Williejay en Zyliejay laat waai terwyl die Ou Toppies mekaar nog soek
Middelburg se beroemde musiekpaar tokkel nog die snare en laat die voete jeuk.
Hulle stap aan na 80, maar Middelburg se beroemde musiekgroep het nog nie ’n snars van hulle humorsin verloor nie.
“Ons staan bekend as die Ou Toppies twee. Daar is blykbaar ook ’n Ou Toppies een in Soekmekaar, maar hulle soek mekaar nog,” spot Willie Jonker (78) en Zylie Joubert (75).
Die groep bestaan uit Williejay (Willie Jonker) en Zyliejay (Zylie Joubert) en maak musiek onder die naam van Willejay&Zyliejay. Maar moenie die twee “Ou Toppies” op hulle baadjie takseer nie.
Hulle musiekagtergrond skop jy nie by elke orkes uit nie.
Willie se ma was ’n gekwalifiseerde musiekonderwyseres en orreliste, sy pa ’n tenoorsanger en sy suster ook ’n orreliste. Sy broer, Jans Jonker, het ’n BMus-graad verwerf en was regisseur van die Alabama Studentegeselskap. Hy is ook ’n bekwame orrelis.
Williejay sing en speel kitaar en stel sy eie CD bekend. Hy maak ook CD’s saam met die Langbeenspinnekoppe en wyle Henk Ferreira.
Hy was regisseur van die Goudstadse Onderwyskollege se revuegroep, bestuurder van die Oos-Randse Jeugsimfonieorkes en Oos-Randse Jeugkoor. Zyliejay kom ook uit ’n musikale familie. Sy pa en oupa het verskillende klawer- en snaarinstrumente met konsertina as hoofinstrument gespeel.
Hy het op die ouderdom van drie jaar op gehoor klavier begin speel. Ander klawerinstrumente, soos die konsertina, het gevolg.
Zylie het gedurende sy laerskooljare onderrig om musiek te kan lees ontvang en het grade een en twee suksesvol voltooi. Daarna het hy op gehoor gespeel en bladmusiek net indien dit nodig was gebruik.




As hoërskoolleerling het hy by troues, vierings, skoolkonserte en geleenthede waar musiek nodig was opgetree. Hy het na skool by besigheidsfunksies, onthale, geleenthede vir stadsrade, burgermeesteronthale, jaareindfunksies, en by restaurante en konferensies opgtree. Hy het ook orreldemonstrasies by handelaars gedoen, en ook ’n CD met Europese musiek gesny, wat hyself bemark het.
Die twee het al by ’n legio geleenthede opgetree met onder andere skoolfunksies, troues, vierings, kerkbasaars en promosies.
Hulle optredes laat hulle in kontak kom met ander konsertinakonings Chris Viljoen, oudskoolhoof van Hoërskool Middelburg en Hendrik Smal, ook ‘n saksefoonspeler van formaat. Die twee tree op as gaskunstenaars vir Bobby van Jaarsveld tydens die Middelburg Dorp van die Jaar-vierings en by die musiek- en verskeidenheidskonsert “Muzique & Liruque” by NG Middelburg Suid met dertien kunstenaars gedurende 2017.
Williejay en Zyliejay skuur skouer met Gert van Tonder van die Groep Twee-faam wat as musiekregisseur saam met uitgesoekte kunstenaars konserte vir fondsinsamelingsprojekte by skole, kerke en sportklubs doen. Met Gert se inisiatief word ’n aanbieding gedoen met die naam “Van Toeka Tot Nou”. Die tema van die aanbieding was “Die ontwikkeling van Afrikaanse musiek van die begin van die eeu tot nou”. Die eerste konsert was by die Goudstadse Onderwyskollege en die oorspronklike kunstenaars van die musiek is as eregaste genooi.
Hierdie konsert word na die Klein Karoo Kunstefees (KKNK) geneem gedurende 1995. Bekende musikante en kunstenaars soos Francois van Heiningen, Lucille Ackerman, Jurie Ferreira, Caron van Schalkwyk, Eugene Pienaar, Dulcie van den Berg en Martin Jansen was deel van die projek.
Gedurende 2010 wen hulle die eerste plek in ’n kompetisie met ’n bootvaart as prys. Die beoordelaars was professionele musikante Miemie Coertze, Theo Erasmus, Lieb Bester. Die ATKV-toekenning is op die boot oorhandiging tydens die vaart vanaf Kaapstad na Durban.
Die twee “Ou Toppies” is nog baie aktief en beoefen steeds hulle vaardighede met ’n verskeidenheid van genres. Van sestigs, country, Afrikaans, Europese en kontinentaal, Latyns-Amerikaans en rock.
“Ons weet hoe om mense met musiek besig te hou.”
