News

“Julle is die lig van die wêreld”

Hoëveld Mighty Men se nuwe datum bevestig ná suksesvolle 2026-saamtrek

“Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie.”

Met hierdie Matteus 5:14-bybelvers as tema, gaan die 2027 Mighty Men-saamtrek aangebied word.
Die datum, 5-7 Maart 2027, is pas deur een van die organiseerders, Carel Schoultz, bevestig en dit is weer op ’n plaas net anderkant die Ultra City.

Daar was by vanjaar se saamtrek aangrypende oomblikke, soos toe mans gedoop is terwyl die reën uitgesak het.

Voor die Mighty Men-saamtrek is daar op die Gholfsig-koppie gebid.

Een van die sprekers, Pickard Henn, het later gesê: “Sterk manne, groot manne, leiers en vaders op hul knieë. Wenend. Bekering en oorgawe. Jy kon voel hoe die gewig optel. Jy kon voel hoe kettings breek. Daar is niks swak aan ’n man wat voor God buig nie.”

Van die mans is in die reën gedoop.
“Dit het gevoel asof die hemel die oomblik merk,” het hy ná die tyd gesê.
Henn het gepraat oor “die verborge dinge wat ’n man stadig van binne na buite doodmaak”.

“Die verslawings wat ons regverdig. Die kompromieë wat ons wegsteek. Die stil gevegte wat ons wandel met God, ons huwelike en ons kinders meer beïnvloed as wat ons besef.”

Gesinne word herstel

Hy het gesê iets gebeur onder mense. “Daar is ’n honger. Daar is ’n roering. Daar is ’n oproep terug na reinheid, integriteit en geestelike gesag. Wanneer mans regmaak met God, word gesinne herstel.

Wanneer vaders berou toon, verskuif geslagte. Wanneer leiers hulself verootmoedig, begin herlewing.”

Ná ’n gebedsessie verlede jaar, het hy gevoel “die heilige gees druk op sy hart” om ’n verskil te maak.
Die Mighty Men-saamtrek is interkerklik en die sprekers se name sal later bevestig word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button