Het die visse nie die boodskap gekry nie? Hulle byt net in die maande met ’n “r” in – met ander woorde van September tot April.
Daar word al jare lank geglo dat jy nie in die koue wintermaande hengel nie, want die vis is dan traag om te byt. Behalwe natuurlik spesie-hengelaars wat ure en selfs nagte wag dat ’n groot karp byt.

Die afgelope twee weke het die vis egter behoorlik geloop, al was dit nog Augustus – tradisioneel nie juis ’n groot hengelmaand nie.
Veral die swartbaars het lustig hoek gevat.
Die nuus het vinnig versprei en viskoors het hengelaars behoorlik beetgepak. Dit was nie net sosiale hengelaars wat goeie vangste gehad het nie, maar ook die nasionale hengelaars.

Tydens ’n kompetisie op Loskopdam tussen Zimbabwe en die SABAA (South African Bass Angling Association) President-span het ’n paar bielies gebyt.
Kayde Brown van die Inanda Swartbaarsklub en Morné du Plessis het die swaarste sak ingeweeg, met 13,1 kg. Suid-Afrika het die kompetisie gewen.
Ervare hengelaar Braam Lee sê daar word beslis meer swartbaars gevang as voorheen, maar dat die karp nog traag is om te byt.
Goeie karpvangste
Die R50-dam van Jan Steenkamp het goeie karpvangste opgelewer, “maar jy moet weet waar om te gooi. Jy moenie oor die vis gooi nie, want hulle is meer aan die kant.”
Hy sê hengelaars “hou daarvan om te jag” en vang daarom eerder swartbaars as om rustig langs die kant te sit en wag dat die karp of geelvis byt.
Een van die hengelaars wat wel daarin geslaag het om die karp te flous, was Protea-hengelaar Erika Venter, wat verlede naweek ’n vol net van 32 visse uit die Vaaldam getrek het.
Haar man, Petru, sê dit is eintlik ’n moeilike hengeltyd omdat die seisoen draai.

“Die swartbaar is op die neste en begin broei. Hulle vreet nie nou nie, maar as jy hulle op die nes gaan pla, kan hulle die hoek vat. Dit is die groot wyfies vol eiers wat nou gevang word.
“Maar soos hulle sê, jy moet net sorg dat die lyn in die water is.”
Lustig gebyt
Chris Nortman, wat al jare lank groot karp vang, sê die swartbaars het veral in die warmer gebiede soos Loskopdam en Rhenosterkop lustig gebyt.
“Daar was Saterdag ’n groepie hengelaars op Loskopdam wat 50 visse uitgetrek het en ons weet van ’n 6,4 kg-swartbaar wat gevang is.”
Hy is 100% reg dat die vis in die warmer gebiede aktief is. Vickus Smit het ’n groot swartbaar in die Olifantsrivier naby Groblersdal gevang.
Een van die sosiale hengelaars wat verras is deur die swartbaars se wispelturigheid, was Johan de Bruto. Hy en sy seun, Jannes, het verlede week van 11:00 tot 15:00 by Middelburgdam gehengel.

“Ons het heeldag niks gevang nie en toe skielik ontplof die vis uit die water. Toe hy uitspring, het ek besef waarmee ek te doen het. Die swartbaar het my goed besig gehou en ná sewe minute het ek hom aan sy bek gevat en vir klein Jannes gewys hoe ’n regte swartbaar lyk.”

Om die vis te weeg, het hy spesiaal ’n skaal gaan koop, wat sy vangs op 3,9 kg laat kreun het.
“Ons was altwee so opgewonde en gelukkig!”
Sosiale media het die afgelope week behoorlik ontplof met foto’s van groot vangste.
Genoeg rede om iets aan jou viskoors te doen … kry die lyne in die water!