Leuens, alles leuens, “want mense soek aandag”
Tragedies uitgebuit deur fopnuuswebwerwe, veral op Facebook
Fopnuusblaaie of -webwerwe word al hoe meer geskep om mense te lok om op skakels te klik (dikwels met die teks “details in kommentaar”) om sodoende webverkeer of advertensiegeld te genereer. Soms misbruik hierdie blaaie ou, werklike tragedies soos die verdrinking van Jannie du Plessis se babaseuntjie in 2021 en koppel dit aan ander bekende name soos Morné Steyn om aandag te trek.

Dit is veral groot tragedies wat geteiken word, maar daar is ook verbeeldingsvlugte wat as die waarheid aangebied word.

- Na die Groblersdal-boerseun, Willem Kruger, se dood by Henbase Lodge, is daar ’n stortvloed leuens versprei. Dit het vir maande voortgeduur.
- Ernst (71) en Dina Marais (73) se moord op 20 Mei 2026 by Crooks Corner in die Krugerwildtuin is gewetenloos op sosiale misbruik om lesers te lok. ’n Berig is aangebied wat beweer het dat die moordenaar die egpaar se seun is, terwyl hulle kinderloos was.
- ’n Bekende rugbyadministrateur het op sy WhatsApp-groep ’n berig geplaas, ondersteun deur foto’s, dat die oud-All Black-kaptein, Richie McCaw, “in ’n vliegongeluk dood is”. Hy het die plasing vinnig verwyder toe dit bekend geword het dit was ’n infame leuen.
- Nadat die liggame van die 17-jarige Cameron Waldeck-Cooks en die 19-jarige Ethan Coetzee op Maandag, 3 Augustus 2026, by ’n gastehuis buite Sabie gekry is, was daar leuen op leuen.
- Verlede week was daar ’n berig op Facebook oor die oud-Springbok Morné Steyn se seun “wat aan ’n hartaanval gesterf het tydens ’n rugbyoefening”. Die plasing het beweer dat sy 13-jarige seun, “Caden Sorrell”, dood is. Morné en sy vrou, Christelle, se drie seuns het ander name. Die plasing is aangebied met detail en ’n foto wat dit geloofwaardig laat lyk het.

Maar waarom soveel moeite doen om ’n leuen te versprei?
Dr. André Gouws, senior lektor in Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia, sê dit gaan oor aandag soek en erkenning.

“Die algoritmes op sosiale media beloon mense deur likes. Daar is mense wat op ’n manier voel dat hulle aandag kry as hulle meer likes kry of as hul plasings op Facebook soos ‘n veldbrand versprei. Dus skep hulle bisarre onwaarhede en voel amper asof hulle beloon word daarvoor omdat hul plasings baie aandag kry.”
Hy sê dit is hartseer dat sommige mense so ’n groot behoefte aan waardering van ander het dat hulle sulke dinge doen.
“Dis ’n groter sielkundige probleem. Miskien is mense eensaam of voel hulle kry nie erkenning op ander plekke nie.” Volgens hom is Facebook ook skuldig, omdat Facebook se algoritmes sulke gedrag beloon.
“Natuurlik is daar ook vir sommige wat dit gereeld doen finansiële voordele op kanale soos YouTube, waar hulle geld maak uit die advertensies op hul video’s. Maar op Facebook dink ek dit gaan meestal oor aandag soek.”

Pastoor Danie de Kock van die Corpus Christi-gemeente in Aerorand, sê die vraag het baie tentakels.
“Eerstens, mag dit persepsie wees. Sommige mense se persepsie (hulle oortuiging van ’n saak ) is so verwronge, maar dis wat hulle glo. Saam met persepsie loop stories (lees: skinder) dikwels hand aan hand. Mense doen nie moeite om die volle storie te hoor nie.”
Hy sê tweedens sal die wortel van leuens identiteit wees.
“Dit bly die groot gevaar van sosiale media. Ons wil ’n beeld skep van onsself. Dikwels is die beeld/storie ver verwyder van die waarheid. Die meeste mense speel vir die gehoor, dus bly ons onder druk om die beeld te bly poets. Die waarheid raak dan baie verwronge.”
“Laastens word ons gebombardeer met inligting en mense het dikwels net nie die filters, emosionele intelligensie of common sense om te onderskei wat die waarheid is nie. Ons eet alles vir soetkoek op.”