Dames van Middelburg dinamies in pienk
Pienk was die kleur van die dag toe personeel van ’n plaaslike finansiële onderneming op 23 Oktober hul steun aan borskankerbewustheid gewys het.
Die dames het vir Wear It Pink Day pienk aangetrek om hulde te bring aan kankeroorlewendes, dié te onthou wat die stryd verloor het, en ondersteuning te wys vir die vroue wat tans vir hul lewe veg.
Vroeë diagnose is belangrik
Amanda Bodenstein het vertel waarom hierdie gebaar egter besonders na aan haar hart lê.
“Jare terug, toe ek nog op skool was, is my ouma aan borskanker oorlede. In daardie jare was die tegnologie nie so goed soos vandag nie, en hulle het dit heeltemal te laat opgetel.”
“Dit was my eerste kennismaking met die dood as gevolg van kanker,” vertel Bodenstein.
Hoewel dié ervaring haar bygebly het, het sy eers later werklik besef hoe diep borskanker ’n vrou en haar geliefdes kan raak.
Dit het veral duidelik geword toe ’n vriendin met borskanker gediagnoseer is en ’n mastektomie moes ondergaan.
“Toe ek die seer in haar oë sien, die gevoel van vrouwees wat weggeneem word, het dit my regtig diep getref,” sê sy.
Die ervaring het Bodenstein aangespoor om meer oor borskanker te leer en bewus te raak van die maniere waarop gemeenskappe steun kan verleen.
“Van daar af het ek meer oor borskanker gaan lees en gesien dat daar ’n spesifieke dag opsygesit is sodat ons as gemeenskap saam met mense kan staan wat tans borskanker het, en hand aan hand die siekte kan beveg.”
Bewustheid kan lewens red
Volgens die jongste beskikbare syfers van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kankerregister (2024) is borskanker die algemeenste kanker onder ons land se vroue, met ’n leeftydrisiko van ongeveer een uit elke 28 vroue.
Hoewel borskanker meestal met vroue verbind word, kan mans dit óók kry.
Dit is daarom belangrik dat vroue bewus bly van veranderinge in hul borste en ongewone knoppe, of veranderinge betyds deur ’n gesondheidswerker laat ondersoek.
Die personeel se pienk inisiatief was ’n herinnering dat daar agter elke kankerdiagnose ’n mens, ’n gesin en ’n verhaal skuil.
Aan dié wat in onsekerheid leef is dit ń herhinnering dat niemand ń stryd alleen hoef te veg nie.
