleinkinders agter.
